Laat elke druppel tel
Deur indringerplante te verwyder, noukeuriger te meet en ’n paar praktiese planne in die boorde te maak, kon mnr. Christi van den Heever, ’n vrugteboer van Wolseley, sy besproeiing verminder tot ver onder die bedryf se gemiddelde.
Sy kindertyd in Namakwaland het mnr. Christi van den Heever vertroud gemaak met droogte, en hom ook ’n diep respek gegee vir hoe kosbaar water is.
Dít dryf dié oorhoofse bestuurder van die Romansrivier-boerdery, deel van die Graaff Fruit-groep, om soveel water as moontlik op te vang en elke druppel te rek op sy vrugteplaas naby Wolseley. Só kon hy dit regkry om besproeiing te verminder tot minder as 5 000 m³/ha, teenoor die bedryfsgemiddelde van sowat 7 000 m³/ha. Toe hy in die knellende droogte net 3 500 m³/ha beskikbaar gehad het, het hy dit ook máák werk.
“Die omgewing se mense het altyd gesê ons dam van 1 miljoen m³ kan nie leeg raak nie, maar in die 2015-seisoen het ons net 223 mm reën gekry en die dam was 24% vol. Ons moes planne maak om net die oes groot te maak,” vertel Christi. Langtermyn-aantekeninge toon hulle kry gewoonlik gemiddeld 400-500 mm reën per jaar.
Die Wêreldnatuurfonds (WWF) het ook sowat drie jaar gelede boere in die gebied genader om deel te raak van hul waterprogram. Christi het die geleentheid aangegryp.
Aan die een kant maak hy meer water beskikbaar deur indringerplantegroei teen die berghange te verwyder. Aan die ander kant sorg hy dat waterdoeltreffendheid verhoog deur tegnologie, monitering en goeie boerderybestuurspraktyke.
Daar word 67 ha vroeë pere, 49 ha nektariens, 16 ha perskes en 16 ha pruime op die plaas verbou.
“Die plaas is uniek in die opsig dat dit teen die hange van die Mostertshoekberge geleë is. Ons is afhanklik van afloopwater
uit die berg om ons damme vol te maak. Ons water begin as sneeu in die berge. Die Tafelberg-sandsteen tree amper soos ’n spons op wat die water opsuig en deur die jaar vrystel,” verduidelik hy.
ROEI INDRINGERS UIT
Christi het besef hulle kan ’n groot verskil op die steil, klipperige terrein maak as hulle die dorstige indringerplantegroei verwyder.
“Bloekoms, naaldbos (hakea), wattels, swarthoute en Port Jacksons neem in die berg oor en steel ons water. Ons werk nou saam met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye om die berg skoon te maak. Ek betaal die werkers en vir onkruiddoder. Ons begroot sowat R100 000 per jaar daarvoor, maar dis die moeite werd.”
Die gewraakte plantegroei maak nou plek vir Kaapse fynbos, soos besembos, wabome, tolletjiesbos en renosterbossie, om te gedy.
Die toename in inheemse plante keer dat indringers weer die oorhand kry. Fynbos gebruik minder water as die indringerplantegroei, wat beteken meer water kan in die dam beland. “As die berg skoon is en ons het ’n goeie winter, kry ons afloopwater tot in Desember. Die indringers kan maklik beteken dat die water ’n maand vroeër ophou loop. Die groter prentjie is dat die afloopwater die riviere moet voed, en as ons nie die indringerplante keer nie, verloor ons die water,” sê hy.
“Ons is al sewe jaar daarmee besig en het al 430 ha skoongemaak.”
As deel van die voogdyskap-projek is die grond ook saam met CapeNature eenkant gesit as ’n natuurreservaat. CapeNature het ’n voorgeskrewe bestuursplan wat grondeienaars moet volg.
Die volgende stap, vertel Christi, is om biokoolstof te maak. Daarvoor gaan hy ’n suurstofvrye, mobiele oond aanskaf. Die indringers sal in die berg verbrand en in sakke gepak word en dan op die bankies gestrooi word.
“Die biokoolstof is poreus en daarom hou dit baie water vas. Dit help boonop dat die grond vinniger warm raak in die lente sodat die bome makliker groei.”
HART VAN DIE PLAAS
Die reusedam, 12 ha groot en 20 m diep, is in 1999 voltooi en is die hart van die plaas.
“Sonder water kan ’n mens niks doen nie en ons het besef ons reënval raak minder. In die 2015-seisoen is ons veral hard getref,” vertel hy oor die besonder droë jaar waarin die dam nie eens ’n kwart van sy water gehad het nie. Boonop het die vorige eienaar ’n derde van die dam se waterreg behou toe die plaas verkoop is, wat Christi-hulle met net sowat 168 000 m³ gelaat het om ’n oes mee voor te berei.
Hulle het nog drie boorgate geboor, maar moes bontstaan om planne te maak met die min water. Op die ou end kon hulle darem “die begroting diens” met die oes, hoewel die vrugte kleiner was.
“Dié gebied se bome dra baie vroeg, maar weens die suidoostewind kon niemand voorheen hier met steenvrugte (vir uitvoer) boer nie. Ons het in 2006 nektariens onder nette geplant vir beskerming teen die wind. Dis die eerste plaas in die Breëriviervallei wat vroeë steenvrugte vir die uitvoermark lewer. Die vroeë drag het ons baie gehelp, want gewoonlik besproei ons van Oktober tot April, maar daardie jaar kon ons net in oestyd, wat die koeler maande was, besproei. As ons oes later was, in Januarie of Februarie, sou ons nooit die paal gehaal het nie.”
Christi het ook stelsels gereed gemaak om waterverbruik te meet. Die eerste stap was om ’n 315 mm-watermeter aan te bring om te meet hoeveel water in die dam gepomp word (uit die boorgate) en hoeveel gebruik word. Sowat 60% van die plaas se water word met gravitasiekrag uit die dam benut.
“Nou kan ek bewys ons het daardie jaar net 3 529 m³/ha water toegedien. Ons het
‘Tegnologie kan nie vir jou boer nie. ’n Boer se voete in die boord is steeds die belangrikste.’
baie somme gemaak oor hoeveel water jy nodig het. Ek kan nou sê dit was te min om te voldoen aan die boom se groeibehoefte, maar genoeg dat die boom kan oorleef.”
Christi meen 4 800-5 000 m³/ha is ’n meer geskikte vlak. Die minder water het beteken hulle moes lootlengtes inboet. Die lote het net so lank soos ’n snoeiskêr gegroei, wat die vrugposisionering op die lote moeilik gemaak het. Uiteindelik het hulle meer lote gelos om ’n groter lootbank te verseker.
Met die watermeter kon Christi ook hul verdampingsverlies uitwerk.
“Ons het agtergekom daar verdamp ongeveer 12% weens hitte en die wind.”
Tot dusver kon Christi nog nie planne maak om die verdamping hok te slaan nie, maar hy ondersoek wel die gebruik van seile of balle om te keer dat hy op dié manier water verloor. Mense het al voorgestel hulle moet water eerder regstreeks uit die boorgate na die besproeiingshooflyn pomp as om dit eers in die dam op te gaar. Die boorgatwater is egter ryk aan soute, wat beteken dit moet eers met vars water gemeng word voor hulle dit kan toedien.
Wanneer die damvlak daal, kan hulle nie soveel met gravitasiekrag besproei soos gewoonlik nie. Om daarvoor voorsiening te maak, gebruik hulle drie veranderlike spoedaandrywing-pompe om die water op die hoogste plekke op die plaas te kry.
SLIM WATERPLANNE
Christi het die hulp ingeroep van mnr. Mico Stander, ’n konsultant oor besproeiing, bemesting en grondkunde by Agri Motion, om hul boordpraktyke onder die loep te neem. Mico het vier planne voorgestel: Beter bankiebestuur, doeltreffender benatting van die swaar kleigronde, kaolienklei om blare te beskerm en vogmeters om besproeiingskedulering te verfyn.
Die bokant van die bankies was oneweredig en water het teen die skuinste afgeloop. Dit het daartoe gelei dat die boonste deel van die helling op die bankie uitgedroog het. “Ons het dit reggemaak sodat die bankies soos tafelblaaie lyk en die water beter kan indring.”
Hy pak ook elke jaar sowat 6 000 m³ houtkerfsels (chips) op die bankies uit.
Die kerfsels oorwinter eers op die plaas om uit te loog voor hy dit boorde toe vat. Dit help teen uitdroging, verbeter die tekstuur en struktuur van die grond en onderdruk onkruid, wat beteken hulle het minder chemiese produksiemiddele nodig.
Om die swaar kleigrond, wat maklik toeslaan, te besproei, het Christi met die idee van “boomkondome” vorendag gekom. Dit was só suksesvol dat ander boere hom gou begin navolg het. Die eenvoudige plan behels ’n plastiekomhulsel (stambeskermer-sakkies is ideaal) wat oor die kortradius-mikrospuite getrek word. Die water spuit dan teen die sakkie en loop af, wat beteken die water word gekonsentreer waar dit die nodig is.
“Dit was baie moeite om elke spuitjie daarmee oor te trek, daarom het ons later net die spuitjies dieper in die grond ingesteek – tot dit net so 10 cm uitstaan – want dit het ook die radius kleiner gemaak. Dit raak basies soos ’n groot drupper.”
Hulle het ook alle boorde met kaolienklei bespuit. Christi verduidelik kaolien tree byna op soos ’n sonskerm vir bome.
“Dit hou die blare koeler. Donkergroen blare absorbeer die lig, maar die klei maak die blare spierwit sodat dit sonlig weerkaats en minder transpireer.”
TEGNOLOGIE VERVANG NIE BOER
Christi het ook 17 Irricon-vogmeters op die plaas laat installeer. “Die manne van Agri Motion het ’n vogmeter-oudit kom doen en die meters na die moeiliker grond verskuif om seker te maak dit kry die regte hoeveelheid water.”
Die vogmeters neem twee-uurliks lesings op elke 200 mm, tot op ’n diepte van 800 mm. Die inligting gaan na die data-wolk (cloud) en Christi en die produksiebestuurders kan van hul selfone en tablette aanteken om te sien wat in die grond aangaan. Agri Motion hou dit ook dop en stuur weekliks ’n verslag met die stand van sake – en sê of daar oor- of onderbesproei word.
“Hoe meer oë daar in jou boerdery is, hoe beter kan jy jou plaas bestuur,” meen Christi.
“Ons het ook ’n motorfiets gekoop en vir mnr. Steven Onker, ons waterman, ’n tablet, graaf en grondboor gegee. Hy ry deur die verskillende besproeiingsbreuke (besproeiingsblokke in ’n groot boord) en doen ‘voeltoetse’. Hy boor ’n bietjie grond, maak ’n worsie in sy hand en gradeer dit op die tablet van een tot drie. Een beteken dit krummel en is droog en drie is nat. Só kan ons sien of dit verskil van die inligting wat ons deur die vogmeters kry.”
Dis nie dubbele of onnodige werk nie, beklemtoon Christi. Dinge kan verkeerd loop met tegnologie, soos dat seine verdwyn, die internet stadig is of die vogmeter te laat bygewerk word.
“Tegnologie kan nie vir jou boer nie. ’n Boer se voete in die boord is steeds die belangrikste,” glo hy.
“Ek kom uit Namakwaland uit, van tussen Springbok en Aggeneys, en het ook langs die see gewoon. Ek weet wat droogte is. Ek weet ook as daar nie water is nie, is dit ’n woestyn. ’n Mens hoef nie grond te hê nie, maar jy kan niks doen sonder water nie.”
Hy beproef voortdurend die grense – soos nou weer met sy nuuskierigheid oor maniere om die dam se verdamping te beheer.