Kontantvloei bestuur maak ander plaasbesluite maklik
Jy moet net soveel tyd in jou kantoor as in jou skaapkraal of land deurbring, glo mnr. Hannes Esterhuyse van Williston. Hy het ’n tradisionele skaapboerdery vlerke gegee met lusern- en uiesaadproduksie, maar sy belangrikste bestuur s meganisme bly sy kont
Nege jaar lank het mnr. Hannes Esterhuyse net met sy oë gesteel. “Ek het in die afdeling landbou-ekonomie by die Land Bank op Cradock gewerk en baie besoekpunte op plase by boere gehad. Ek het gesien wat werk en wat nie, ook wat is die verskil tussen boere wat vorentoe gaan of nie,” vertel dié boorling van die plaas Volstruisfontein naby Williston.
Hy het aan die Landboukollege Grootfontein gestudeer en die graad B.Tech. (landboubestuur) aan die Port Elizabethse Technikon behaal het.
Hierdie ervaring was goud werd toe hy in 2003 die leisels by sy pa, Harry, oorgeneem het. Sedertdien voer hy die JVE Boerdery na nuwe hoogtes met streng kontantvloeibestuur en nuwe vertakkings, soos lusern (wat as voerbank dien en sy drakrag verbeter het) en uiesaad (wat ’n uitvoerproduk is en op ’n klein area winsgewend gelewer kan word). Sy pa het destyds self met 800 Dorperooie geboer en met ’n verdere 800 ooie in ’n vennootskap. Vandag boer Hannes met 2 200 Dorperooie, 80 ha lusern, sowat 2,4 ha uiesaad en 30 Angusbeeste (wat die fluitjiesriet langs die rivier benut). Danksy waardetoevoeging het hy sy inkomste per hektaar met 53% opgestoot en sy inkomste per ooi met 34,5% laat styg.
“My pa is oopkop. Ons het dinge goed deurgepraat voordat ek kom boer het. Ek het die Donderdag hier aangekom, toe sê my pa ek het af tot Maandag, maar dan moet ek die orders gee. Hy het alle verantwoordelikheid aan my oorgedra.”
Later vertel Harry dít was die beste besluit wat hy in sy boerderyloopbaan geneem het. Vandag drink die twee soggens ’n koppie koffie saam en Hannes toets sy idees en planne by Harry (75), wat hom heelhartig ondersteun. “As ons ’n probleem op die plaas het, sal hy ’n plan hê en ek sal ’n plan hê, maar ná ’n koppie koffie en ’n bietjie gesels is die derde plan gewoonlik die beste.”
WEES STRATEGIES
Terwyl Hannes deeltyds vir sy graad in land-
boubestuur gestudeer het, het hy veral die vakke in finansiële en strategiese bestuur waardevol gevind.
Finansiële bestuur het hom geleer om nie bang te wees vir skuld nie, solank jy jou kontantvloei goed beheer. “As jy nie skuld gebruik nie, brei jy nie uit nie.”
Sy kontantvloeibegroting haal die skrik uit skuld uit. Hannes het op Excel vir hom ’n begroting vir 24 maande opgestel wat hy baie sorgvuldig bestuur.
Hy ens y vrou, Irene, behartig die administrasie en boekhouding saam. Hannes rekonsilieer die bank-en koöperasie rekeninge aan die einde van elke maand en werk die kontantvloei staat by. Irene behartig betalings en elke twee maande die BTW.
“Ek trek maandeliks state en vul dan die werklike syfers in op my kontantvloeibegroting. Ek moet weet wat kom in en waarheen elke sent gaan. Op 28 Februarie het ek dus my werklike syfers (vir die boekjaar), maar daaronder het ek ook die begroting vir die volgende 12 maande. Boerdery is mos ’n langtermynding, daarom moet jy vooruit kan kyk en kan sien wat die uitwerking van ’n droogte of jou lammeroes gaan wees op jou paaiement wat eers volgende Maart betaal moet word,” sê Hannes.
Hy wil dus ’n jaar vooruit kan sien, al sê ander boere dis onmoontlik, veral met
skaapboerdery. “Die begroting is nie staties nie, ek kan dit elke maand verander. Ná ’n paar jaar weet jy ook as jy byvoorbeeld in April reën kry, lyk jou inkomste in Oktober en November beter, en jy kan dit so aanpas op die begroting. Jou vaste uitgawes is alles daar, al wat eintlik verander i sjou voer rekening, brandstof rekeninge n inkomste. ’n Boer wat wegskram van ’n kontantvloeibegroting . . . ek weet nie, dis een van my beste bestuur s meganismes .”
Dié inligting maak immers ander besluite makliker. “Die tyd wat jy agter jou rekenaar in jou kantoor is, moet net soveel wees soos die tyd in die kraal.”
Hy bestuur sy veegetalle op ’n soortgelyke manier. Hy koppel huurgrond aan veegetalle en boer op sy eie en huurgrond afsonderlik, hoewel sy eie grond ook as ’n eenheid beskou word. Die veegetalle word dan aangeteken volgens ooie, ramme, jong ooie, jong ramme en marklammers.
“Ek kan dus altyd sien hoeveel lammers daar is. Dié syfers trek ek deur na my kontantvloeibegroting toe.”
Hy teken ook die veegetalle op sy selfoon se notaboek-funksie aan, sodat dit byderhand is wanneer hy kampe besoek.
“Jy moet weet om te meet. As ek skape verkoop, voer ek die inligting oor kilogramme en die inkomste in, sodat ek die persentasies vir die boekjaar kan uitwerk en kan vergelyk hoe die jaar verloop teenoor die voriges.”
Só bereken hy gemiddelde karkasgewigte asook die kilogram vleis gelewer per hektaar per jaar.
“Ek kan my inkomste met my inkomste van 2003 vergelyk, sien hoe die inkomste per karkas toegeneem het en dit vergelyk met die abattoir se gemiddelde prys per kilogram.”
In die bemarkingstyd 2003-’04 was die gemiddelde prys van skape by Willistonabattoir R333,50. JVE Boerdery se prys was R343,47. Deur die jare kon Hannes die gaping rek. In 2016-’17 was die gemiddelde prys by dié slagplaas R1 074,37 – syne was R1 158,39.
Met hierdie inligting skep hy eenvoudige grafieke, waar hy die reënvalneiging bysit.
“’n Interessante grafiek is altyd vir my die voerkoste per skaap gelewer teenoor die reënvalneiging. Dit toon elke keer hoe voerkoste styg namate reënval afneem.”
Benewens Volstruisfontein het Harry destyds ook in vennootskappe met ander boere geboer. Hannes het dit gestaak en met die hulp van Tenk Loubser en Vennote op Stellenbosch die ondernemingsvorme verander. Die grond is in die JV Esterhuyse-trust en AJ Esterhuyse-trust geplaas en hulle het ’n beslote korporasie (BK), die JVE Boerdery BK, gestig waarvan Harry en Hannes lede is. Die BK besit ál die los bates en huur die grond by die trusts en ander mense.
NUWE VERTAKKINGS NODIG
Hoewel die boerdery gegroei het, het Hannes by ’n punt gekom waar hy besef het “as ons aangaan soos ons aangaan (met slegs ’n skaapboerdery), gaan ons nie vir lank kan aangaan nie”. Hy wou doeltreffender wees, maar in die harde Karoo se ekstensiewe toestande is dit makliker gesê as gedaan om vleisproduksie te verhoog. Droogtes, afstande en roofdiere is maar net ’n paar van die probleme waarmee hy daagliks te doen het.
“Die gemiddelde kommersiële boer is ’n prysnemer, want ons boerderye is te klein om groot bemarkingskontrakte te beding. Ek het geen beheer oor die prys van my produkte nie, maar ek het beheer oor wat op my plaas gebeur. Daarom het ek gekies om te diversifiseer, my produksie te verbeter en doeltreffendheid te verhoog.”
Hy het ses jaar gelede van hul bergagtiger grond verkoop en ’n plaas langs die Rietrivier aangeskaf, waar hy 80 ha lusern kan verbou. Deur ’n deel van sy eie voer te verskaf, kry hy beheer oor ’n deel van die waardeketting wat voorheen buite sy plaashek gelê het.
Die lusern groei op lande wat met lasertegnologie waterpas gemaak is en word een tot twee keer per jaar, as daar goeie reën val, met ’n saaidamstelsel uit die Rietrivier besproei. Die water word met ’n keerdam uit die rivier gekeer en met groot vore na die lande (wat wissel van 5-10 ha) gelei, waar hulle 300-400 mm water plaas.
“Na gelang van die tyd van die jaar, kry ons met een keer se waterlei tot twee snitte
plus ’n saadoes of goeie weiding.” ’n Goeie snit lewer sowat 500 ronde bale op.
“Ons sny nie so baie ton per hektaar soos met besproeiing s lusern nie, maar besproeiing s koste is baie la a genek wil nooit weer sonder ’n voerbank wees nie. Dit gee ’n mens meer opsies en ’n bietjie gemoedsrus, want jy kan jou ooie voer in droogtetye en só seker maak hulle raak dragtig.”
Die lusernvertakking het hom gehelp om sy amptelike drakrag van 38 ha/GVE (grootvee-eenheid) of een ooi per 10 ha te handhaaf gedurende die droogte.
“Die weiding is ’n bonus en kosbaar in droogtetye, soos nou.” Die weidings van die afgesnyde lusern word vir tweeling-ooie, ou ooie en jong ooie gereserveer.
Hannes se produksiedoelwit is om een lam per ooi per jaar te bemark, maar hy mik na ’n swaarder lam wat 18-20 kg weeg en wat hy regstreeks van die veld af kan bemark. “Dit klink dalk laag, maar met ons toestande en ’n gemiddelde reënval van 160 mm per jaar is dit nie so maklik om te vermag nie.”
Twee uit vyf jaar is die reënval boonop ondergemiddeld, tot so min as 50-60 mm per jaar.
In droogtetye verskaf hy kruipvoeding op die veld en alle lammers word deur die voerkraal bemark. Danksy die kruipvoer pas hulle makliker in die voerkraal aan.
WEN MET UIESAAD
Twee jaar gelede het Klein Karoo Saad van Oudtshoorn ’n inligtingsdag op Williston gehou. Hannes het nie teruggedeins vir die kapitaaluitgawe of die arbeid wat dit sou vereis nie, maar dadelik op die wa geklim om uiesaad met drupbesproeiing op kontrak vir Klein Karoo Saad te begin lewer.
“Dis ’n uitvoerproduk en die kontrakprys is dus in dollar of euro, maar ’n vereiste is dat die saad se ontkiemingskoers hoër as 85% moet wees.”
Williston se klimaat, met sy hoogte bo seevlak, koue winters en warm, droë somers, is ideaal vir uiesaadproduksie. Die saad vaar veral goed in die hoërliggende dele van Europa. Die Karooplase is ook ver uit mekaar geleë, wat die gevaar van kruisbestuiwing beperk.
“In die eerste jaar (2015) het ek net 0,6 ha rooi-uiesaad (TRI-kultivar) geplant, want ek wou nie hoë kapitaaluitgawes aangaan en dan stamp ek my kop nie.”
Die aanplanting het ’n ongelooflike oes van altesame 1 432 kg skoon saad opgelewer. Dit het aan hom die eerbewys besorg as Klein Karoo Saad se beste rooi-uiesaadprodusent (vir aanplantings kleiner as 5 ha), asook die eerbewys vir beste nuwe toetreder van die jaar.
Verlede jaar het hy sy aanplantings opgestoot tot 1,6 ha van die rooi-uiesaadkultivar Pink Diamond. Aanvanklik het dinge baie belowend gelyk, maar juis toe Hannes die geleentheid bywoon waar hy sy eerbewyse ontvang het, het swartryp toegeslaan.
“Die skade was groot, maar ons het aanhou water gee en voorkomend gespuit teen die Alternaria-swam. Die oes het wonderbaarlik herstel. Ons het op die 1,6 ha altesame 4 521 kg skoon saad geoes.”
Tydens Landbouweekblad se besoek was die volgende aanplantings reeds in die grond. Dié keer is dit 1,2 ha van ’n wituiesaadkultivar en 1,2 ha van ’n basterui.
Klein Karoo Saad verskaf die bolle, wat Hannes-hulle in April plant teen ’n stand van 130 000-150 000 bolle per hektaar. Oestyd is laat Desember en vroeg Januarie.
“Uiesaadverbouing is ’n goeie vertakking, want jy kan op ’n klein area ’n taamlik goeie inkomste verdien, maar dis nie sonder risiko’s nie en verg hoë kapitaaluitgawes.”
Hannes vertel die uiesaad gebruik net ’n derde van die water wat lusern vereis. Daarom kan hy tot drie keer meer uiesaad met dieselfde hoeveelheid water aanplant.
Uiesaadverbouing is arbeidsintensief. Hannes gebruik baie tydelike werkers, veral in plant- en oestyd. “Ek glo aan bemagtiging en opleiding. My werkers moet almal alles kan doen, maar elkeen het sy sterk punte en belangstellings. As hier tydelike werkers is, raak my permanente werkers deel van die bestuur. Hulle weet al hoe ek dink en hoe ek dinge gedoen wil hê.”
EERSTE LUSERNSAAD
As hulle tydens die tweede helfte van die jaar reën kry, sny hulle een of twee snysels en daarna laat hulle die lusern staan vir saad.
“Ons vat die bye met oestyd weg van die uiesaad af en bring dit na die lusern toe om die lusernblomme te bestuif.”
Sy opbrengs wissel na gelang van bestuiwing, lusernstand, grondvog en temperatuur.
“Verlede jaar het die rivier in Augustus geloop, waarna ons in November en Desember lusern gesny het en in Februarie lusernsaad geoes het.”
Hulle het sowat 2 ton saad geoes, wat nog skoongemaak en gesertifiseer moet word voordat hulle dit kan bemark.
Dit gaan in die toekoms moeiliker wees om horisontaal uit te brei, glo Hannes, maar nuwe tegnologie bring geleenthede om vertikaal uit te brei. Hy meen elektroniese oorplaatjies, skaaphanteringstoerusting en laparoskopie (om onder meer sy lamtyd te sinchroniseer) is opsies by sy skaapboerdery.
“Ek oorweeg dit ook om die voer wat ek lewer, deur ’n voerkraal te sit om waarde toe te voeg tot my lusern en skape. Net so kan ek betrokke raak in die hele ketting van saadproduksie en my eie bolle kweek. Ek meen ook ondergrondse drupbesproeiing vir lusern kan goed werk.”
‘As jy nie skuld gebruik nie, brei jy nie uit nie.’