Veeverliese wetenskaplik deur NMMU bekyk
Veeverliese weens roofdiere in Suid-Afrika lei na raming tot skade van meer as R1 miljard per jaar. Dit het ingewikkelde maatskaplike, ekonomiese en ekologiese gevolge.
Die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) ontleed tans veeverliese weens roofdiere in Suid-Afrika deur die sentrum vir bewaringse kologie in Afrika. Ongeveer R2,5 miljoen is vir die ondersoek beskikbaar gestel. Die proses, bekend as PredSA, het verlede Mei begin en dit sal na verwagting 18 tot 24 maande duur om te voltooi. Die Departement van Omgewingsake, die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, Cape Wools en Sybokhaar SA is vennote van die universiteit in dié ondersoek.
MAATREËLS
Roofdierbestuur het voorheen klem gelê op maniere om die probleemdier uit ’n spesifieke gebied te verwyder – ’n situasie wat tans voortduur. Nuwe navorsing toon egter dat nie alle roofdiere probleemdiere is nie.
Territoriale, individuele diere kan as ’n katalisator optree om potensiële probleemdiere weg te hou. Die openbare mening teen dodelike maatreëls het toegeneem, terwyl nuwe insig verkry is in die ekologiese uitwerking van sulke maatreëls.
Gevolglik is daar ’n verskuiwing van pogings om roofdiere uit te roei na nie-dodelike metodes om veeverliese te verminder, asook in die benadering om slegs individuele probleemdiere te verwyder. Dié maatreëls, die doeltreffendheid daarvan en neigings in die toepassing daarvan word ontleed en in ’n beleidsraamwerk vervat.
BELEID
Plaaslike gemeenskappe, wildbewaarders, ekotoeriste en boere het botsende belange. Verskillende morele verpligtings kan tot konflik lei, soos mense se verpligtinge teenoor mekaar en teenoor ander spesies of die omgewing as ’n geheel tot botsings lei.
Dit is ’n groot dilemma vir beleidmakers. In sulke gevalle is dit die beste om al die etiese verpligtinge en die mededingende belange sorgvuldig te balanseer en met benaderings vorendag te kom wat die beste uitkomste vir al die betrokke belanghebbendes het. Dié oogmerk kan egter nie bereik word as die mees tersaaklike inligting nie beskikbaar is nie. As die beleidmakers al die betrokke inligting en standpunte tot hul beskikking het, sal hulle die beste beleid kan vasstel.
PredSA gee ook aan mense met botsende standpunte oor die bestuur van roofdiere die geleentheid om kennis te neem van alternatiewe perspektiewe en die breër implikasies van bestuursben aderings te verstaan.
VEE-AANVALLE
Vee word breedweg gedefinieer as huishoudelike diere en wild (eersgenoemde sluit pluimvee uit en laasgenoemde sluit volstruise in) wat bestuur word vir kommersiële doeleindes of menslike belang in vrylopende toestande. Dié toestande maak hulle kwesbaar vir roofdiere.
Die konflik tussen veeboere en roofdiere en die pogings om dit te bestuur, is al eeue lank deel van Suid-Afrikaanse boere se bestaan. Die belangrikste gevolge daarvan is die uitwissing van die meeste van die toproofdiere in Suid-Afrika.
Rooijakkalse (Canis mesomelas) en rooikatte (Caracal caracal) is die belangrikste roofdiere van vee in die land. Daarom laat PredSA veral die kollig val op die spesifieke biologiese en ekologiese aspekte van dié twee wildsoorte. ’n Magdom ander diere word ook by veeverliese in Suid-Afrika betrek, waaronder leeus (Panthera leo), luiperds (Panthera pardus), jagluiperds (Acinonyx jubatus), die Kaapse vos (Vulpes chama), wildehonde (Lycaon pictus), rondloperhonde (Canis lupus familiaris), witkwasjakkalse (Canis adustus), gevlekte hiënas (Crocuta crocuta), strandjutte (Hyaena brunnea), tierboskatte (Leptailurus serval), bobbejane (Papio ursinus), ratels (Mellivora capensis), bosvarke (Potamochoerus larvatus), krokodille (Crocodylus niloticus) en talle roofvoëls.
Die erns van die betrokke diere as probleemdiere sal geëvalueer word. Die ekologie en gedragspatrone van die belangrikste roofdiere sal onder oë geneem word en daar sal bepaal word hoe dit die wisselwerking met vee beïnvloed.
PredSA sal ook bepaal watter faktore ’n rol in veeverliese weens roofdiere speel.