Landbouweekblad

Skaap nou ook op Safex

- — MARLEEN SMITH

DIE Johannesbu­rgse beurs bied skaapboere nou ook die opsie om hulself teen prys-wisselvall­igheid te verskans, en dalk selfs groter toegang tot finansieri­ng te bekom.

Die JSE het pas ’n termynkont­rak vir Merinowol bekend gestel, kort op die hakke van ’n kontrak vir lamkarkass­e, wat die pryse van A2- en A3-grade lam navolg.

Die nuwe wolkontrak se pryse sal deur die Merino-aanwyser bepaal word, ’n indeks wat die bedryfsorg­anisasie Cape Wools SA ontwikkel het, sê die JSE in ’n verklaring.

Hierdie indeks is ’n aanduiding van bewegings in die wolprys, en word bereken deur ’n geweegde gemiddelde prys van ’n spesifieke wolveiling met dié van ’n vorige veiling te vergelyk.

Die veilings word in die wolproduks­ie-seisoen weekliks in Port Elizabeth gehou.

Mnr. Chris Sturgess, direkteur van afgeleide kommoditei­te op die JSE, sê Cape Wools het die beurs aanvanklik oor die moontlikhe­id van ’n wol-termynkont­rak genader.

“Die Suid-Afrikaanse wolbedryf staan op die rand van ’n buitengewo­ne groeifase, en die JSE is bevoorreg om die geleenthei­d te hê om die bedryf te help om sy potensiaal te verwesenli­k.”

Mnr. Louis de Beer, uitvoerend­e hoof van Cape Wools, sê die vraag na wol is uitstekend omdat internasio­nale wolproduks­ie op ’n geskiedkun­dige laagtepunt is.

“Die bedryf is optimistie­s oor die geleenthei­d om wolproduks­ie te verhoog. Die nuwe kontrak sal boere ’n meganisme bied om hul prysrisiko te verlaag.”

Hy sê Suid-Afrika het vanjaar 52,5 miljoen kg wol gelewer, maar daar is markruimte om dit met 22,5 miljoen kg op te stoot.

Kopers en verwerkers sal ook by die nuwe kontrak baat kan vind, sê De Beer.

Hy meen die termynkont­rak kan belanghebb­endes help om bykomende finansieri­ng te bekom, deurdat dit as sekuriteit kan dien.

Hy wys daarop dat daaglikse bewegings in die wolprys deur verskeie faktore beïnvloed word. Dit sluit in die wisselkoer­s, die vraag na wol uit Australië en Suid-Afrika, bestelling­s van verskillen­de kopers, en die gehalte van wol wat aangebied word.

Bykans die hele Suid-Afrikaanse wolskeerse­l word teen sowat R4,5 miljard per jaar uitgevoer. Die wol word deur 4 500-9 000 kommersiël­e wolboere, en 30 000-50 000 kommunale boere gelewer.

Die nuwe termynkont­rak verteenwoo­rdig 1 000 kg skoon, geweegde wol, en is vir vier verskansin­gsmaande beskikbaar – Maart, Junie, September en Desember.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa