Toets, teken aan en teel suksesvol
Neem faktore, soos rasstandaarde, noukeurige aantekeninge en siektes, in ag as jy suksesvol met buffels wil boer.
Enige buffelboer het ’n dollarbeskermingsmeganisme op sy belegging. Hy sal normaalweg sowat $10 000 (ongeveer R136 300) vir ’n goeie trofee kry. Wanneer hy egter ’n duur belegging vir uitsonderlike teelmateriaal maak, is daar ’n paar dinge wat gereed moet wees om sy belegging te verseker. Die topboere sal hulleself in ’n soort Stamboek moet saamvoeg om dit reg te kry.
Indien hulle daardie pad volg, sal hulle na die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye toe moet skuif omdat die Departement van Omgewingsake nie in dié opsig administratief kan help nie.
BIOSEKERHEID
Die belangrikste gevaar vir die buffelboer is die inbring van siektes in sy kudde. Dit kan op verskeie maniere plaasvind. Die aankoop van nuwe teelmateriaal sonder dat die nodige diagnostiese toetse gedoen is. Vektore (draers) van siektes, soos insekte, voëls, bobbejane en roofdiere. Meganiese draers van siektes, soos vervoertoerusting en werkers. Bure wat nie aan siektebestrydingskemas deelneem nie. Ingesmokkelde diere wat nie aan die nodige diagnostiese toetse onderwerp is nie. ’n Streng siektebestuurprotokol moet vir elke eiendom opgestel en toegepas word. As voorbeeld kan genoem word dat daar ’n lys van siektes moet wees waarvoor diere getoets moet word voor die nuwe dier op die terrein toegelaat word.
Dié siektes kan van jaar tot jaar verander en moet met die noue samewerking van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gedoen word. Die plaaslike staatsveeartse kan help met die identifisering van die nodige toetse.
As ’n manier om die verspreiding van siektes te keer, behoort wildveilings ’n sterstatusgradering te kry op grond van die toetse vir siektes wat op die diere uitgevoer word.
Eiendomme met buffels daarop moet ook deelneem aan ’n databasis wat siektes monitor. Indien die teler jaarliks sy siektes by die plaaslike staatsveearts aanmeld, kan hy ’n sertifisering status kry wat voornemende kopers kan aanvra indien hulle diere van die eiendom wil aankoop.
VEILIGE BEMARKING S PLATFORM
’n Konvensionele wildveiling wat deur verskeie verkopers ondersteun word, is in werklikheid ’n vergaderpunt van siektes. Veronderstel tien verkopers se diere word op ’n sentrale punt in veilinghokke byeengebring en na 30 nuwe eienaars versprei. Teoreties gesproke kan een siek dier dan 30 plase besmet.
Tans het boere begin om in ’n streek saam te werk en veilings gesamentlik aan te bied. Onlangs het brucellose by skape (Brucella
melitensis) na swartwitpense versprei. Indien swartwitpense nie getoets word nie, kan dit katastrofiese gevolge vir die bedryf inhou.
Die veiligste manier is dat elke plaas se diere voor ’n veiling in hul eie wildhokke aangehou word. Die verkope kan elders plaasvind en duidelike foto’s van die diere kan met rekenaartegnologie aan kopers gewys word.
SKEP VAN ’N TELERSVERENIGING MET ’N DATABASIS
’n Databasis met diere se individuele aantekeninge is belangrik om die oorsprong van uitsonderlike teelmateriaal te kan naspeur. Hierdie proses is ’n duur onderneming om te vestig en bestaande kennis van die veebedryf kan nuttig aangewend word. Die vraag kan gevra word hoekom SA Stamboek nie so ’n funksie kan verrig nie.
Dit is baie belangrik dat buffels se DNS en siektestatus aangeteken moet word.
Die volgende inligting moet in so ’n kalfdatabasis aangeteken word:
Geboortedatum: Dit is belangrik om die dier se akkurate ouderdom te bepaal. Ouerskapbepaling kan gedoen en met DNS bevestig word. Daarmee kan die aanvang van wanneer verse geslagsryp raak, asook koeie se tussen kalf periode, makliker bepaal word.
Geslag: Met die aantekening van geslag kan geslag verhoudings bepaal word, asook bul- en koeilyne. Die onderskeie oordraagbare eienskappe van bulle en koeie kan gevolglik geïdentifiseer word.
Geboortegewig: Hierdie eienskap is nie altyd moontlik om in veldtoestande vas te stel nie en aggressiewe koeie kan hul kalwers in die proses beseer. In 1978 het mnr. Clem Coetsee in Zimbabwe buffelkalwers in die nag met die hand van voertuie af gevang. Hulle het die koeie, wat in bomas was, met sterk kopligte verblind. Hulle het 51 kalwers gevang teen ’n gemiddelde vangtempo van 8 minute per kalf.
SAMESTELLING VAN RASSTANDAARDE
Die vraag kan gevra word hoe die ideale buffel op grond van sy anatomiese kenmerke moet lyk. Bulle met kort bene sal byvoorbeeld groter koeie moeiliker dek. Wat is die ideale skouerhoogte vir ’n buffelbul? Wat is die ideale verhouding van die lengte van sy lyf tot sy skouerhoogte? Koeie met ’n hangkruis en sitbene wat wyd uitmekaar geplaas is, sal makliker kalf.
Wetenskaplike studies is ook gedoen waar skouerhoogte ’n rol gespeel het in die ontwikkeling van horings by vroulike diere. Diere met ’n groter skouerhoogte staan meer uit en is gevolglik meer sigbaar vir roofdiere. Dus moet hulle op hul horing ontwikkeling staatmaak vir verdediging.
’n Boer beskou horinglengte as ’n belangrike eienskap, maar hoe meet hy sy jong bulle se standaard? ’n Vorm van rasstandaarde moet dus opgestel word om eenvormigheid te skep. Die meting van die ideale horinggroei van ’n voornemende jong bul kan byvoorbeeld met die data van die tabel vergelyk word om sy potensiaal reeds op ’n vroeë ouderdom te bepaal.
STANDAARDISERING EN SERTIFISERING VAN METINGS
Dit is baie maklik om ’n bul se horings te meet, maar watter waarborg het kopers voor die tyd dat dit die werklike horinglengte is? Onafhanklike persone, soos ’n veearts of ’n jagter, moet’ n amptelike kursus doen waarvolgens hy“sertifisering s magte” kry om sulke sertifikate te kan uitreik.
VREKTES
’n Siekterisiko-ontleding is belangrik sodat boere die siektes waaraan hul buffels blootgestel kan word, verstaan en weet hoe om dit te bestuur. Natuurlike vrektes, soos weens slangbyt of weerlig, is seldsaam en sal minder as 0,1% van die bevolking per jaar uitmaak. Vergiftiging weens plante sal net plaasvind waar buffels in gebiede hervestig word waar hulle nie die plante, soos gifblaar (Dichape
talum cymosum), ken nie. ’n Eenvoudige situasie kan egter daartoe aanleiding gee dat die boer in ’n kort tydjie groot verliese kan ly. As sy bure met beeste boer, moet hy homself vergewis dat sy bure jaarliks hul diere vir twee belangrike aanmeldbare siektes, soos tuberkulose en brucellose, toets. Die siektes kan byvoorbeeld oor goeie heinings gedra word deur meganiese draers. ’n Bobbejaan kan byvoorbeeld met ’n besmette nageboorte speel, oor ’n doeltreffende wildwerende heining klim en ’n voedsel- of waterbron met Brucella-organismes besmet. Inentings programme kan noodsaaklik wees om jaarliks die siektestatus van die buffelkuddes te beskerm. In gebiede waar miltsiekte endemies is, moet buffels byvoorbeeld ingeënt word om vrektes te voorkom. Waar boere intensief met buffels boer of die diere in kwarantyn aangehou word, moet werkers getoets word om te verseker dat hulle nie tuberkulose onder lede het nie.
Die teler moenie paranoïes wees oor siektes nie, maar hy moet ook nie aan die slaap gevang word nie, want dit kan tot reuse finansiële verliese lei.