Wolbesoedeling wek kommer
JAN-LOUIS VENTER, raadgewer by die NWKV in Bloemfontein, het met interessante navorsing oor wolbesoedeling en foute in die plaaslike skeersel vorendag gekom.
Enige ernstige Merinoboer weet die besoedeling van wol het ’n groot finansiële impak op die hele wolverwerkingsketting. Dit is veral vreemde vesels van baaltou en polipropileensakke wat ’n probleem is. Baaltou en polipropileensakke maak fyn stringe wat soms nie sigbaar is met die blote oog nie.
Daardie “vesels” beland dan in die verwerkingsproses, maar omdat dit nie natuurlike vesel is nie, kan dit nie gekleur word nie. Sodra die materiaal gekleur word, wys daardie vesels dan duidelik. In daardie stadium is dit dan baie moeilik om te verwyder en die materiaal is onbruikbaar.
Hoewel daardie soort besoedeling skynbaar afneem – dalk omdat skuldige boere beboet kan word – is daar nou ’n kommerwekkende toename in swart haar in die skeersel, sê Jan-Louis. Afgesien van skape wat die swart wol in hul vag dra, word wol ook besmet deur honde wat in die wolbakke slaap. Swart wolbesmetting kan ook weens onoordeelkundige kruisteling plaasvind. Verwerkers wil nie swart wol hê nie, veral nie as hulle die materiaal in pastelkleure kleur nie.
Die persentasie voorkoms van steekhaar in die wol het ook die afgelope drie seisoene merkbaar toegeneem. Die hoofoorsaak van dié toename is weens onoordeelkundige kruisteling met steekhaardraende rasse, veral vir vetlamproduksie. Die wol van ooie wat met steekhaardraende rasse gekruis word, moet afsonderlik bemark word en daar moet aangedui word dat steekhaar in die skeersel voorkom.
Die lam dra ook steekhaar en die ram is nie alleen verantwoordelik vir die besmetting nie. Indien daardie wol vermeng word met wol van ooie waarmee suiwerteling gedoen is en steekhaar word in die skeersel gevind, word die hele lot as steekhaar beskou. Die boer sal dus baie verloor as hy nie die kruisteelooie se wol afsonderlik bemark nie, waarsku Jan-Louis.
Dit is belangrik om ooie wat met steekhaar besmet is en steekhaardraende ramme later te skeer om steekhaar in die skeerhuis te keer. Steekhaar kan ook nie gekleur word nie en die verwerkte materiaal sal dus nie egalig kleur nie. Sulke materiaal sal dus ’n baie laer waarde hê.
Suiwer Merinowol is deesdae ’n gesogte, luukse produk wat buitelandse geld inbring – boere kan nie bekostig om laks te raak oor skeerhuisbestuur nie.
WOL-‘BOOM’-STAALTJIE
In hierdie tye waarin Suid-Afrikaners swaar onder finansiële druk gepaardgaan, raak ’n paar vriende om ’n Nampo-braaivleisvuur nou die aand nostalgies oor die goeie ou dae van die wol-“boom”.
“Ja, swaer,” sug die een Karooboer, “dit was die dae toe ’n boer met een jaar se woltjek ’n plaas kon bykoop.” Of drie kinders sonder skuld verder kon laat leer.
Maar alles was ook darem nie net maanskyn en rose nie, onthou ’n ander een. Hy vertel van die boer van Brandvlei wat met sy nuutgevonde rykdom besluit het om vir ’n slag ’n grênd kar te koop.
Die verteller onthou dit was ’n Mercedes, ’n convertible , of só iets. Toe moet die Brandvleiers se afgevaardigdes met dié luisterryke voertuig die pad na die jaarlikse wolkongres aanpak.
Die sitplekke is vir die groot geleentheid met bensien skoongemaak. En, ja, hulle was glo skaars 30 km uit Brandvlei toe die tragedie tref.
Een van die afgevaardigdes het ’n sigaret aangesteek en daar slaan die sitplek ook skielik aan die brand.
Hy dink dit was so teen 60 km per uur, onthou die verteller. Brieke is aangeslaan, die insittendes het uitgepeul en hulle moes toekyk hoe die blink Mercedes uitbrand. Die volle waarheid kan Manie nie waarborg nie, maar dat dit ’n goeie storie is, waar of nie, ly nie twyfel nie.
TEEN ALLES
’n Mens kry mos maar altyd mense wat teen alles gekant is bloot om iets te hê om oor debat te voer.
Só is opposisiepartylede dáár om die regerende party op sy tone te hou en alle foute, korrupsie en swakhede aan die kaak te stel. Tog sal dit jammer wees as dit op die ou end net oor politieke punte gaan en die groter belang vergeet word.
In die komiteevergaderings waartydens die kwessie oor hoenderinvoer bespreek is, was daar glo sekere DA-politici wat álle voorstelle van die ANC wou teenstaan. Dit laat boere en verwerkers voel dat dié politici eerder aan invoerders se kant is en nie die land se beste belang op die hart dra nie.
Manie se spioen vertel mnr. Chris Schutte, grootbaas van Astral (een van die grootste hoenderprodusente in die land), was teleurgesteld oor die verloop van sake.
Binne die multidissiplinêre taakspan wat die Regering aangestel het om oplossings te vind, is daar sekere groepe wat Chris meen doen goeie werk, veral “rooi” Rob Davies se amptenare.
Chris is glo dankbaar dat die ANC iets goeds probeer doen en die hoenderbedryf wil help.
‘VERVALDATUM’ VAN OBP-HOOF VERSTRYK
Dit is nie net dat dr. Steven Cornelius, uitvoerende hoof van Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP), se kontrak verstryk het nie; hy het ook aftreeouderdom bereik. Dít is die rede wat mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, aan die Parlement se portefeuljekomitee gegee het oor waarom die OBP nou ’n waarnemende uitvoerende hoof het.
’n Heelwat jonger dr. Jacob Modumo, die hoof van sake-ontwikkeling by die OBP, neem nou as uitvoerende hoof waar.
Die laaste paar jaar van Cornelius se termyn was gekenmerk deur beskuldigings van leuens oor die beskikbaarheid van entstowwe. Die situasie het verlede jaar só versleg dat mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die departement, dit duidelik gemaak het dat hy en sy span self sal gaan kyk of entstowwe beskikbaar is wanneer die OBP so aandui.
Die OBP het destyds bekend gemaak dat die vervaardiging van die entstof vir bloutong en ook vir perdesiekte, drie-dae-stywesiekte, brucellose en slenkdalkoors onderbreek moes word weens die verbetering van geboue. Verspreidingsprobleme het later ook ontstaan toe die OBP sy ooreenkoms met Bayer (sy verspreidingsagent) beëindig het en dit self begin doen het.
Nerpo, die organisasie vir opkomende rooivleisprodusente, het verlede jaar ’n sterk bewoorde brief met aanbevelings aan Zokwana gestuur waarin gevra is dat ’n meer energieke uitvoerende hoof aangestel moet word sodat die vervaardiger op ’n herstelpad geplaas kan word.
BOEMELAAR SE WENS
’n Boemelaar val flou voor ’n Nando’s-franchise en ’n vrou roep uit: “Gee hom ’n lemoen, dit sal hom beter laat voel!”
Hy antwoord: “Is jy laf, dan sou ek mos voor Fruit&Veg flou geval het!”