Beskerm jou kind se erfporsie
’n Paragraaf of twee in ’n testament is nie altyd genoeg om jou gade of kind se erfporsie te beskerm nie. Oorweeg dus ’n testamentêre trust om vir jou erfgename voorsiening te maak.
Een van ’n ouer se grootste vrese is dat sy nalatenskap aan sy kind deur dié se gade vermors gaan word. Dieselfde vrees is by mans dat die buurman met hul swaar verdiende geld gaan wegloop. Om dit teen te werk word die volgende standaardsin in die meeste testamente gevoeg: “Ek bepaal dat die erfporsie aan my kind (gade) nie deel van die gemeenskaplike boedel moet vorm of deel van die aanwaseis moet wees of onderworpe aan die maritale mag wees nie.” Dit is egter onvoldoende.
Die dag tot dag inkomste en ontvangste van albei gades val binne die gemeenskaplike boedel (sien die DIAGRAM ). Bemakings onderworpe aan bogenoemde paragraaf val in die erfgenaam se aparte boedel. Persone wat binne gemeenskap van goedere getroud is, kan dus aparte boedels hê. Die gade het dus net toegang tot sy of haar eie boedel en die gesamentlike boedel en kan nie direk beheer oor die erfgenaam se boedel uitoefen nie.
’n Paar aspekte kry egter nie deur bogenoemde bewoording dekking nie en hou ernstige gevolge in.
Die eerste is die invloed wat ’n gade op die erfgenaam kan uitoefen om vrywillig die geld beskikbaar te stel, soos deur die geld in ’n gesamentlike rekening te betaal of selfs deur borg te staan vir die gade se aktiwiteite. Die gade kan dalk met ’n nuwe onderneming begin en van die erfgenaam vereis om by die bank borg te staan. As die onderneming dan vou, bly die erfporsie ook in die slag.
Die tweede is belangriker en ook skrikwekkender. Hoewel ’n gade nie toegang tot die erfgenaam se aparte boedel het nie, is dit nie die geval met die gade se skuldeisers nie. In ’n huwelik binne gemeenskap van goedere word die gades se onderskeie skuldeisers gesamentlike skuldeisers. Die gade se skuldeisers is dus nou ook die skuldeisers van die erfgenaam. As sodanig kan hulle ’n eis instel teen die aparte boedel van die erfgenaam. Geen bewoording binne ’n testament kan die erfgenaam daarteen beskerm nie.
Selfs in gevalle waar gades buite gemeenskap van goedere getroud is, word daar by insolvensie op alle bates beslag gelê. Die “onskuldige” gade moet bewys die bates is nie met gemeenskaplike geld gekoop nie. In die geval van ’n erflating sal dit gelukkig nie te moeilik wees om te bewys nie.
Al manier om werklik die bates te beskerm, is deur dit in ’n testamentêre trust te plaas. Die testament sal bepaal dat die geld in ’n trust geplaas word vir die voordeel van die erfgenaam. Indien die trust deur ’n onafhanklike professionele trustee bestuur word, is jy verseker die bates is beskerm tot die beëindiging van die trust, ’n datum wat in die testament bepaal kan word. Die bates is ook nie net teen gades en krediteure beskerm nie, maar ook teen die erfgenaam self wat dalk nie die vermoë het om oordeelkundig met die erfporsie te werk nie.
Testamentêre trusts het ook ’n baie beter belastingposisie as gewone trusts. As die jongste begunstigde in die trust onder die ouderdom van 18 jaar is, word die trust nie teen 45% belas soos ander trusts nie, maar teen die normale glyskale. Verder is daar ook geen artikel 7Cskenkingsbelastingprobleme of die risiko dat die bates onderworpe aan boedelbelasting gaan wees nie.
Oorweeg dus ’n testamentêre trust as jy jou nalatenskap aan jou gade en kinders wil beskerm. Moenie jou hoop op ’n paar woorde in jou testament plaas nie.
Adv. Ronald King is hoof van strategiese navorsing by PSG.