BEHEER RAAIGRAS EN ANDER ONKRUID SÓ IN WINGERD
Onkruid wat weerstand teen onkruiddoders ontwikkel, keil Wes-Kaapse wingerdboere op. Raaigras (Lolium spp.) is die grootste sondaar, terwyl vaalskraalhans (Conyza bonariensis) en Natalgras (Melinis repens) toenemend ’n probleem raak.
Ander moeilike kalante is ramnas (Raphanus raphanistrum), turksnael (Erodium moschatum), kiesieblaar (Malva parviflora) en brandnetel (Urtica dioica). Tongblaar (Plantago lanceolata) is op spesifieke plekke, soos Simondium, Robertson en McGregor, ’n probleem.
Dr. Erik Eksteen, tegniese kundige vir graan en Kaapse vrugte by Syngenta, sê boere bestee baie geld om hierdie onkruide hok te slaan, maar die resultate is nie altyd goed nie.
“Die ontwikkeling van weerstand het dit nie makliker gemaak nie. Dit is ook moeiliker om doeltreffende kostebeheer en volhoubare boerdery bymekaar te bring,” het hy op VinPro/Winetech se inligtingsdag vir die streke Paarl, Wellington, Franschhoek en Tulbagh gesê.
Nie net is chemiese middels met nuwe metodes van werking skaars nie, chemiese middels kom ook onder skoot van supermarkte en verbruikers wat dit nie in die produksieproses duld nie. Erik het geïntegreerde weerstand s bestuur aangemoedig om die onkruid bevolking te verlaag e nop bestuurbare vlakke te kry, deur byvoorbeeld saadvorming te voorkom en saad te vernietig.
Hy het aanbeveel nie-chemiese opsies, soos dekgewasse en strooibedekking, en meganiese opsies, soos die vernietiging van saad met ’n bossiekapper, word saam met chemiese middels gebruik.
“Nie-selektiewe onkruiddoders vorm die ruggraat van ’n onkruiddoder program in die winter, maar om staat te maak op een meganisme van werking sal die ontwikkeling van weerstand bevorder. Die laaste nuwe meganisme van werking is in 1984 gepatenteer. Nuwe meganismes van werking is skaars en daarom moet ons die beskikbares beskerm sover ons kan.”
Erik sê daar is die eerste keer in 1993 opgemerk dat raaigras weerstand ontwikkel teen onkruiddoders. Toe was dit hoofsaaklik teen die onkruiddoder groep“fop s” en “dims”, maar sulfonilureas het intussen bygekom. Hy skat dié weerstand raak sowat 400 000 ha in Suid-Afrika, hoofsaaklik eenjarige gewasse, soos koring en gars.
In 2003 het raaigras ook begin weerstand bied teen die glisien-groep (glifosaat). Tans beraam hulle sowat 90 000 ha, die meeste daarvan permanente gewasse, word geraak. Wat die bipiridilium-groep (parakwat en dikwat) betref, word sowat 12 000 ha – alles permanente gewasse – aangetas. Kruisweerstand tussen nie-selektiewe middels vind boonop plaas. “Die probleem is groot,” het Erik gesê. Raaigras is geneties divers en kan dus teen meer as een onkruiddoder weerstand ontwikkel. “Ons het plekke gekry waar raaigras teen vier groepe weerstand bied. Raaigras het ook ’n hoë frekwensie van natuurlike weerstand – sowat een uit ’n miljoen plante vir sommige groepe. Dit lewer boonop groot hoeveelhede saad en het ’n kort (soms geen) saadrus. Die meeste van die saad wat dus in een jaar gestort is, gaan in die volgende jaar ontkiem. Een van die groot redes waarom dit so maklik versprei, is omdat raaigras verpligtend kruisbestuiwend is. Die weerstandsgeen
word deur stuifmeel oor ’n hele area gedra. Jy kan dit van jou buurman kry en nie eens weet nie.”
Die strategie teen weerstandbiedende raaigras vereis van ’n boer om sy weerstandstatus te ken. As parakwat en glifosaat nog doeltreffend is, gaan dit fyn bestuur verg om dit so te hou.
“Spuit onkruide terwyl dit nog klein is. Die dae is verby om wingerde ná oestyd te los en dan in Augustus skielik onkruide te bekamp. Veral raaigras moet ons vroeg in die seisoen vang – Mei, Junie wanneer dit opkom,” is Erik se raad.
“Gebruik alternatiewe produkte en maak mengsels, byvoorbeeld met propisamied, “fops” en “dims” saam met glifosaat, terbutielasien saam met glifosaat of parakwat of glifosinaat saam met parakwat.”
Vaalskraalhans is weerstandbiedend teen glifosaat en parakwat, en raak onderskeidelik 40 000 ha en 50 000 ha. Vaalskraalhans kom vroeg in die winter op en moet dus vroeg bekamp word. “Gebruik ’n geskikte benatter. Die plant het harige blare en die klein druppeltjies gaan sit in die hare en verdamp pleks van om opgeneem te word. Maak mengsels. Moenie die bydrae van terbutielasien by glifosaat of parakwat onderskat as vaalskraalhans nog in die rosetfase is nie.”
Volgens Erik kom Natalgras algemeen langs die paaie voor, maar dit word nou ook in wingerde opgemerk. Hy beveel ’n selektiewe na-opkomsgrasdoder vir somergrasse aan. “Die sanitasie van jou uitvalgrond is baie belangrik. Die eerste prys is om Natalgras uit te spuit sodat dit nie in jou wingerde kom nie.”