Landbouweekblad

Hy sal ons red

-

As ek by die venster uitkyk, sien ek ’n “groen droogte”. Die gras en die mielies is groen, maar die damme is leeg en ons wag nog vir die Reënmaker, ons Here Jesus Christus, om die reën te stuur wat die damme vir die winter sal vul.

Toe dink ek aan daardie pragtige Skrifgedee­lte in Jesaja 30:18 wat lui: “Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm.”

Dit gebeur baie dat dit voel of die Here tot op die laaste oomblik wag voor Hy ons red, maar ek kan jou verseker, my liewe medeboer, dat Hy vir jou uitkoms sal bring en dat Hy nooit sal faal nie.

Die Apostel Paulus was in die tronk en sou die volgende dag tereggeste­l word, maar daardie nag het die Here hom bevry deur letterlik ’n aardbewing te veroorsaak. Haman in die boek Ester was besig om vir Mordegai ’n galg te bou, maar God het vir Mordegai ter elfder ure deur sy niggie Ester gered.

Ek glo vas dat die Here wil hê ons moet soos daardie boer Job in die Ou Testament wees, wat na my beskeie mening waarskynli­k die grootste geloofsman in die Bybel was. Nadat Job letterlik alles verloor het – sy plaas, vee en selfs sy gesin – en hy bo-op ’n ashoop in die dorp gesit het, bedek met swere van kop tot sy tone, wou hy steeds nie die Here misken nie. Net omdat hy getrou aan God gebly het, het die Here uitkoms gebied. Aan die einde van sy lewe het hy presies twee keer soveel besittings gehad as toe hy begin boer het.

Ons leer die meeste van ons lesse in moeilike tye. As ek terugkyk op my boerdery-loopbaan, is die lekkerste herinnerin­ge waarskynli­k aan van die taaiste tye waardeur ek gekom het. Moenie terugdeins vir die harde tye nie. Byt op jou tande, hou jou oë op Jesus, die Skrywer en Afronder van jou geloof en deur Sy genade sal jy deur die swaar tye kom en Hy sal jou red soos Hy belowe het.

Lekker boer.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa