Landbouweekblad

Só spaar Ceres-plaas elke druppel water

Geen moeite is ontsien om water te bespaar of beter te gebruik nie, vertel mnr. Pietie Wolfaardt, ’n vrugteboer van Ceres. Dís hoe hy dit regkry.

-

“W ater was nog altyd vir ons belangrik,” sê mnr. Pietie Wolfaardt, ’n vrugteboer van die Ceres Cascade Farms, naby Prince Alfred Hamlet. “Die Wolfaardt-familie het gereeld in waterrade in die distrik gedien of was voorsitter­s daarvan. Van my ouers se tyd af al besef ons die kosbaarhei­d van water, maar niks het dit nog so duidelik gestel soos die laaste paar jaar nie, veral die afgelope twee droë jare.”

Hy het hom voorgeneem dat daar binne twee jaar nie meer ’n enkele druppel water mag wegloop op sy plase nie. Hy stel tans allerhande planne in werking om dit moontlik te maak, soos om lekplekke te herstel en syferwater op te vang.

“Elke 7 500 m³ tot 8 000 m³ water wat ek spaar, is nog ’n hektaar wat ek kan beplant en ekstra werkgeleen­thede wat ons kan skep.”

In 2003 en 2004 het hulle ook droër toestande ervaar en moes hulle met net 40% van hul skemawater oor die weg kom.

“Ek en Shannon (sy vrou en vennoot in die boerdery) het boorde volgens inkomste op ’n rangorde geplaas. Die boorde wat aan die einde van hul leeftyd was, het ons dadelik afgesaag. Ons het besluit om ander boorde, wat nie ’n hoë inkomste gelewer het nie, glad nie te oes nie. Ons het hul bloeisels gestroop en die bome net laat staan tot die volgende jaar,” vertel Pietie oor hul vorige ervarings met droogtes.

“Sedertdien was daar goeie jare en ons het begin ontspan,” vertel hy. “Maar die afgelope paar jaar het ek twee goed weer besef. Eerstens, ons moet versigtige­r met water werk en dis van kritieke belang dat ons toediening doeltreffe­nder raak. Die tweede ding is dat ons maniere moet kry om in goeie jare water weg te sit vir die swak jare.” Dié water moet boonop skoon, vars en onbesoedel wees – dít het Pietie op die harde manier geleer.

Hy is onder meer betrokke by die Wêreldnatu­urfonds (WWF) se projek vir doeltreffe­nder waterverbr­uik, wat deur Woolworths en Marks & Spencer geborg word.

MIKROKLIMA­TE

Ceres Cascade Farms bestaan uit twee eenhede – Cascade en Montana. Pietie se pa het Montana, oos van Prince Alfred Hamlet in die Warm-Bokkeveld, in 1971 gekoop. Dié plaas met sy groot stuk berggrond is in die droër deel van die distrik geleë en kry gemiddeld 300 mm tot 350 mm reën per jaar. Sy water kom uit die suide, van die Matroosber­ge af, en word deur waterskema­s herlei. Pietie-hulle moet hierdie winterwate­r tot somertyd opberg.

Op Cascade, wes van Prince Alfred Hamlet, nie eens 12 km van Montana af nie, val daar gemiddeld 800 mm tot 1000 mm reën per jaar. Die Tafelberg-sandsteen berg baie ondergrond­se water van goeie gehalte op, anders as Montana se brak boorgatwat­er met hoë chloorvlak­ke.

Dié twee mikroklima­te stel die Wolfaardts in staat om steenvrugt­e van vroeg tot baie laat in die seisoen te kan lewer.

DUUR LES

Verlede jaar is Pietie gedwing om van die brak boorgatwat­er op Montana te gebruik om nektarien- en perskebome te besproei. Die watergehal­te was só swak dat 3 500 jong bome gevrek het (gelykstaan­de aan ’n aanplantin­g van 1,5 ha).

“Ek kan nie bekostig om weer in die posisie te wees waar ek die boorgatwat­er móét gebruik nie. As jy daardie vlakke natrium en chloor in jou boord sit, troos jy net jouself. Dis bog dat jy die water net ’n paar dae kan laat staan voor jy dit gebruik. Jy sal minder skade aanrig as jy liewer die boom omtrent geen water gee nie.”

Die boorde wat hy vroeg geoes het, het hy net ’n “druppel per week” gegee en die bome floreer, teenoor die lateres wat weens die boorgatwat­er gevrek het.

“Ek het my les geleer. Weens probleme met bestelling­s vir plantmater­iaal kon ek ook nie die afgelope winter nuwe bome plant nie. Ek kan dit dus nou eers in die grond kry.”

LEKPLEKKE EN SYFERWATER

Pietie se eerste stap was om lekplekke in die plaasdamme op Montana reg te maak.

Die meeste damme is oud en reeds in die 1950’s of 1960’s gebou.

“Lekplekke en vermorsing is ’n groot ding. Die herstelwer­k het ongeloofli­k baie gehelp. Ek het einde April nog met damwater besproei wat ek al van Oktober af gebruik. Die laaste water het op 30 September in die dam geloop.”

Hoewel meer water reeds aan Pietie toegeken is, het hy nie tans die nodige opgaarplek daarvoor nie. Hy wag dus vir sy aansoek om ’n nuwe dam te bou om goedgekeur te word.

Pietie maak tans ook afsnyslote op Cascade om alle syferwater van goeie gehalte op te vang voor dit met water van swakker gehalte meng. Dit word dan deur middel van gravitasie­krag na ’n sentrale punt gelei, waarvan dit kan teruggaan dam toe. Die eerste sloot is 800 m lank en 2,5 m diep.

MEET, MAAR TOETS SELF

“Ons wil niks mors nie en die water wat ons toedien, moet so doeltreffe­nd moontlik aangewend word,” sê Pietie.

Om seker te maak hulle slaag daarin, gebruik Pietie agt Irricon-vogmeters wat elke twee uur hul lesings bywerk. Die vogmeters is op plekke geplaas waar die verskillen­de grondtipes voorkom, maar ook waar hulle weet daar verskille in die boorde self is. Die vogmeters meet elke 200 mm, tot 1 m diep, hoewel Pietie-hulle net tot 600 mm diep “aktief bestuur”. “As jy nie weet dis op 1 m droog nie, gaan jy nie hoër op kan bestuur nie.”

Die vogmeters gee egter nie ’n “swart-enwit-antwoord” nie, maan Pietie. “Die grondkundi­ge Pieter Immelman het my geleer dat wat die vogmeter sê, nie ’n absolute feit is nie, maar dit kan ’n neiging aandui. Jy moet steeds jou gaatjies met ’n grondboor grawe en dan met die hand voel wat aangaan.”

Dié inligting word aangeteken om die neigings op grafieke aan te dui. “Jy moet begin agterkom wat die reaksie is as jy ’n sekere hoeveelhei­d water toedien en hoeveel water jy moet toedien om ’n sekere reaksie te kry. As dit byvoorbeel­d diep onder droog is, help dit nie jy sit net ’n bietjie water by nie. Jy moet die regte ding vir die doel doen.”

Op Montana is daar 90% klipgrond, waarvan die waterhouve­rmoë maar skraal is. Pietie besproei daar dus eerder daagliks, maar net ’n bietjie op ’n slag, om te voorkom dat die water net wegloop. Cascade het weer boorde wat net twee keer per week, ’n langer tyd op ’n slag, besproei hoef te word. “Dis wat jy by die vogmeter leer.” Hulle hou ook gereeld temperatuu­rvoorspell­ings dop, soos die Noorweegse weervoorsp­eller YR, Accuweathe­r en Windghuru.

“Jy kan jouself beter verskans teen ’n hittegolf deur vooraf water te gee pleks daarvan om sake agterna te probeer regstel. Só het ek nie in hierdie of die vorige seisoen enige probleme met sonbrand by pere gehad nie.”

KYK NA ENERGIE

Watergebru­ik gaan hand aan hand met energiever­bruik, dus beskou Pietie “daai groenen-rooi-kaart as ’n Bybeltjie” (Eskom se goedkoper besproeiin­gstariewe). Aangesien hulle tydens die droogte soveel meer water moes pomp, het hul kragverbru­ik kwaai gestyg.

“Ons probeer die omskakelin­g na energie vir watertoedi­ening op oeste verbeter. Een manier is om op ander tye te besproei. My belangriks­te besproeiin­gstyd is deesdae van Vrydagaand­e laat tot Maandagogg­ende vroeg, want dit is die goedkoopst­e tariewe. In die week kyk ons na ons metings en las net die stukkies in wat nodig is. Ek kan jou wys die manier hoe ons nou pomp, is redelik doeltreffe­nd.”

Die volgende stap is om sonpanele by elke pomp aan te bring. “Ons sal nie al ons krag so kan opwek nie, maar ’n groot deel daarvan.”

Ander planne is om na die “krisispunt­e” op die plase te kyk – soos die pakskuur en koelkamers. Die nuwe skuur se dak is teen die regte hoek ontwerp sodat sonpanele geïnstalle­er kan word en soveel moontlik sonenergie kan vasvang. “Ons wil water met sonkrag na ’n hoë punt op die plaas pomp en dan twee dae lank met gravitasie besproei.”

Pietie het aanvanklik vasgeskop teen die koste van veranderli­ke spoedaandr­ywing-pompe (VSD), maar nadat hy die sprong gemaak het, het hy besef só ’n pomp betaal homself binne vier maande.

“Ek het die eerste drie maande 15 000 Eskom-eenhede by een pomp bespaar teenoor dieselfde tyd verlede jaar. Ek moet byvoeg die pomp staan op ’n plek op Cascade waar die situasie die doeltreffe­ndste is. Die boord loop op teen die berg en daar is ’n boorgat in die middel. Die helfte van die boord lê dus hoër as die waterbron en die ander helfte lê laer.”

Voor die VSD-pomp het hy altyd gesukkel omdat dit in die hoërliggen­de dele te droog en in die laer dele van die boord te nat was. Nou is die waterversp­reiding eweredig.

“Nog ’n groot voordeel van die pompe is dat dit reeds die tegnologie het sodat jy net ’n sonpaneel kan byvoeg en dit aan die internet kan koppel. Saam met ons nuwe internet-ruggraat sal ons al ons waterbestu­ursinstrum­ente kan koppel en die data kan gebruik om ons doeltreffe­ndheid te verbeter.”

HUISGEBRUI­K

Pietie beklemtoon hoe belangrik dit is dat die hele span moet saamwerk om water op die plaas te bespaar.

“Almal moet dit aanvaar, of dit nou ’n produksiev­oorman of watervoorm­an is, maar almal moet saamwerk en selfs die kleinste dingetjie reg en na die beste van hul vermoë doen. Water is ons kosbaarste hulpbron in die Wes-Kaap.”

’n Groep van sy werkershui­se is met ’n dubbele waterstels­el toegerus. “As ons weer ’n jaar soos verlede jaar ervaar, kan ons brak water in die badkamers en vars water in die kombuise gebruik. Dis ’n klein dingetjie, maar dit maak ’n verskil.”

 ??  ?? Deur lekplekke in damme reg te maak, kon mnr. Pietie Wolfaardt vanjaar aansienlik langer – van Oktober tot laat April – met opgegaarde winterwate­r besproei. Sowat 40 ha vrugte word op Montana besproei. Die res van die plaas word vir beesboerde­ry gebruik.
Deur lekplekke in damme reg te maak, kon mnr. Pietie Wolfaardt vanjaar aansienlik langer – van Oktober tot laat April – met opgegaarde winterwate­r besproei. Sowat 40 ha vrugte word op Montana besproei. Die res van die plaas word vir beesboerde­ry gebruik.
 ??  ?? HEEL REGS: Syferwater word in afsnyslote opgevang en met gravitasie­krag na sentrale punte afgevoer voor dit weer dam toe gaan.
HEEL REGS: Syferwater word in afsnyslote opgevang en met gravitasie­krag na sentrale punte afgevoer voor dit weer dam toe gaan.
 ??  ?? REGS: Mnr. Pietie Wolfaardt in ’n boord op Montana. Die plaas behoort sedert 1971 aan die familie. Die Wolfaardts het deur die jare gereeld in die distrik se waterrade gedien of as voorsitter­s daarvan opgetree.
REGS: Mnr. Pietie Wolfaardt in ’n boord op Montana. Die plaas behoort sedert 1971 aan die familie. Die Wolfaardts het deur die jare gereeld in die distrik se waterrade gedien of as voorsitter­s daarvan opgetree.
 ??  ?? HEEL LINKS: Cascade Ceres Farms is besonder trots op die goeie gehalte van hul vrugte. “My bome is nie so groeikragt­ig nie, en hoewel ek graag meer kartonhoue­rs per hektaar wil oes, is ek tevrede met die hoë uitpakpers­entasies. Goeie gehalte, geen interne probleme en ’n lang raklewe was nog altyd ons vlagskip-kenmerk.”
HEEL LINKS: Cascade Ceres Farms is besonder trots op die goeie gehalte van hul vrugte. “My bome is nie so groeikragt­ig nie, en hoewel ek graag meer kartonhoue­rs per hektaar wil oes, is ek tevrede met die hoë uitpakpers­entasies. Goeie gehalte, geen interne probleme en ’n lang raklewe was nog altyd ons vlagskip-kenmerk.”
 ??  ?? LINKS: Pietie het die afgelope twee seisoene nie probleme met sonbrand by pere gehad nie. Met die hulp van weervoorsp­ellingstoe­passings tref hy betyds voorsorg teen hittegolwe.
LINKS: Pietie het die afgelope twee seisoene nie probleme met sonbrand by pere gehad nie. Met die hulp van weervoorsp­ellingstoe­passings tref hy betyds voorsorg teen hittegolwe.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa