Droogte se kloue al dieper in Groot-Karoo: ‘Jy kyk hoe dun jy die rieme kan sny’
In die Groot-Karoo is ’n mens net van twee goed seker: Dood en droogte. En tans word mens en dier in die streek se uithouvermoë tot die uiterse beproef deur ’n droogte wat al ’n paar lang jare voortsleep – met min vooruitsigte op uitkoms.
Dit was Nols Burger, wat vir my broertjie werk, wat gesê het dit lyk die (koshuis-) kindertjies kom loop dorp toe op Maandae, want hier is nie ’n boer in sig nie.” Só vertel mnr. Henk van Wyk, vyfdegeslag-skaapboer op die plaas Vondelingsfontein en voorsitter van Agri Noord-Kaap.
“Daar is net nie geld vir onnodige goed nie, want ons weet nie wanneer die droogte gaan eindig nie.”
Op Calvinia kla besoekers en inwoners ewe hard oor die dorp se waterkrisis sedert die Kareedam opgedroog het en boorgate in hul behoeftes moet voorsien. Dit is egter op die distrik se plase, waar “ooie lam, maar hulle lyk of hulle wil omval” wat die werklike ramp al vir meer as vier lang jare lank elke dag voortwoed.
Me. Marcellene van Rooyen, voorsitter van Calvinia-landbou-unie, sê die Vis-Renosterrivier-gebied, wat in die somer- tot someroorgangsreëngebied lê, het die laaste
drie jaar gemiddeld net 39 mm genadewater gekry. Nader aan Calvinia, met ’n langtermyngemiddelde reënval van 200 mm, het boere twee jaar gelede 73 mm en verlede jaar 75 mm uit reënmeters gegooi.
“Ek het nog nie so ’n droogte beleef nie en ek kan nie onthou dat ’n droogte al so lank aangehou het nie,” sê Marcellene, waar ons in haar bakkie, in ’n terloopse kol met selfoonontvangs, sit en gesels. Haar foon lui ’n slag of wat en elke keer wil die beller oor dieselfde ding weet: droogtehulp. “In my hart hoop ek net . . . ons vra elke aand dat iets moet gebeur,” sê sy met kommer in haar oë as sy aflui ná nog ’n gesprek met ’n raadop boer wat iewers gehoor het daar is ’n vrag voer op pad Calvinia toe. Die droogte het sy kloue wyd kom inslaan, vertel mnr. Willem Symington, wat op die plaas Leeuwkrantz naby Williston boer. Naas Calvinia kry Fraserburg in die ooste, Sutherland, Williston, weswaarts tot by Nieuwoudtville en Loeriesfontein, Namakwaland en dele van die Boesmanland net so swaar. “My laaste goeie reën was in Desember 2012, maar daar is dele van die Namakwaland wat al ses jaar lank ondergemid-
delde reënval kry. ’n Groot bekommernis vir ons is die jaar wat voorlê (Williston lê in die somerreënstreek). Hoe lyk ons vooruitsigte na later in die jaar toe?” vra Willem.
Ds. Maryke van Niekerk van die NG kerk Calvinia sê vir die leraars is die droogte nie meer die grootste bekommernis nie; hulle is eerder besorg oor die “mismoedigheid en moedeloosheid” van die mense.
Vir mnr. HJ Visagie, eienaar van Supa Quick in Hoopstraat op Calvinia, is dit donker omstandighede.
“Die watersituasie op Calvinia is benoud en skep ’n hele eie stel van probleme. Maar dis ’n klein probleem in vergelyking met die ekonomiese impak wat dit op die boerderygemeenskap het. Die landbou hou die dorp aan die gang; hier is nie ander nywerhede nie. As dit met die boerderygemeenskap swaar gaan, gaan dit met elke liewe mens op die dorp swaar. En selfs al reën dit nou, het ’n droogte altyd ’n vreeslike lang stert.
“Daar moet eers veld groei en kuddes gebou word. Dit kos ’n minimum van drie jaar vir die boere om te kom waar hulle voor die droogte was. Intussen raak niks goedkoper nie en die ekonomie is nie lekker nie . . . Hier sal ’n drastiese verandering moet kom of ons lewenstandaard sal drasties moet val.”
‘ALMAL SUFFER’
Dat die boere bitter swaar kry, is gewis. “Ek weet van een boer wat sy eie lewe geneem het (maar daar was ook ’n aanloop van ander omstandighede). Ek het ook gehoor van ’n ou wat weg is; hy’t sy plaas net so gelos en gesê hy kom nie terug nie; hy’s nou ’n plaasbestuurder in ’n besproeiingsarea,” vertel Henk.
“Jy’t nie raad vir jouself nie. Jy kyk maar hoe dun jy jou rieme kan sny en jy hou jou oë na Bo. Die ouens leef al klaar so konserwatief, maar die boere het ’n erge trots . . . hulle wys nie sommer swaarkry nie. Dit sal lank duur voor jy agterkom daar is fout.”
Marcellene het darem nog nie self “omvaldiere” gesien nie, maar sê boere is selfs moedeloos as die ooie lam.
“Die lammers moet ingebring word, en boere weet nie wat om met die ooie of lammers te doen nie. Daar is net nie kos nie.”
Henk, wat in ’n winterreëngebied boer, se hoop is op ’n bogemiddelde reëntyd.
“Ek boer in die Roggeveld, waar dit nie oorslaan nie. Maar in 2003 het ons in Augustus eers ons eerste reën gekry. Die Here behoed ons as dit weer gebeur, want die boere is finansieel uitgeput.” Kontantvloei is oral ’n groot kwessie. “Produsente se eerste prioriteit is om vir hul diere te sorg. Wanneer ’n boer ’n klompie lammers bemark, moet daardie geld net so na die koöperasie gaan om sy voerrekening te betaal.”
Dit kring outomaties ook uit na die res van die dorp toe.
“Calvinia stagneer. Alles verval eintlik so stadigaan.”
En so kry al die besighede op die dorp swaar – die twee NG kerke op Calvinia het selfs verlede jaar saamgesmelt omdat dit te duur geraak het om twee gemeentes te onderhou.
“Die droogte speel ’n rol, want die plaaswyke raak leër omdat mense nie meer ’n bestaan kan maak nie. Die plase hier is ook ver van die dorp af. Waar boere voorheen sommer maklik in ’n kar sou klim om kerk toe te ry, dink hulle nou twee keer en kom miskien net een keer per maand kerk toe. Daar was in elke kerk net ’n handjievol mense en dit was dus meer sinvol om saam te smelt,” vertel Maryke.
HJ se boeke wys ook duidelik dis droogtetyd. “Almal suffer. As die boere suffer, suffer ek. Sowat 99% van my besigheid kom uit die landbou. Waar mense normaalweg vier bande sou koop, koop hulle nou net een. Waar hulle iets sou vervang, word dit nou eers net reggemaak.
“In die omstandighede betaal die mense nog goed, maar ek dink dis omdat ons persoonlike verhoudings het en al jare lank saam aankom. Hier het al mense gevra of hulle oor ’n langer tydperk kan betaal. Ons doen ons bes en probeer hulle help waar ons kan, maar ek moet ook aan my eie uitgawes dink.”
NOG RAMPE
Boonop word sake vererger deur ’n verwoestende brand wat oor die feestyd meer as 40 000 hektaar in die Suid-Roggeveld vernietig het.
“Al die fynbos en droë, vreetbare materiaal het afgebrand. Waar boere in die verlede nog sowat twee maande se weiding op daardie veld kon gehad het, het dit oornag verdwyn. Die gebied is nutteloos,” sê Henk.
Marcellene sê sowat sewe, agt boere is daardeur geraak.
“Kort ná die brand het ek daar ’n draai gaan ry. Wat veld betref, was daar net klippe en sand oor en die sand was boonop swart gebrand. Die bietjie weiding wat daar kon wees, is weg.”
Vroeg in April was daar ’n wolkbreuk op Calvinia, wat “100 mm in ’n kort tydjie uitgesit het”.
“Maar dit was net vir verspoelings, hoewel dit darem ’n impak op die plantegroei sal hê,” sê Marcellene.
“My skoonma het altyd gesê hierdie wêreld is nie een vir baie water nie, want dan weet hy nie wat om daarmee te doen nie.”
WEIDING EN WATER
Henk sê weidingstelsels is heel omvergegooi weens die droogte en kampe kry nie meer die nodige kans om te rus nie.
“Die watervlak van die veesuipings het só gedaal dat jy sommige kampe nie meer kan gebruik nie. Die water se gehalte raak ook maar swakker en die kalk- en brakwater raak al hoe meer.”
Die meeste boere het hul kuddes al twee, drie jaar gelede “toe dit begin kners” het, met sowat ’n derde kleiner gemaak. Volgens Marcellene het dit gehelp om hulpbronne ’n rukkie te rek voor dit nodig was om aan reserwes “te begin krap”.
“Ons boer reeds in ’n omgewing waar dinge knyp, daarom kry jy hier ouens wat nooit, maar nooit, teen hul volle kapasiteit diere voer nie. Hulle pas hul veld op, of dit nou mooi of swak jare is. Maar om nou vee nóg minder te maak, maak jy jou inkomste kleiner. Ons beleef nou ’n ramp – ons het drie jaar laas ordentlik water in die Riet- of Visrivier gehad. Die ooie staan en lam, maar hulle lyk of hulle amper wil omval.”
PLANNE TER OORLEWING
Marcellene vertel van “benoude planne” wat in die omgewing gemaak word.
“Die ouens verkoop jong ooitjies, wat eintlik ’n groot fout is, want hulle moet uit daardie diere hul troppe kan aanvul om die regte ouderdomsgroepe in hul ooikudde te hê. Daar word op baie maniere gespaar, net om die wa deur die drif te trek.”
Vir baie mense is skuld die enigste reddingsboei. Die koöperasiemanne sê hoewel debiteure nie gegroei het nie, het die skuldterugbetalingstydperk langer geraak.
“Daar was heelwat mense wat beleggings gehad het, maar ek hoor by die plaaslike makelaar is van R15 miljoen tot R16 miljoen se beleggings opgesê,” vertel Willem.
“Daar is nie kapitaal oor nie en dit lyk of ons produksie nou daaronder gaan begin ly. Nie net kom daar minder lammers aan nie, maar slaglammers weeg 16 kg pleks van 18 kg, en ons uitgawes staan nie stil nie.”
OOP HARTE EN BEURSIES
Die “mooier kant” van die droogte is egter om mense se welwillendheid te ervaar. Hulp en skenkings in die vorm van wit mielies, hooi, ander voer en voerskenkings het van tot Napier, die Suid-Kaap, Vredendal en elders af ingestroom. Kommersiële boere het ook 50 sakke voer as deel van die Regering se droogtehulp-inisiatief ontvang.
“Daar is soveel mense en instansies wat hul hande en harte en beursies vir ons oopmaak,” sê ’n dankbare Marcellene.
“Agri Noord-Kaap het sowat R4 miljoen by Agri Suid-Afrika gekry. Saam met skenkings kon ons sowat R20 miljoen se waarde van daardie R4 miljoen maak. Ons het die geld gerek deur melassemeel en mielies by ruvoer te sit en onderhoudsvoerkorrels te laat maak. Die waarde is ook toegevoeg deur vervoer, verwerking en onderhandelings om beter aankooppryse vir droogtevoer te beding.
“Die moeilikste en ondankbaarste werk is om die droogtehulp te verdeel. Mense moes hul name op ’n droogtelys sit, wat die aantal ontvangers minder gemaak het. Party boereverenigings gebruik ook eie inisiatief om hul eie hulp te kry. Ek sidder as ek aan ouens dink wat nie deel is van die georganiseerde landbou nie (en wie se name nie op die lys is nie). Ek kry hulle jammer. Hulle kan die saak vir hulself soveel makliker maak,” sê sy.
Die droogte se uitwerking word vererger deur die politiek van die dag en die afwesigheid van sinvolle droogtehulp van regeringskant af, sê Marcellene. “Die bietjie reëntjies wat geval het, tel jou gemoed op, maar as jy nie geloof het nie, gaan jy waaragtig nie hierdeur kom nie.”