‘DIE REGTE TYD OM OP TE TREE, IS NÓÚ’
Suid-Afrika se boere sal van voor af pioniers moet wees om by klimaatsverandering aan te pas.
Prof. Roland Schulze, emeritus-professor in hidrologie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, is waarskynlik Suid-Afrika se mees gerespekteerde hidroloog. Hy het op die kongres van die Misstofvereniging van Suider-Afrika (Fertasa) gewaarsku dat klimaatsverandering ’n werklikheid is en nuwe strategieë vereis.
“Suid-Afrika se gemiddelde daaglikse maksimum en minimum temperature gaan binne die volgende 30 jaar met minstens 2 °C styg. Die onvoorspelbaarheid van weerpatrone gaan ook toeneem.
“Dit kan dus wees dat meer reën op sommige plekke sal uitsak, maar hierdie buie sal meer intensief wees, en dan sal daar vir langer tye weer geen reën wees nie. Dit beteken erosie gaan ’n groter probleem begin raak, terwyl dreinering en loging ’n groter struikelblok gaan wees.
“Die voorspelling is ook dat ongewoon warm dae vir langer tye onafgebroke sal voortduur. Kritieke maksimum temperature van bo 35 ºC kan dus weke lank duur op plekke wat dit nie kan bekostig nie. Hou dit in gedagte as jy met vrugte boer wat ’n bepaalde koue-behoefte in die winter het en wat nie buitensporig warm temperature in oestyd kan verduur ten einde vrugte van topgehalte te lewer nie.”
Hy voorspel die optimale gebied vir ’n bepaalde kultivar om op die regte tyd te bot, gaan ook verander. “Suikerrietboere se seisoen gaan beslis verkort en heel moontlik verskuif weens die veranderende
seisoenale temperature. Dié bedryf het reeds begin stappe doen om grond te beskerm, maar met hoër temperature sal organiese materiaal vinniger afbreek. “Normale plae se lewensiklusse gaan begin verander. So gaan die valskodlingmot se aantal lewensiklusse per jaar te midde van ’n 2 ºC-temperatuurstyging byvoorbeeld byna verdubbel.”
Roland sê die kwessie van hittestres by melkkoeie sal opnuut aandag moet kry. Dit is aangesien die verandering in temperatuur sal meebring dat party dele van Suid-Afrika tot 60 dae per jaar meer as tans temperature sal ervaar wat hittestres meebring.
“Hoe dan gemaak? Ons kan nie kop in die
grond steek en hoop op ’n goddelike ingryping nie. Ons moet ook meer doen as om net die moontlikheid en moontlike uitwerking na te vors. Die Regering en akademici alleen gaan nie die oplossing bring nie. Die hele waardeketting moet ondersoek word en boere moet hulself afvra hoe en waar hulle in die toekoms daar kan inpas.
“Begin by jou eie plaas. Besef dat klimaatsverandering ’n werklikheid is en dat dit ’n kwessie oor talle geslagte heen is wat jou kinders en hul kinders se toekoms sal bepaal. Ondersoek die voorspelde klimaatsveranderings wat op jou perseel van toepassing is. Daardie inligting is te kry by die voorste universiteite en navorsingsinstellings.
"Kyk hoe hierdie veranderinge in jou situasie gaan geld, watter gewasse of kultivars nie meer winsgewend verbou kan word nie en watter gewasse en kultivars wél by die veranderende weerstoestande sal inpas. Kyk watter voorsorgmaatreëls en produksiepraktyke jy kan inspan om as buffer teen die klimaatsveranderinge se invloed op te tree.”