‘ONBEHOLPE’ OBP MAAK HOMSELF OORBODIG
’N RITS produksieprobleme en entstoftekorte by Onderstepoort Biologiese Dienste wat reeds jare lank voortsleep, dwing die private dieregesondheidsektor om nou ál meer sy eie planne te begin beraam. Boonop is daar weens ’n gebrek aan leierskap geen vooruitsig dat dié krisis gou opgelos kan word nie.
Landbouweekblad verneem betroubaar selfs die OBP se bestuur meen sy personeel kan nie die mas opkom nie.
Daar was die afgelope jaar ernstige probleme met die produksie van entstof vir bloutong en Afrikaperdesiekte. Talle besendings entstof wat daar vervaardig is, was onbruikbaar.
Intussen is benoemings vir ’n plaasvervanger vir dr. Steve Cornelius, die vorige uitvoerende hoof, reeds aan die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye oorhandig, maar die aanstelling, tesame met ’n nuwe raad, is nog nie gemaak nie. Intussen neem die huidige raadslede om die beurt waar as uitvoerende hoof.
UNIEKE ENTSTOWWE
Volgens dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale Dieregesondheidsforum (NAHF), is ’n vaardigheidsoudit onlangs by OBP begin om die omvang van vaardigheidstekorte te bepaal. Die forum is gereeld in gesprek met die maatskappy om sy vordering te monitor.
Vervoort sê OBP word gesien as ’n vervaardiger van entstowwe wat nêrens anders gemaak kan word nie. Dié situasie is egter besig om te verander namate die private sektor al hoe meer self belê in die ontwikkeling van entstowwe wat tradisioneel net deur OBP vervaardig kon word.
Entstowwe teen siektes, soos knopvelsiekte, drie-dae-stywesiekte en slenkdalkoors, is reeds van sulke maatskappye beskikbaar.
’n Groot projek is ook deur die private veeartsenykundige maatskappy Design Biologix saam met die Universiteit van Pretoria van stapel gestuur om bloedmonsters van skape te verkry wat verlede jaar met bloutong gediagnoseer is.
“Dit is gedoen sodat daar bepaal kan word watter serotipes verlede jaar verantwoordelik was vir die grootskeepse uitbreking van bloutong in die land. Sowat 50 werkbare monsters is verkry en die virusse word tans gekweek om die serotipe te bepaal,” sê dr. Danie Odendaal, hoofbestuurder van die NAHF.
Soortgelyke ontwikkelings is ook onderweg vir Afrikaperdesiekte. “Indien die OBP relevant wil bly, sal hy baie vinnig sy navorsing en produksie in orde moet kry, anders gaan die private sektor sy eie oplossings vind,” sê hy.
‘Boonop is die kwessie van weerstandigheid teen antibiotika ook hier ter sprake. Ons sal dus ’n entstof móét ontwikkel.’
HARTWATER
Landbouweekblad het in April verlede jaar berig ’n kommersiële entstof wat teen alle hartwaterstamme doeltreffend sal wees, sal teen begin 2018 beskikbaar wees. Op die onlangse kongres van die Herkouerveterinêre Vereniging (RuVASA) was egter sprake dat dié registrasieproses tot drie jaar kan duur. Odendaal sê daar is geen rede waarom die registrasieproses so lank moet duur nie, want toetse het reeds bewys die entstof is veilig en doeltreffend.
“Dit is óf ’n geval van die regi strasieproses wat te lank duur óf die kommersiële produksievermoë van die organisasie is van so ’n aard dat die entstof nie geproduseer kan word nie,” sê hy.
Indien die vertraging by die registrasieproses lê, kan die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye ’n tydelike lisensie uitreik. ’n Liggaam, soos die NAHF, kan vertoë rig om die proses aan die gang te sit.
Veral bokke is kwesbaar vir hartwater en diere word tans elke 21 dae met tetrasiklien, ’n antibiotika, teen die siekte behandel. Dit is egter nie ’n volhoubare oplossing nie, sê Odendaal, omdat diere vinnig ’n teenreaksie teen die behandeling ontwikkel.
“Boonop is die kwessie van weerstandigheid teen antibiotika ook hier ter sprake. Ons sal dus ’n entstof móét ontwikkel om die siekte teë te werk,” het hy gesê.
Odendaal sê entstof is die finale antwoord vir hierdie kwessie. “In my ervaring is diere wat teen die siekte ingeënt is, immuun en raak dadelik ontslae van die probleem. Waarom dus nie die entstof so gou moontlik beskik baar stel nie?”
SLAPSIEKTE
Landbouweekblad het vroeër berig dat twee van die drie veterinêre laboratoriums in die land wat vir slapsiekte toets, nie meer dié toetse kan doen nie omdat hulle geen antigene en kontroleserums in voorraad het nie. Dié laboratoriums gebruik antigene en kontroleserums wat deur die OBP geproduseer word, maar luidens ’n kennisgewing van die WesKaapse departement van landbou kon die OBP die afgelope twee jaar nie die antigene produseer nie. Laboratoriums, saam met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, ondersoek die moontlikheid om antigene in te voer. Dit is egter ’n tydrowende proses om te bepaal of dié ingevoerde middels geskik is vir plaaslike gebruik.