Die skande van droogtehulpdiefstal
TERWYL 30% van SuidAfrika se grondgebied nog onder ernstige droogte gebuk gaan, is daar meer as R210 miljoen van die staat se droogtehulpgeld wat nog nie bestee is nie en waarmee boere gehelp kan word.
Tydens ’n nuuskonferensie van Agri SA waar moontlike ongerymdhede met droogtehulp blootgelê is en waar vir verdere ondersoeke gevra is, is aangevoer dat diensverskaffers in sommige provinsies dalk meer as 40% van die ramphulpgeld in hul eie sakke gesteek het.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter, het gesê in teenstelling het Agri SA met sy eie droogtehulp gewys hy kan meer as R5 se waarde lewer vir elke rand wat geskenk word. “As die Regering net R50 miljoen se rampgeld aan ons toevertrou, kan ons R250 miljoen se hulp verskaf met ons infrastruktuur.”
Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur, het gesê hoewel dit nie ’n forensiese ondersoek was nie, kon Agri SA vasstel dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye sowat R212 miljoen se droogtehulp gehad het, waarvan R146 miljoen al bestee is. “Van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se fonds van R463 miljoen is R318 miljoen wel bestee, maar ons kan nie vasstel waarop nie.”
“By die Departement van Water en Sanitasie was R341 miljoen beskikbaar, maar R290 miljoen daarvan is op een ontsoutingsaanleg by Richardsbaai bestee.”
Van Zyl sê wat boorgate betref, is daar ook ver te veel betaal. Volgens die departement se syfers is R48 miljoen vir 204 boorgate betaal. Dit is onseker of dit bestaande gate is wat toegerus is of nuwe gate. Indien dit bestaande gate was, is daar R38 miljoen te veel betaal. Selfs al was dit nuwe gate wat geboor is, is daar steeds R28 miljoen weg.”
Mnr. Boeta du Toit, hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê berekenings van die bedrag geld wat in Noordwes toegeken is en die hoeveelheid sakke voer wat versprei is, toon dat die staat diensverskaffers 41% meer vir die voer betaal het as die markprys. Dit is dus die wins wat die diensverskaffer self verdien het.
“Sover vasgestel kan word, was daar geen tenderproses nie. In 2015’16 is daar net een diensverskaffer aangestel. Dit is Molaba Beleggingskorporasie in Lichtenburg. Hulle het sakke voer vir R158,30 per sak gekoop, maar R269 daarvoor gekry – 44% meer as die markprys. Daarvolgens lyk dit of R15,5 miljoen van die R38 miljoen vir hulp in die provinsie die diensverskaffer se wins was.”
Wat die hulp aan kommersiële boere in die provinsie betref, sê hy sowat 150 boere het elk vyf sakke voerpille gekry. “Dit is genoeg vir 10 beeste vir ’n dag.”
Ook in die NoordKaap het die nasionale Departement van Landbou glo daarop aangedring dat ’n private diensverskaffer aangestel word, nadat Agri NoordKaap aanvanklik sou help met die verspreiding van voer. Die NoordKaap sou R25 miljoen ontvang het, sê mnr. Henk van Wyk, voorsitter.
Volgens hul berekenings is 73 000 sakke voer teen R170 per sak aangekoop en is daar minstens R7 miljoen waarvoor geen rekenskap gegee kan word nie. Hy verneem dat die diensverskaffer glo agterna ’n luukse Bentleymotor gekoop het.
“Ek dink ons moet die Regering bystaan om gewetenlose diensverskaffers aan die kaak te stel. Dit is onaanvaarbaar dat mense droogtehulpprogramme vir selfverryking misbruik as baie van dié geld daarop gemik is om die heel armste mense te help. Korrupsie en ondoeltreffendheid moet beëindig word,” het mnr. Christo van der Rheede, adjunk uitvoerende direkteur vanAgriSA,gesê.
Mnr. Steve Galane, direkteur van kommunikasie by die departement, het onderneem om aan die ministerie verslag te doen en metAgriSAsaamtewerk.