AVO-BOERE SAL NUUT MOET DINK
Hoë grondpryse en stygende produksie- en arbeidskoste gaan veroorsaak dat tradisionele avokadoboerderye nie meer in die toekoms haalbaar gaan wees nie, waarsku dr. André Ernst, Nasionale Boer van die jaar vir 2016, van die Allesbeste Boerdery by Tzaneen.
Ernst het op ’n besoek van die organisasie Landbouskrywers SA aan sy boerdery gesê die pyse van grond wat vir avokadoboerdery geskik is, het die afgelope vyf jaar verdubbel. “Tradisioneel kon ’n mens onbewerkte grond vir sowat R25 000/ha kry. Toe het dit opgegaan tot sowat R50 000 en nou trek dit al oor R100 000/ha. Iewers moet jy vinniger by die gelykspeelpunt kan uitkom en al manier is om na hoër produksie te kyk.”
Hy sê daar kan ook nie meer met tradisionele groot bome geboer word nie. “Jou oeskoste raak net astronomies. Arbeid is van
die grootste produksie-uitgawes. As jy nog met plukstokke en lere oor die weg moet kom, is daar ook altyd die risiko van beserings onder jou werkers.”
Avokadoboere is tans nog in die gelukkige posisie dat die vraag na vrugte én pryse styg. Op kort termyn is tradisionele boerderye dus nog haalbaar. “Ek beskou ’n betreklik intensiewe konvensionele boerdery as een met sowat 350 tot 400 bome per hektaar wat gesnoei word. Dan beloop net die produksiekoste sowat R30 000 tot R35 000 per hektaar. As die mark baie lewendig is, kan jy dan op plaashekvlak R100 000 per hektaar verdien.
Dit is sowat 8 tot 10 ton per hektaar. Maar, onthou, tonnemaat beteken niks as jy nie die regte grootte vrugte het wat die mark wil hê nie. By ons tradisionele kultivars is net sowat 35% van dít wat jy oes nagenoeg 200-400 g per vrug, soos die mark verkies.”
Hy glo avokadoboere het geen ander keuse as om na nuwe kultivars, kleiner bome en hoëdigtheidsaanplantings te beweeg nie. In hul eie boerdery, wat hy saam met sy seuns (Edrean en Zander) bedryf, eksperimenteer hulle met hul eie Maluma-kultivar in verskillende hoë- en ultrahoëdigtheidsaanplantings van tot 1 600 bome/ha onder drupbesproeiing. Die proewe sluit ook bome in waarvan die takke met ’n hoë opbrengspotensiaal met drade langs gelei en gestut word.
“Met die nuwe produksiemetodes en die regte kultivars glo ek ons gaan die 30 tonkerf per hektaar kan verbysteek,” sê André.