PRIVATE SEKTOR ‘MOET’ (EN WÍL) VOORTOU NEEM
HOE meer transformasieprojekte die private sektor vrywillig op sy eie kan aanpak, hoe groter sal die druk op die Regering word om hul manier van doen te aanvaar.
Só het mnr. Pierre Venter van die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) op een van twee Nasie in Gesprek-sessies op die Nampo-Oesdag oor grondkwessies gesê.
Sprekers was dit eens dat grondhervorming nodig is en verskeie het benadruk begunstigdes moet titelaktes vir grond kry.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, het gesê die grondbedeling van 1994 het deur politieke inmenging tot stand gekom en nie deur markkragte nie. Laasgenoemde sal dus nie transformasie laat gebeur nie.
Venter gesê banke is bekommerd oor politieke uitsprake dat grond sonder vergoeding onteien gaan word. Hy het gesê R145 miljard se banklenings is ter sprake, waarvan R112 miljard by kommersiële banke is en die balans by die Land Bank.
Sowat R48 miljard van die totaal is langtermynleners.
“As daar ’n skok vir die finansiële stelsel is, soos onteiening sonder vergoeding, gaan Suid-Afrika Ingelyf (Incorporated) die groot verloorder wees,” het Venter gesê.
WAGENWAG
Banke en die kommersiële landbou wag al sedert Desember 2015 dat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming antwoord hoe hy as vennoot betrokke gaan raak by 30 voorgestelde transformasieprojekte ter waarde van R300 miljoen. Möller het gesê vennootskappe tussen swart en wit boere moet vir minstens die volgende dekade die beginpunt wees sodat grondhervorming ’n ekonomies haalbare proses kan word.
Mnr. Philé van Zyl van ZZ2 het gesê landbouprojekte het ’n lang tydsduur en vir vennootskappe met opkomende boere moet tot 20 jaar toegelaat word.
Hy meen ’n vennootskap in ’n eenvoudige bedryf het ’n groter kans op sukses – soos die geval met ’n projek wat ZZ2 in die wildbedryf aangepak het.
Venter het gesê die sektor het talle onsekerhede en gesprekke is nodig om dit op te los en begrip te kweek vir hoe die sektor werk.
Mnr. Mpumelelo Mkhabela, voormalige redakteur van die dagblad Sowetan en nou van Ntambose Konsult, het gesê daar behoort eintlik ’n soort Kodesa oor grond te wees.
Hy het gesê dit is nie grond wat dreigemente oor onteiening sonder vergoeding aandryf nie, maar die omvang van armoede, ongelykheid en toenemende werkloosheid. “Ons moet die ekonomiese kwessies oplos en op ’n gedeelde manier groei. Ons weet almal wat in Zimbabwe gebeur het.”