DIÉ VEILINGS BEVOORDEEL NET DIE ELITE
As nuuskierige het ek in April die Signature Wildlife Legendary Genetics-wildveiling op die wildplaas Kwandwe, Grahamstad, bygewoon. Ek wou die kat goed uit die boom kyk en sien waarvandaan kom die astronomiese pryse wat behaal word.
Laat ek begin met die reëlings. Dit was puik – ’n groot markiestent en gratis kos en drank, soveel soos jy kon eet en drink. Paadjies was met saagsels bedek.
In ’n kort tydperk het Wildswinkel hom gevestig as die topafslaer van wildsveilings. Die katalogus was pragtig met kleurfoto’s van die diere wat te koop was en, in baie gevalle, van hul ouers ook.
Binne die reusetent was daar twee groot volskerm-TV’s en elke stoel het’ n Wilds winkel-oortreksel met’ n bruin papiersakkie daaragter gehad. In die sakkie was ’n goody bag met biltong, droëwors, sap, droëvrugte en sjokolade. Alles baie mooi.
Van die grootkoppe in die bedryf was daar, soos mnre. Piet du Toit, Norman Adami, Jacques Malan en Victor Matfield. Hulle het die lae veilings kaart getalle (van 1 tot 10) gekry sodat die afslaer geweet het wanneer hulle bie. Al die gewone kopers het kaarte met hoë getalle, soos 1867, gekry.
Die afslaer was die bekwame Brandon Leer, wat hom deurentyd goed van sy taak gekwyt het.
Voor die veiling was ons na Kwandwe se bomas om die wild op die veiling te inspekteer. Groot was my teleurstelling toe daar net sewe buffels in die hele uitgestrekte kompleks was. Met ander woorde op die veiling self bie jy net op ’n foto. Ek sê nie die verkoper is skelm nie, maar hoe weet jy jy kry waarop jy gebie het?
Dit was gou duidelik hoe dit werk. Die ander soort diere kon kom en gaan en die kopers was meestal plaaslike mense, maar toe dit by buffels, swartwitpense en bastergemsbokke kom, het die grootkoppe gebie en die pryse opgestoot en opgestoot tot op hul vlak. Hier en daar het een homself misreken en gesit met ’n dier van duurder as R1 miljoen. Een teler het teen homself gebie tot by R6,4 miljoen, en dít vir ’n ou 9-jarige buffelkoei!
Of al die verkoopte duur diere werklik van eienaar verwissel het, kon ek nie vasstel nie. Een ding is egter seker: Die grootkoppe wil die prys van skaars wild hemelhoog hou, tot hul eie voordeel.
Die beheptheid met horinglengte is ook verbasend, want daar is baie buffelbulle met lang, dun horings, maar met geen horingbasis. Dus ontbreek manlikheid. Die telers moet die diere gereeld verdoof om al die mates te kry. Hoekom meet hulle nie terselfdertyd die omvang van die dier se horingbasis of die bulle se skrotum nie? En hoekom word die diere se gewig nie aangeteken nie? Dit is tog eienskappe wat belangriker is as bloot horinglengte, of hoe?
En wat van TB-toetsing? Die meeste buffels op die veiling was Oos-Afrika-Addo-buffels. Die Krugerwildtuin is ook in “Oos-Afrika”, en ons weet die buffels in die wildtuin is met TB besmet. Met ander woorde jy weet nie aldag wat die volle gesondheidstatus van die buffels op die veiling is nie. Dit is kommerwekkend.
Vrugbaarheidstoetsing word by geen buffel-, swartwitpens- of bastergemsbokbul (die “skaars wild”) gedoen nie. Vir al wat jy weet, is die bul op die veiling onvrugbaar of het hy ’n probleem om te dek. Die koeie se kalfinterval en hoeveel kalwers sy grootgemaak het, ontbreek ook.
Daar is ook geen veeartsverslae nie. Alles is ’n raaiskoot – ’n paar miljoen rand se raaiskoot!
’n Ander punt is, jy weet nie vanwaar die veilingsdiere kom nie, al weet jy wie die verkoper is. Hy kon ook die diere ingekoop het. Is hulle gesout teen hartwater en ander Oos-Kaapse siektes?
Hulle word in klein kampies geteel en soos beeste in ’n voerkraal gevoer. Hulle lyk spekvet en gesond in die katalogus en op die foto’s op die TV-skerm. Maar wat gebeur as ’n koper hulle reguit op sy veld sit? Hulle sal wegsmelt en maer word en al die foute wat met voer verbloem was, sal dan te voorskyn kom.
Nee wat, ek sal eerder veldbuffels en ander diere op ’n plaas in dieselfde distrik of streek koop as om kunsmatig hoë pryse op ’n spogveiling te betaal. Dan weet ek ek kry diere wat op my plaas sal aanpas en floreer.
Om op te som, die spogwildveilings is deur die elitetelers geskep om pryse hoog te hou sodat hulle kan aanhou om rekordpryse vir hul eie wild kry.
Ek voel jammer vir nuwe toetreders en die middelgrootte telers wat in die elitegroepering wil kom. Hulle gaan hul vingers
verbrand en baie geld verloor. Daar is nie meer plek vir hulle daar bo nie – die elite sal daarvoor sorg.
Al wat ’n nuwe toetreder tot die wildbedryf nou kan doen, is om rasegte, veldaangepaste diere te koop en te teel vir die jagtersmark, wat bestendiger is en ’n goeie toekoms het.
GEWONE KAROOBOER Oos-Kaap