Landbouweekblad

Nonna en die hansvul

In die Hardeveld naby Soebatsfon­tein het ant Dina en oom Koos op hul plaas, VaalKliphe­uwel, geboer. Hulle was bekend as Nonna en VaalKoos. Oom Corneels van der Westhuizen en sy vrou, Hettie, het hoër in die berge geboer, maar ná ploegtyd het hulle afgetre

-

Corneels en Nonna het altyd met mekaar gekorswil, maar soms was Nonna geniepsig met haar tong. Corneels was ’n platjie en het Nonna se siel uitgetrek, want sy was kort van draad en kon knope gee, tot groot vermaak van almal. Nonna was ’n groot, sterk vrou. Sy was parmantig en het haar deur niemand laat voorsê nie. Ou Koos was weer ’n klein, verpiepte mannetjie en al wat groot was aan hom, was sy tamaai wyerandhoe­d wat oor sy twee bakore gesit het. Hy het bitter min aan die geselskap deelgeneem omdat hy baie doof was en altyd deur Nonna oordonder is.

Een nag tydens die oestyd het dit ’n bietjie gereën en die oggend het Nonna-hulle die perde ingespan om Kamieskroo­n toe te ry en die nodige te kry. Die gewoonte was om met die terugkom by Corneels en Hettie oor te slaap. Toe hulle die bergpasse begin klim, het Koos met homself begin praat: “Kyk, hier het dit sterker gereën; glad slangsleep­seltjies gemaak.” Bietjie later: “Hier’t die water sommer sterk afgeloop; kyk die kolle-kolle water wat hier staan.”

Toe hulle die Grootvleip­as uitry, los hy ’n kragwoord en kyk na Nonna. “Dit kan ek verdomp nie verstaan nie. Ons probeer mos nes ou Corneels ’n eerlike lewe lei, maar by ons het die reën vannag skaars hoenderdou­spoor gemaak. Hier bo is die wêreld afgewas!” Nonna skud haar kop. “Dit kan ek sowaar ook nie verstaan nie.”

Toe hulle op Grootvlei se werf stilhou, staan Corneels op die stoep. Nonna maak die leisels los en vanaf die kar begin sy uit te vaar. “Corneels, hoekom is die lewe so onregverdi­g? Hier na julle toe het ons groot waterlope gekry, maar onder by ons het die kar skaars vemôre douspoor getrap. Ek en Koos het ook ’n paar mud koring gesaai en ek het self agter die ploeg se stert gestap, maar dit lyk my nie ons sal vanjaar ’n inkele sekelslag slaan nie. En julle se grane staan broekbandh­oogte, geelryp en vol in die aar.”

Corneels bring die skepel nader om Nonna van die kar af te help. “Ai, niggie, ek kan dit mos nie verhelp nie. Ek het mos nie die wêreld gemaak nie.”

Nonna vat Corneels se hand vas en kyk hom in die oë. “Ou neef, die Here’tjie kan mos vir my die kans gee om net vir een jaar ons plase om te ruil, dan sal jy erger murmureer as die Israeliete in die woestyn.”

Corneels lag en gee vir Nonna ’n stekie. “Nee, Nonna, moet maar nie ruil nie, jy slaap darem te laat. Ons lees mos in die Groot Boek oor die uitdeel van talente – ’n sekere slaaf het tien muntstukke gekry om mee te woeker en die laaste net een.” Nonna ruk haar op en gee vir Corneels ’n vuil kyk. “Wil jy te kenne gee ek is ’n slegte boer?!”

Toe hulle die agtermidda­g vanaf Kamieskroo­n terugkom, span hulle uit en gaan sit op die stoep. Corneels en Nonna gesels land en sand, terwyl Koos kort-kort ’n uiltjie knip. Nonna vertel vir Corneels dat hulle in die dorp gehoor het dat genl. J.B.M. Hertzog oorlede is. Corneels is verbaas oor die slegte nuus en saam besing hulle die goeie hoedanighe­de van dié groot staatsman.

Later sien Nonna ’n eselvullet­jie aankom, wat ewe kordaat by die voorhekkie kom staan en na hulle loer. “Corneels, en watse armsalige eselvul is dit die?”

Corneels skud sy kop en staan op om die vul te verwilder. “Dis ’n verdomde vul wat die kinders hans grootgemaa­k het. Nou sit ek met die pes.” Die vulletjie het ’n entjie weggedraf. Hy draai om en maak die hekkie met sy bek oop. Hy kom staan onder die stoep, gooi sy ore vorentoe en agtertoe en hou hulle met groot oë dop.

“Sien jy, niggie, hy’s ’n bedorwe ding wat alles oopmaak. Só vreet hy voor die voet alles wat voorkom. Hettie is al so kwaad, want hy verniel haar plantgoedj­ies en loop haar hoendernes­te ook na.”

Nonna se groot lyf skud soos sy lag. Corneels vat sy kierie en mik na die vul. “Niggie, wil jy nie die vuiles hê nie, want op ’n dag sal ek nog my humeur verloor. Nou die oggend het hy my pakkamer oopgemaak en ’n paar van my knapsakke waarin ek broodkorin­g bêre, stukkend gevreet.”

“Ek sal hom vat, Corneels, want ek sal gou sy geite uit hom neuk. Jy sal nog sien hoe hy gaan ploegtrek, want Nonna sal self agter hom stap en sy agterwêrel­d warm klop.”

Die aand toe Hettie die kos opdra, gaan sit hulle in die voorhuis. Corneels kyk na Koos, want hy wil die seën vra, maar Koos kyk na pres. Paul Kruger se foto teen die muur. Corneels was al ’n entjie weg met sy gebed, toe Koos kliphard uit die bloute aankondig: “Corneels, ek het vandag in die dorp gehoor ou Hertzog is ook laasweek dood.” Die kinders proes agter hul hande toe Nonna vir Koos in sy ribbes pomp en wys om sy hoed af te haal.

Die volgende oggend toe Koos-hulle inspan, is die vul met ’n riem om sy nek agter die kar vasgemaak om saam te draf. Hulle het gegroet en Nonna het die leisels losgemaak, maar die vul het verseg om saam te loop. Sy pote het deur die nat grond geploeg en Corneels se seuns, Neels en Kassie, moes hom optel en agter op die kar vasmaak.

Neels vryf oor sy donsige koppie en sê saggies vir Nonna: “Antie, sy naam is Doorsie en Antie moet hom net ’n stukkie brood gee as hy langs die pad te moeilik raak.”

‘Sy naam is Doorsie en Antie moet hom net ’n stukkie brood gee as hy moeilik raak.’

Toe hulle Grootvlei se werf uitry, het Doors soos ’n kind kermgeluid­e agter op die kar gemaak. “Toemaar, moenie so hartseer wees nie, Ounooi sal jou by die huis lekker bederf.”

’N NUWE WERF

Toe hulle die agtermidda­g op VaalKliphe­uwel uitspan, loop Doors ’n draai op die werf en kom staan voor die kombuisdeu­r, waar hy ’n groot bol mis los. Nonna loer oor die onderdeur en steek vir Doors ’n preek af: “Kyk hier, ou vulletjie, jy’s nie nou op Grootvlei se werf waar hulle jou gat jeuk gemaak het nie. Hier sal jy fluks op jou hel kry. Nonna speel nie met ’n bedorwe ding nie. Hier sal ek jou gou maniere leer.”

Sy draai om en gaan haal ’n dik sny brood. “Vat hier, helsem, en as jy klaar gevreet het, loop jy veld toe. Hier sal jy wragtag nie heeldag my siel versondig nie.”

Die aand sit Koos die vul saam met die ander grofgoed in die kraal, maar jaag hom gou uit toe hy sien hulle knou hom af.

Die volgende agtermidda­g toe Nonna haar hoenders gaan kos gee, stap Doors soos ’n hondjie agter haar aan, want hy ruik die dopkoring in haar voorskoot. Toe sy die kos strooi, is Doors tussen die hoenders en vreet saam. Kort-kort hap hy na die naaste hoender. Nonna se hoenders is kroonwild en sy vererg haar gruwelik. Sy gaan haal die karwats agter die kombuisdeu­r en pyl bakarm op Doors af.

“Nou sal jou gat brand!” en sy slaat met al haar krag. Doors spring betyds weg, maar die voorslag krul ongelukkig om die nek van Spikkels, haar hoenderhaa­n. Spikkels skop en spartel en Nonna verslap haar greep. Toe sy weer sien, hol Spikkels met ’n lang streep stof stalle toe met die steel van die karwats wat op die grond piets.

Uitasem en rooi in die gesig vee Nonna met haar voorskoot die sweet uit haar gesig. Moedeloos kyk sy na Doors wat nog koring soek en na elke hoender naby hom hap.

“Jou vloeksteen, jy soek vir Nonna! Jy kan maar weghol, maar op ’n dag sal ek jou innie hanne kry en dan sal ek jou goed op jou swernoot gee!” Eenkant staan ou Koos by die bakoond en sy lyf skud soos hy lag. “Maak jý die oond vuur! Voor ek nog vir jou ook met die karwats bykom!” snou sy hom toe.

Koos leun op die krapyster, maar steur hom nie aan sy vrou se woede nie. Nonna krap die kole uit en voel die hitte van die oond met die rugkant van haar hand. Sy knik vir Koos om die panne te bring.

Later gooi Nonna die hooggerysd­e panne deeg met die oondskop in die oond en Koos maak die deksel met klei dig. Doors kry gou die bekende geur van varsgebakt­e brood en staan hoë-koppie net buite trefafstan­d. Kort voor sononder dra Koos die bruingebak­te brood binnetoe en pak dit op die voorhuis se tafel. Nonna breek die brood, loer vir Doors en brom: “Jy soek vir Nonna . . . oppas vir die dag wanneer ons twee afreken.”

Die aand maak Nonna die voorhuis se onderdeur toe en hulle gaan kamer toe. Koos trek uit en sit sy gebreide slaapmus op sy kaal kop. Nonna gooi haar lang, wit nagrok, wat soos ’n drieman-tent lyk, oor haar kop. Sy kam haar dik bolla uit en hang haar lang, swart kouse oor die bed se styl.

Aan die anderkant van die ysterkatel lê Koos op sy rug in sy lang wit onderbroek. Sy skrik toe sy skielik snorkgelui­de agter haar hoor. Sy mond gaan soos ’n velblaasba­lk oop-en-toe, terwyl sy snor se lang punte open-af beweeg. Sy glimlag tevrede en blaas die lantern dood. Deur die venster sien sy die dowwe lig van die halfmaan wat besig is om onder te gaan. Nonna lig haar kop, want buite hoor sy vir Boel knor. Later draai sy om en dommel weg.

GROOT MOLES

Buite dwaal Doors rond op soek na die vars brood. Toe hy nie die oond se deksel oopkry nie, stap hy na die voordeur en hier kry hy die reuk waarna hy soek. Gelukkig is die bodeur oop. Hy buig sy nek oor die onderdeur en soek met sy lang lippe na die bekende werwel . . .

Nonna skrik wakker toe sy ’n geluid in die voorhuis hoor. Sy sit regop en haar ore is op elke vreemde geluid ingestel. Sy gooi die komberse van haar af toe sy iets binne hoor val. Stadig druk sy die deur oop en tuur in die donker voorhuis. Iewers hoor sy ’n asemhaling en ’n benoude gevoel pak haar beet. Haar hart klop in haar keel toe sy sien die voordeur staan oop en die helder sterre loer daardeur. Voetjie-vir-voetjie loop sy vorentoe en haar oë sukkel om aan die donkerte gewoond te raak. Kort-kort gaan staan sy stil om te luister, maar sy’s so verboueree­rd dat sy ook nie meer seker is van die asemhaling nie.

Nonna roep Boontoe toe sy oor ’n harige ding op die vloer struikel. Met haar groot lyf probeer sy vinnig opspring, maar onder haar nagrok woel en spook die ding om uit te kom. Sy voel na die ding wat met sy nat bek tussen haar bene vroetel.

Sy gryp na sy kop en skree benoud: “Koos, kom help my! Die bleddie vul is in die huis!”

Sy vat sy ore vas, maar gil toe hy haar in die binneboud begin byt. “Kooos!” skree sy benoud. “Kom skop die vuilgoed vrek!”

Koos skrik wakker en hoor die lawaai iewers in die huis. In die donkerte probeer hy vir Nonna soek. “Waar’s jy?!” roep hy half deur die slaap.

“In die voorhuis! Dis die vul! Hy byt my! Soek ’n neukding of skop die vuilgoed vrek!”

“Nonna, dis pikdonker!” roep Koos ontsteld uit. “Ek kan jou glad nie sien nie!”

Koos hoor Nonna gil. Daar’s ’n dowwe beweging ’n entjie voor hom en met sy regtervoet haak hy af en skop so hard as hy kan. Toe sy voet die sagte teiken tref, besef hy dis nie die vul nie.

Nonna vloek toe Koos se voet haar onder die sitvlak tref. Sy val amper uit haar nagrok uit, onder die tafel in. Doors spook benoud om uit te kom.

Gelukkig skeur die nagrok om haar middel af en die vul se oë kry die deur. Met die stuk rok oor sy kop hol Doors die donkerte in. Koos steek die lantern op en toe hy vir Nonna byna kaal op haar rug sien lê, kners hy op sy tande om nie te lag nie. Haar groot borste lê soos twee ryp spanspekke weerskante van haar.

Koos buk om die kreunende Nonna op te help. “Los my!” snou sy hom toe. Sy draai op haar knieë om en haar hare hang lang toutjies langs haar gesig af. Sy is rooi in die gesig. Haar asem jaag soos ’n verwoede bul wat gereed maak om te storm.

“Ek . . . ek is jammer, Nonna, ek het nie gemeen om jou raak te skop nie. Ek kon jou rêrig nie sien nie.”

Nonna se oë blits na Koos wat verwese net in sy onderbroek staan. Sy gluur hom aan en sê bitsig: “Steek jou jammer in jou gat!”

Terwyl sy opsukkel, sê sy bars: “Sorg jy dat die vuilgoed nie weer naby die werf kom nie, want as ek hom innie hanne kry, maak ek hom wragtag vrek!”

Die volgende môre hang ’n stuk van Nonna se nagrok naby die stal aan die hakiesdraa­d, maar Doors is skoonveld.

Corneels het die storie van Doors met ’n ompad gehoor en vir Nonna ingewag. Toe hulle op ’n dag weer op Grootvlei kom uitspan, vra hy ewe ongeërg: “Nonna, trek die hansvul al ploeg?”

Nonna ruk haar op. “Kyk, Corneels van der Westhuizen, gaan vlie met vul en al in jou moer!”

Gert Sarrisam is Gert Engelbrech­t wat op die plaas Sarrisam buite Garies boer. Talle boeke en kontreisto­ries uit sy pen het al die lig gesien. Stuur epos aan sarrisam@ telkomsa.net om ’n boek te bestel.

Met die stuk rok oor sy kop hol Doors die donkerte in.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa