MAAK REG VIR DROË TOEKOMS
KUNDIGES het verlede week by twee afsonderlike hoëvlak-vergaderings boere in die Wes-Kaap gemaan om nou al planne te beraam vir drastiese klimaatsverandering.
Die provinsie se damme staan ná twee agtereenvolgende winters van ondergemiddelde reën op 21,1%. Landboudroogtes is reeds in Kannaland en Oudtshoorn in die Eden-distriksmunisipaliteit en Witzenberg in die Wynlanddistrik verklaar. Die verklaring van George, ook in Eden, word nog verwerk.
Me. Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, het op ’n waterindaba op Rawsonville aangekondig sy het ’n amptelike aansoek ingedien om die Groter Kaapstad tot rampgebied te laat verklaar, en gesê beurtwater kan ingestel word as Kapenaars nie hul watergebruikspatrone verander nie.
Kommersiële boere in die WesKaap dra 21% tot nasionale landbouproduksie by, en 45% van die land se landbou-uitvoer, maar boere is sedert begin Maart onderhewig aan ’n 30% inkorting van hul besproeiingswater.
Koringboere het die afgelope seisoen 200 000 ton koring weens die droogte verloor en daar word gevrees dat tot 2 000 seisoenswerkers sonder werk gaan sit.
BEGIN NOU
In sy voorlegging het dr. Joel Botai van die Suid-Afrikaanse Weerdiens gesê die verwagting is dat die provinsie teen die 2030’s tot 2040’s baie droër sal word. Maatreëls om dié probleem by te lê, moet dadelik aangepak word.
Hy het ook gesê huidige voorspellings vir die provinsie – bonormale reënval, maar hoër temperature – is nie betroubaar nie.
Mnr. Darryl Jacobs, direkteurgeneraal vir landbou in die provinsie, het gesê die waterkrisis het ’n enorme impak op die landbou, maar hy meen bewaringslandbou en slim landboupraktyke sal boere deur die krisis help. Die provinsiale departement van landbou het meer as R80 miljoen se droogtehulp beskikbaar gestel.
Grondwatervlakke in die provinsie is ook te laag dat die Departement van Water en Sanitasie se plan om amper 7 500 boorgate landwyd “in werking te stel” ’n volhoubare oplossing bied. Grondwatervlakke in die provinsie het die afgelope twee jaar gedaal; die skerpste dalings is in Beaufort-Wes, Kaapstad, die Kaapse Wynstreek, die Boland en die Weskus aangeteken.
Me. Nomvula Mokonyane, Minister vir Water en Sanitasie, het gesê weens die dalende grondwatervlakke sal waterperke ook oorweeg moet word vir diegene wat uitsluitlik van grondwater afhanklik is.
Die Wes-Kaapse rampbestuursentrum sal met die Departement van Water en Sanitasie saamwerk sodat geohidroloë munisipaliteite kan adviseer oor waar om nuwe boorgate te sink en hoe om dié bronne volhoubaar te benut.
Daar is nagenoeg 30 000 produksieboorgate in die land, maar baie is buite werking.
INGRYPINGS
Die oes van reënwater, die herwinning van gebruikte water, die ontsouting van seewater, beter instandhouding van infrastruktuur
en die verandering van mense se gedragspatrone is van die maatreëls wat op kort tot lang termyn oorweeg word om die waterkrisis te versag.
By die indaba is genoem dat die Voëlvleidam, waarheen oortollige water uit die Bergrivierdam gepomp word, gereed gekry word om die waternood te verlig.
Planne vir ontsoutingsaanlegte by Koeberg en naby Atlantis is al “ver gevorder”. Daar word ook beoog om afvalwater van die Zandvliet-watersuiweringsaanleg te behandel en in die waterstelsel terug te pomp. Haalbaarheidstudies vir ontsoutingsaanlegte is reeds in Julie 2012 onderneem. Die provinsie oorweeg ook die onttrekking van grondwater in die sandsteenformasie van die Tafelberg-groep.
LANG TERMYN
Op ’n ander werksessie van klimaatwetenskaplikes in Kaapstad het prof. Francois Engelbrecht, langtermyn-klimaatmodelleerder by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), gesê die landbousektor sal versigtig na die projeksies moet kyk en tyd maak vir multidekade-beplanning om voorsiening te maak vir ál droër en warmer toestande. Die provinsie is van die gevoeligste vir klimaatsverandering in die land.
“Ons kan reeds in die weerdata sien dat hierdie veranderings besig is om te gebeur en ons modelle projekteer dat die tempo waarteen die veranderings plaasvind, gaan toeneem.”
Veral wyn- en koringboere sal klimaatsveranderinge fyn moet dophou. In die lig van die drastiese temperatuurstygings is daar boere wat reeds besig is om aan te pas deur wingerde na hoër dele op plase te skuif.
Hy raai boere in die wynbedryf aan om baie versigtig te kyk na die helling, die hoogte bo seevlak en die grondsoort.
Hy het gesê daar was in die 1980’s ’n stewige koringbedryf in die Oos-Kaap, maar weens onder meer klimaatsfaktore het boere na sigorei of vleisbeeste oorgeskakel.
–