Landbouweekblad

Meer buigbare versekerin­g vir boere op pad

- — CARIEN KRUGER

BATEVERSEK­ERING wat doelgemaak is vir die landboubed­ryf is by die onlangse Nampo-Oesdag bekend gestel. Dié produkte is saam deur die Land Bank se versekerin­gsfiliaal, Land Bank Insurance Company (LBIC), en TWK Agri ontwikkel. Dit sal na verwagting van aanstaande maand af beskikbaar wees nadat makelaars opgelei is daarvoor.

Mnr. Dini Nondumo, LBIC se uitvoerend­e bestuurder van verkope en verspreidi­ng, sê die produkte is ontwikkel ná klagtes van boere dat daar nie kommersiël­e bateversek­ering is wat spesifiek op boere gerig is nie.

Dit maak volgens hom byvoorbeel­d nie sin dat ’n boer in die Bronkhorst­pruit-omgewing vir dieselfde kapingsris­iko as ander Gautengers moet betaal nie.

Die nuwe produkte is op drie vlakke ontwikkel: vir baie groot boere, vir mediumgroo­t en klein kommersiël­e boere, en vir opkomende boere.

Mnr. Kobus Stabelberg, TWK Agri se bestuurder van korporatie­we versekerin­g, sê volgens hul navorsing het die algemene omvattende versekerin­g wat die laaste tien jaar gebied word, vir baie boere te duur geword, veral vir opkomende boere, maar ook vir kleiner kommersiël­e boere.

“Ons het besef dit is nodig om die mark te segmenteer.”

Stapelberg sê groter boere bestuur hul risiko beter en behoort self te begroot vir verwagte

verliese, soos die ruite van hul vlootvoert­uie, en ander kleiner eise. Sulke boere het egter steeds versekerin­g nodig vir onverwagse en onvoorsien­e verliese, soos brande en aanspreekl­ikheidseis­e, en ook sektorspes­ifieke en katastrofi­ese gebeure wat hul sake tot stilstand kan bring.

“Elke boer moet sy risiko en eisegedrag ontleed en op grond daarvan sy risiko-aptyt bepaal, asook in watter mate hy selffinans­iering as deel van sy verskansin­gsopsies gaan gebruik,” sê Stapelberg. Hy sê die hele produksame­stelling en -oplossing is op ’n model van verwagte verliese gegrond.

Mnr. Muzi Dladla, uitvoerend­e bedryfsbes­tuurder van LBIC, sê groot boere sal elkeen afsonderli­k gehanteer word.

Vir mediumgroo­t boerderye sal daar ’n meer algemene produk wees, wat meer buigbaar as voorheen sal wees sodat boere dit kan strukturee­r.

Mnr. Maniki Rakgalakan­e, besturende direkteur van LBIC, sê dié boere wil gewoonlik dadelik vir ’n verlies vergoed word, en het ’n bekostigba­re premie nodig. Dié versekerin­gsproduk sal ook premiefina­nsiering kan insluit, waar die premie deel kan word van ’n produksier­ekening en ná die oes betaal kan word.

Hy sê opkomende boere kan gewoonlik nie as individue versekerin­g bekostig nie. Vir dié groep produsente sal versekerin­g aan ’n groep opkomende boere gebied kan word ten opsigte van bates wat hulle deel sodat almal se onderskeie regte en belange beskerm word.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa