DROOGTEGENADE
Daar is ’n eenvoudige rede hoekom so baie boere diep gelowig is. Hulle weet jy kan soveel beplan en bestuur soos jy wil, maar dit kom alles op blote genade neer. Dit is genade dat daardie wegholveldbrand jou ooikamp mis of die weerlig ’n halwe kilometer weg slaan vanwaar jou melkkoeie onder die groot ou doringboom teen die reën skuil.
Maar wanneer ’n droogte tref, is almal in dieselfde bootjie. Dan begin die waardering insink van hoe klein en nietig ons werklik is. Almal soek dan ’n bietjie genade. Dit is ’n weerloosheid wat die beste in mense uitbring, ’n onbaatsugtigheid wat sukkel om vastrapplek te kry in die goeie tye. Voer word aangery, weiding word geskenk en water word herlei, sonder dat iets terugverwag word.
Dit is hoekom dit so moeilik is om te praat oor die onthullings dat staatsdroogtehulp, wel, om dit mooi te stel, verkwis is en soms sommer net gesteel is (sien bl. 22). Dit druis lynreg in teen alles wat ’n wurgende droogte veronderstel is om ’n mens te leer. Soos die verspreider wat, pleks van om voer by benoude boere uit te kry — ’n plig waarvoor hy mildelik vergoed is — glo eerder ’n Bentley met die geld gekoop het. Dit is meer as vûlger; dit is diep teleurstellend. Suid-Afrika het mense wat nie die nood van droogte verstaan nie. Ons het ’n onvermoë wat dit onmoontlik maak vir ons as land om iets so eenvoudigs soos droogtehulpverspreiding te kan baasraak.
Dit is ’n werklikheid wat ongelukkig deurgetrek kan word na baie ander staatsfunksies, soos onderwys, wat ’n werklike verskil aan mense se lewens kon maak en hulle in staat kon stel om ’n bydrae tot die samelewing te lewer, pleks van om net bakhand te staan. Maar ons kan dit nie bybring nie, want die versoeking van geld is te groot.
Vir Sezeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het ’n mens in baie opsigte waardering. Sy aandrang dat die Parlement ’n minuut stilte vir plaasmoordslagoffers eerbiedig voor sy begrotingsrede, was agtenswaardig. Ongelukkig maak dit ook die dolk wat die verkwiste droogtehulp in die landbou se rug gedruk het, net soveel erger, want die minister moes van beter geweet het.
Maar ondanks die swaar droogteklip wat die Regering doelbewus nie uit landbou se pad gerol het nie (hy het alle hulp van die hand gewys), is die landbou aan die anderkant deur. Toe die res van die ekonomie verlede week amptelik in ’n resessie verval het, was die landbou en mynbou die enigste sektore wat met kwartaal-tot-kwartaal-groei kon spog. Selfs ons wêreldklas-finansiëledienstesektor kon nie dié keer saampraat nie. Dit wys net weer die staal van ons primêre landbou. Dít in byna onmoontlik moeilike toestande en ondanks die ernstige struikelblokke wat sekere bedrywe steeds raak.
Vir die breër ekonomie bly trae besteding deur vuisvoos verbruikers ’n tameletjie. Saam met dalende inflasie is dít die rede hoekom die ekonoom Roelof Botha oortuig is dat die Reserwebank binnekort rentekoerse gaan verlaag. ’n Verlaging van net 50 basispunte in die rentekoers, reken Botha, sal ’n allemintige R3,8 miljard in verhoogde verbruikerbesteding in die ekonomie tot gevolg hê.
Vir die primêre landbou, wat steier onder histories hoë skuldvlakke ná die droogte, kan so ’n rentekoersverlaging ’n fantastiese meevallertjie wees. Dan kan ons iets terugkry wat sal vergoed vir die droogtehulp wat nooit gekom het nie — ’n bietjie onverwagse genade.