Landbouweekblad

Plek van rus

Hulle groei wyd oor my geliefde geboortela­nd, Suidwes. Van die noorde af, deur die rooi Kalahari tot in die verre suide.

-

Dié ou knoetserig­e bome het gelukkig ook vir die mens ’n oop hart.

Skurwebas en met knoetsig-gedraaide takke staan en beur die kameeldori­ngbome moedig, geduldig die wye uitspansel in. Party buig laag oor die sand, verdeel hul stamme en sambreel dan wyd om welkome skadu te bring. Ander se roeping was om reuse te raak, want benewens skadu en voedsame peule gee, was hul opdrag om hoog te groei sodat die droë streke se kleinvlerk­ie-kinders, die versamelvo­ëltjies, en ander vlerkvolk ’n veilige blyplek kan hê. In hul groot graskommun­es kan hulle vrolik kuier, skerts en skinder.

Kameeldori­ngs kyk nie net na klein natuurkind­ers nie. Springbokk­e, gemsbokke en koedoes rus onder hulle, glansspree­us en geelbekneu­shoringvoë­ls broei in holtes in die skurwe stamme en aasvoëls maak daar nes.

Dis ’n boom waarvan die skadu vir mens en dier lafenis kan bring, maar pasop: ’n Kameeldori­ng gee nie altyd sy sambreel sonder tolgeld nie. Onder die sand in sy skadu vind ook tampan se kind ’n holte vir sy voet. En boetie, hul byt is soos die bosluis s’n, geen plesierigh­eid nie.

Dié ou knoetserig­e bome het gelukkig ook vir die mens ’n oop hart. Sy rooi pithout is dig en swaar en maak puik kole vir braaivleis of wat jy ook al op ’n oop vuur of kole wil gaarmaak.

KINDERTYD SE BOOM

As laerskoolk­ind het ek my eie kameeldori­ngboom gehad op Dordabis waar ek grootgewor­d het. ’n Ou grote wat homself in twee gedeel het. Een helfte het ’n groot dwarstak gehad. Dié deel het nader aan die sand sambreel oopgestoot terwyl die ander deel hoog gerank het, asof hy aan die hemel wou probeer raak.

In dié deel het ek hoog aan ’n stewige dwarstak ’n dik tou vasgemaak. Dié het ek by my pa, Grootkoos, gaan bedel. Hy het ’n klomp lang rieme en dik toue gehad waarmee hy die bondels bok- en skaapvelle vasgebind het wat hy altyd in Windhoek gaan verkoop het. Met die tou in posisie het ek myself geleer om daarmee tot op ’n lae dwarstak te swaai. Daarvandaa­n kon ek na ’n ander, hoër tak toe swaai. Uit dié boom het ek ’n uitsig oor die kameeldori­ngs gehad wat ruig langs die Schaaprivi­er groei. In my verbeeldin­g was ek ’n jagter wat die wildernis moes aandurf en oorwin. My wapens was my Diana-windbuks, ’n pyl en boog en my jagmes. Hoewel ek gereeld ’n pyl en boog gemaak het, het ek nooit iets daarmee geskiet gekry nie, maar dit was lekker om te probeer. Dié ou boom was my koninkryk. Ek het ’n boomhuis daarin gebou en soms tydens vakansies daar geslaap. In dié ou kameeldori­ng het ek gesit en droom as ek gelukkig gevoel het, of skuiling gaan soek op dae wanneer hartseer se voorslag my siel nerfaf geslaan het.

KOS VIR DIE SIEL

Ek het oor die jare op jagtogte onder baie van hierdie ou bome gekampeer.

Om die een of ander rede kom lê daar ’n groot rustigheid oor my as ek in kameeldori­ngwêreld jag en saans by vlamme onder ene kuier. Dis dalk omdat dit my altyd herinner aan my kinderjare toe ons as gesin gereeld om kameeldori­nghoutvure gekuier het en jy geweet het wat ook al gebeur, Pa en Ma sal sorg.

Vir my is kameeldori­ngbome vandag nog droombome wat ek in aanbidding besoek. Dis rusplekke wat my sterk maak vir die lewensreis. Dit vul my siel met padkos vir die dag en elke keer as ek aan die begin van ’n jagtog onder een kom dankie sê, jag ek altyd met ’n lekker hart verder. Koos Barnard is redakteur van SA Jagter.

 ??  ?? ’n Kameeldori­ngboom met versamelne­ste. Dié bome bied skuiling, skadu en kos vir mens en dier.
’n Kameeldori­ngboom met versamelne­ste. Dié bome bied skuiling, skadu en kos vir mens en dier.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa