SUIWELBEDRYF TRAP KLEINER SPOOR
Danksy moderne produksie praktyke kon die melkbedryf in Amerika sedert 1944 sy koolstofspoor per kilogram melk met 63% laat krimp.
“Met verloop van tyd het die melkbedryf groter en intensiewer geraak. In die meeste lande sien jy meer koeie in behuising as 20 jaar gelede ,” sê dr. Jude Capper, dierewetenskaplike van Brittanje.
Amerikaanse statistieke toon elke koei se koolstofspoor het van 1944 tot 2007 verdubbel. In 1944 was bykans die helfte van die Amerikaanse nasionale kudde Jerseys/Guernseys en die res was Holsteins/Ayrshires.
“Deesdae bestaan die kudde sowat 90% uit Holsteins. Die koeie is groter, vreet meer en breek meer winde op. Daarom is dit waar dat die koolstofspoor per koei hoër is. Maar produktiwiteit en doeltreffendheid het ook verbeter, want ons almal boer beter as ons ouers en grootouers.”
Die koolstofspoor per kilogram melk is dus ’n beter maatstaf. Sy het Amerikaanse data aangehaal waarvolgens die melkopbrengs per koei in 1944 sowat 1 800 kg/jaar was. In 2007 het ’n melkkoei ongeveer 8 600 kg melk per jaar gelewer.
“Die melkopbrengs per koei het in dié tyd viervoudig verbeter. Dieselfde algemene neiging geld in bykans elke ontwikkelde melkbedryf.”
Dit beteken melkboere het in 1944 altesaam 25,6 miljoen koeie nodig gehad om 53 miljard kg melk te lewer. Teen 2007 kon dieselfde hoeveelheid melk met net 9,2 miljoen koeie gelewer word.
“Amerika lewer dus 59% meer melk van 64% minder koeie. Moderne melkproduksie in Amerika gebruik aansienlik minder hulpbronne en stel minder koolstof vry,” sê Jude.
Die totale kweekhuisgasse wat gebruik word om 1 kg melk te lewer, het oor dieselfde tyd met 63% afgeneem.
Sy sê die kleiner koolstofspoor volgens melkproduksie geld die meeste ontwikkelde lande.
“Dis belangrik om so daaroor te dink, want die internasionale melkbedryf se doel is nie om koeie, kalwers of verse te lewer nie, maar om melk te lewer waarvan botter, kaas, jogurt en roomys gemaak kan word. Ons moet dus eerder per uitset daarna kyk,” meen Jude.
Volgens haar verg hedendaagse kuddes net 23% van die voer, 35% van die water en 10% van die grond wat kuddes in 1944 gebruik het. Die bedryf se algehele koolstofspoor is 41% kleiner as in die vorige eeu.
Boere oor die wêreld heen staan voor die uitdaging om teen 2090 kos te lewer vir 10 miljard tot 11 miljard mense. Hoewel die mense ryker gaan wees – met ’n groter aptyt vir produkte soos melk, vleis en eiers – gaan die hoeveelheid bewerkbare grond per persoon heelwat minder raak.
“Ons moet dus meer kos lewer, maar met minder grond en moontlik ook minder watere n fossiel brandstowwe. Die koolstofspoor gaan ook ’n al groter kwessie word.”