Landbou soek grondhervorming se geld
HIERDIE is ’n geveg wat Manie al lankal sien kom het: In die een hoek is Grondsakeminister Gugile Nkwinti, wat sê hy word die skuld vir die Departement van Landbou se mislukkings gegee, en in die ander hoek Landbouminister Senzeni Zokwana wat Grondsake se geld vir herkapitalisering soek.
Die skeidsregter in die geveg is die Tesourie wat nou sal moet beslis oor die finansiering van die herkapitaliseringsprogram.
Nkwinti het reeds verlede jaar op die kongres van die African Farmers’ Association of SA (Afasa) die eerste houe ingekry toe hy vertel het hoe moeg hy is om die skuld te kry vir probleme met die herkaptaliseringsprogram en vir mislukte grondhervormingsplase. Hy het gesê dit is sy mandaat om grond oor te dra en nie om plase te ontwikkel nie.
Volgens hom was daar nog nooit ’n mandaat of begroting daarvoor nie. Hy het gesê hy het dit net gedoen omdat hy “die boere se probleme verstaan” en hulle wou help. “Moenie my beskuldig vir die Departement van Landbou se mislukkings nie,” het hy gesê.
Die Departement van Landbou slaan nou terug deur te sê dat hy nie die herkapitaliseringsprogram kan oorneem sonder die hulpbronne wat reeds daarvoor begroot is nie. Die herkapitaliseringsproses het in 2009 begin en R4,8 miljard is reeds bestee om 1 675 grondhervormingsplase weer op die been te probeer bring. ’n Deel van die begroting vir grond- hervorming is daarvoor ingespan.
Nou wonder Manie mos hóé en aan watter plase daardie allemintige klomp geld bestee is. As ’n mens die sommetjie maak, is dit gemiddeld R2,8 miljoen per plaas. Dit is mos net ongelooflik. Dit verdien beslis verdere ondersoek.
Aan die ander kant wys Mike Mlengana, direkteur-generaal van Landbou, daarop dat sy departement in hierdie boekjaar onder meer 450 swart boere moet ondersteun en moet help om ’n miljoen hektaar grond teen 2019 in produksie te kry.
Die skuif van die program na Landbou kom nadat die Presidensie se departement van monitering en evaluering bevind het dat die staat se reddingsplan vir herverdeelde plase nie naastenby die geld regverdig wat daarin geploeg word nie. Daar is aanbeveel dat daar net een projek vir alle fases van hervorming moet wees – die koop van grond, asook vir die ontwikkeling en voorligting van boere en vir finansiering en marktoegang. Totdat só ’n enkele projek die lig sien, moet herkaptalisering onder die Landbou se vlerk wees.
Nou moet daar nog net uitgewerk word wie hou watter beursie vas.
LANDBOU – DIE PLEK OM TE WEES!
Dit is vir Manie ’n riem onder die hart om te sien hoeveel geesdrif en optimisme daar by sommige belanghebbendes in die landboubedryf is. Dit is soos ’n vars bries in die bedompige politieke en ekonomiese omstandighede waarin ons tans leef.
Wessel Lemmer, senior landbou-ekonoom by Absa, sê hy sal eerder by die landbou as by enige ander bedryfindieekonomiebetrokkewees.Cobus Wells, hoof van Absa Agribesigheid, stem saam en sê daar wag talle opwindende tye vir die landbou.
Hy sê as iemand wat nou maar eers ’n jaar of wat met die landbou te doen het, was hy verstom om verlede jaar te sien hoe boere te midde van die droogte steeds wou uitbrei en hul tegnologie verbeter.
Wessel het laas week op ’n vooruitskouingsgeleentheid van Absa in Centurion gesê as daar ’n verswakking (soos nou) in die rand is, bied dit byvoorbeeld ’n verkoopsgeleentheid vir mielies teen ’n hoër prys.
Sy raad aan iemand wat nou mielies beskikbaar het, is om te verkoop as die rand swak is.
Met die ANC se leierskapstryd en die moontlikheid van verdere kredietafgraderings is daar sommer talle moontlikhede danksy ’n swak rand.
HOU AAN BELÊ
Volgens Wessel kan ’n boer nie ’n fout maak om in die landbou te belê nie. Hy sê produsente wat in 1994 weens onsekerhede oor die nuwe Suid-Afrika nie in produksie belê het nie, het later gesê dit was die slegste besluit ooit. As daar ’n toename in politieke onsekerheid is, verswak die rand en omdat Suid-Afrika uitvoergedrewe is, verbeter die pryse en winsgewendheid – al verhoog insetkoste ook terselfdertyd. Wessel sê as die rand tot R14,50 teen die dollar verswak, kan ’n mielieboer nie verkeerd gaan as hy sy oes verkoop nie. Dan kan daar winsgewend teen uitvoerpariteit uitgevoer word.
Oor die invloed van die mielie-oes op die vleisbedryf, sê Karabo Takadi, landbou-ekonoom by Absa, daar is uitstekende geleenthede oor die volgende twee jaar. Hoë vleispryse en laer voerpryse verseker groter winsgewendheid.
Sy sê wat beeste betref, was klas A se prys 24% hoër op ’n jaargrondslag in Mei vanjaar en die prys vir speenkalwers was 58% hoër. Klas A-lam se prys het op ’n jaargrondslag in Mei met 14% tot R65/kg gestyg. “Ook in die varkvleisbedryf, waar mielies 70% van die voerkoste is, is daar goeie vooruitsigte.
As Manie so na dié span luister, is dit duidelik die landbou is beslis nie in ’n resessie nie en daar is gewis geleenthede om te benut.
VERSKUILDE KELDER-EKONOMIE
Manie het onlangs op ’n werksessie oor armoede en werkskepping gehoor hoe mense in Hillbrow die parkeergarages op die keldervloere van wolkekrabbers betrek en kleuterskole, bokskryte, slaghuise, restaurante en sweisondernemings daar inrig.
Naweke word die ondernemings blykbaar eenkant toe geskuif om plek te maak vir kerkdienste.
Die entrepreneurs is glo in twee geskeur: Enersyds wil hulle nie te veel in die oë van die owerhede wees nie, maar aan die anderkant wil hulle darem hê mense moet weet van hul dienste of handelsware.
Moenie dink dit is net ’n ongeorganiseerde geplak nie: Die navorsers sê daar is ten minste een persoon wat as ’n soort opsigter of beheerbeampte optree en by wie nuwe voornemende intrekkers maande lank moes flikflooi om toegang te kry.
Die volgende stap is seker nou ekonomiese bedrywighede op die dakke van die geboue.
WAT SOEK JY?
Die ryk boer met ’n dam vol krokodille op sy plaas, besluit om eendag die jong boere in die omgewing se waagmoed te toets. Hy nooi almal vir ’n braai by die dam en in ’n stadium sê hy:
“Ek het ’n uitdaging vir julle. Dié een wat deur die dam vol krokodille kan swem, kan kies of hulle my plaas, al my geld in die bank, of my aanvallige jong dogter wil hê.”
Hy het nog skaars klaar gepraat toe swem een jong man soos ’n blits deur die dam.
“Wel,” sê die boer. “Ek sal seker nou by my woord moet hou. Soek jy my plaas?” “Nee,” sê die jong man. “Soek jy my geld?” “Nee,” sê die jong man. “Soek jy dan my dogter?” “Nee,” sê die jong man weer. “Nou wat soek jy dan?” vra die boer verbaas.
“Ek soek net die een wat my ingestamp het!”