WAAR IS LANDBOU SE LEIERS?
So ’n paar weke gelede het ’n artikel deur Wessel Lemmer in Landbouweekblad verskyn oor leiers in die landbou (“Landbou het nou sterk leiers nodig”, 28 April 2017).
Nadat ek die artikel gelees het, moes ek myself afvra: Is daar werklik leiers in die Suid-Afrikaanse landbou?
Waarom vra meer as een mens so ’n landbouvraag?
Ek besef dat Suid-Afrika van dag tot dag verander en godsdiens, politiek en finansies ’n groot rol speel, veral in die landbou. Met bogenoemde in ag geneem, is die landbouprentjie op die leiersverhoog taamlik tot ernstig duister.
Statistieke op twee vlakke van die landbou het my bekommerd.
Eerstens is daar die lidmaatskapsyfer van die georganiseerde landbou. Daar is beslis ’n afname in nuwe lede, asook bestaande lede wat bedank. Daar moet ’n rede wees, maar die hoofrede is nie dat daar minder toetreders tot die landbou is of dat so baie mense die landbou verlaat nie.
Tweedens verlaat jong boere of jong manne en vroue wat ’n passie vir die landbou het Suid-Afrika om oorsee landboudienste te verrig. Dit is verregaande. Weer eens moet daar ’n rede hiervoor wees.
’n Rede is net verklaarbaar as dit ondersoek word, en dit het my aangespoor om tog hier en daar ’n steekproef te doen. Die uiteenlopende redes het my meer bekommerd gemaak oor die stand van en toekoms van die Suid-Afrikaanse landbou. Ek noem ’n paar redes en vrae wat herhaaldelik genoem het.
Hoekom is die georganiseerde landbou geheimsinnig oor onderhandelings op ’n wye platform?
Die georganiseerde landbou onderhandel sonder om sy lede te ken of ’n klankbord te skep.
Die deursnee-landbouer voel die georganiseerde landbou is nie in voeling met die landbou op voetsoolvlak nie, en dat besluite ondeurdag geneem word.
Ek was bevoorreg en gelukkig om met ’n dinamiese jong boer te gesels wat weens veranderlikes besluit het om sy vlerke te sprei en oorsee sy brood te verdien.
Die jong man het dit as volg opgesom: “Ek kan nie blindelings en lukraak myself in die landbou begewe as ek geen leierskap gewaar en ek nie geken word in onderhandelings of terugvoering kry nie.”
By verdere gesprek kon
ek agterkom dat hierdie jong man nie deur droogte, swak produkpryse of politiek weggedryf word nie, maar omdat hy bekommerd is wat en hoe vir hom onderhandel word. Hy het na my mening vertroue verloor – nie in die Suid-Afrikaanse landbou nie, maar in die leierskap van die Suid-Afrikaanse landbou.
Ek wil hom sekondeer en ’n paar voorbeelde noem.
Landelike veiligheid ten opsigte van ’n landelike uitvoervaarheidsveiligheidsplan bestaan nie by die polisie nie. Waar is die landbouleiers?
Landboulenings in die vorm van sagte kredietlenings word nie in moeilike omstandighede met banke beding nie. Die landbou het daarvoor gevra.
Eskom en Agri SA kanselleer kontrakte van die landbou en plaas kliënte in ’n poelstelsel ten opsigte van lynheffings wat tot 52% van ’n rekening uitmaak. Wie gee hulle die reg om kontrakte sonder ’n handtekening te kanselleer?
Die droogtehulp wat die staat sou en moes aanbied, het tot nou toe nie gerealiseer nie. Die vraag is: Waar is die georganiseerde landbou en is daar leiers wat dié kwessies kan aanpak?
Is leiers bewus van die genoemde behoeftes in die landbou en daaglikse probleme?
Beskrywingspunte op kongresse is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Dit word op plaaslike vlak, streeksvlak en nasionale vlak bespreek – en dit is waar dit eindig.
Die georganiseerde landbou moet ’n roadshow hou om lede op voetsoolvlak te besoek en te red wat te redde is.
Landbouleiers sal hulle moet meet aan die Nederlandse gesegde: “Als je achter de kudde aanloopt, loop je altyd door de stront.” Is hulle bereid om dit te doen of is hulle vir posisies daar? JOHN THEUNISSEN, Beaufort-Wes