Dit gaan egter steeds ’n voorraad van bykans 3 miljoen ton op die plaaslike mark laat.
land in die volgende paar jaar ’n voldoende aanbod hê met uitvoerbare hoeveelhede mielies en pryse wat nader aan uitvoerprysvlakke sal neig.
Daar behoort baie meer aandag gegee te word aan uitvoerinfrastruktuur en handelsooreenkomste om uitvoer moontlik te maak. Amerika wil die Noord-Amerikaanse vryehandelsooreenkoms (Nafta) met Kanada en Mexiko herbeding. Sommige mense meen dit kan dalk die deur oopmaak vir Suid-Afrikaanse witmielie-uitvoer. Daar is egter nog ’n lang pad om te stap.
Daar is tans mense wat gerugte onder boere versprei dat daar binnekort etanolfabrieke opgerig gaan word en dat die voorraad mielies wat tans meer as die plaaslike vraag is, in ’n japtrap weggewerk gaan word. Dit is onwaar. Boere moenie hul ore daarvoor uitleen nie en nog minder mielies of geld aan dié mense afstaan. So ’n opsie is nog nie eens gebore nie en die Regering se beleid is steeds dat mielies nie vir etanol gebruik mag word nie. Sojabone vir biodiesel is dalk iets anders, maar sonder staatsteun, soos in Amerika, is die lewensvatbaarheid van biodieselproduksie baie riskant.
Die ander dilemma wat reeds met die stroopproses na vore kom, is dat Suid-Afrika nie genoeg bergingsruimte vir die oes het nie. Daar moet ook nog sowat 2 miljoen ton oliesade opgeberg word, asook sowat 0,5 miljoen ton koring wat in die binneland verbou word.
Die bedryf gee tans inderhaas aan goedkoper opbergingsmetodes aandag en boere rig al hoe meer staalsilo’s op plase op.
Somersaaiboere sal in die komende jaar of drie goed moet besin oor watter lande hulle met mielies gaan beplant, want lande met ’n laer opbrengs se som klop net nie. Op heelwat lande met ’n laer potensiaal kan hulle ander kontantgewasse of selfs aangeplante weiding plant, of hulle kan dié lande by ’n oorlêstelsel inskakel.
Tegnologie bly ontwikkel en sal meebring dat boere in die toekoms baie fyner kan beplan en bemes.