Toeka se skatte
Gaan op reis deur die tye met die bome in die groen, blomryke tuin op die wynplaas Van Loveren buite Robertson.
Die Retief-familie en hul tagtig jare op die plaas Van Loveren se geskiedenis loop hand aan hand met dié van hul bome.
Hennie Retief het in 1937 Goudmyn F gekoop – ’n deel wat afgesny is van ’n baie groot plaas wat oorspronklik Goudmyn genoem is vanweë die hemelhoë prys. Toe hy twee jaar later met Jean van Zyl trou, het sy hom oortuig die F staan vir “fools and failures”. Die plaas is toe herdoop ter ere van Jean se voorsaat Christina van Loveren.
Dié ouma het met ’n Van Zyl getrou en sy het in 1699 per skip na Suid-Afrika gekom as ’n jong bruid. Die egpaar was die eerste Suid-Afrikaanse Van Zyls. Christina word steeds vereer – Van Loveren se restaurant heet Christina’s en haar oorspronklike bruidskis van Filippynse mahoniehout wat saam met haar uit Nederland gereis het, staan in die proelokaal.
Toe Hennie die plaas koop, het ’n skaapkraal met granaatbome langs die woonhuis hom verwelkom. Hy het een van dié bome, wat min of meer in 1930 aangeplant is, behou. Dis vandag nog die oudste boom in die tuin, waarin Jean vir elke groot gebeurtenis aan politieke of persoonlike front, ’n boom geplant het. Daar is bome wat hul huweliksdatum, Japan en Duitsland se oorgawes in 1945, Republiekwording in 1961 en die Sesdag-oorlog in 1967 herdenk.
Oudpres. F.W. de Klerk en oudpres. Nelson Mandela het ook ’n boom. Toe hulle die Nobelprys vir vrede wen, het Jean ’n roos vir elkeen geplant – die Vrede van Vereeniging vir De Klerk en Black Madonna vir Madiba.
“Hy sukkel darem te veel met sy eie madonna,” het Jean gesê.
BOME VOL DROME
Die Weeping Bottle Brush herinner aan die tyd van trane toe hul jongste seun, Wynand (toe 4) baie siek was en geopereer moes word. Vir elkeen van die vier kleinseuns se mondigwording het sy ’n Traveller’s Palm geplant, met die wens dat hulle die wêreld sal platreis. Vir elk van die vier afgestudeerde nefies wat by Van Loveren aangesluit het, het Ouma Jean ’n Reach for the Sky geplant, met die hoop dat niks hul drome sal inperk nie.
Die familie lag vandag nog oor Jean se voetfout met haar boomaankope. In 1941 het sy ’n geharde, droogtebestande boom van ’n Natalse kwekery bestel. Toe die Rhus lancea op die Klaas Voogds-stasie, waar die boere hul pos afgehaal het, aankom, het almal gewonder waarom Jean ’n kareeboom teen 15c uit Natal sou invoer, terwyl dié bome geil teen Robertson se rivierwalle groei. Jean het walgegooi en verduidelik dis ’n Rhus lancea, tot Hennie afgestap het rivier toe, ’n kareetak afgesny het en dit langs Jean se ingevoerde boom in die grond gaan steek het. Oor die jare het die twee identiese kareestamme inmekaar verstrengel geraak. Vir Jean het dit die simbool van haar en Hennie se liefde geword. Dié bome sou jare later die vier wynmakernefies inspireer om hul oupa en ouma te vereer met die Tangled Tree-wynreeks.
FAMILIE BOU SAAM
Die Van Loverens is vandag ’n gerekende mag in die wynbedryf, maar die beginjare hou wonderlike herinneringe in. Daar was die dag in die vroeë 1980’s toe hulle hul hele voorraad in ’n lemoensakkie geprop het en hul eerste wynverkope in die stad aangedurf het. Ook die eerste 20 jaar toe Jean op Saterdagoggende gesorg het vir soetmieliekoekies om saam met die wynproe aan te bied. Sakke en sakke meel is daarvoor aangekoop. Tien jaar lank het haar skoondogters ook self die spyseniering op die plaas bedryf – en hulle was erg verontwaardig toe die Retief-mans Van Loveren se eerste sekretaresse aangestel het.
“Ouma Jean het as matriarg die grondslag vir gesonde familiebande gelê,” onthou die oudste Retief-broer, Nico, en sy vrou, Shan. “Daarom word die familiebande steeds erken met wynreekse, soos Four Cousins, die Pater-wyne vir die tweede geslag Retief-broers, die Boetbier en ons vlagskipproduk, die Christina van Loveren-reeks.”
Die tweede en derde geslag Retiefs versorg steeds hul ouma se tuin met toewyding, met die vierde geslag tans soos jong olyfboompies om die Van Loveren-tafel.
Sarie Marais-Nell woon in die Swartland. Sy het na historiese skatte op plase gaan soek om vervloë dae se gebruiksvoorwerpe en boerderye te bewonder.