GROOT MIELIEOES VEREIS GOEIE SAMEWERKING
Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, is iemand met ’n hartstog om infrastruktuur vir die landbou te skep en te onderhou. Dié deursettingsvermoë gaan vanjaar vir mielieprodusente dividende verdien.
Een ding waaroor produsente nie besorg hoef te wees nie, is of Suid-Afrika voldoende infrastruktuur in die hawens en ook ten opsigte van spoor- en padvervoer het om ’n groot deel van vanjaar se mielieoes doeltreffend te kan uitvoer. Suid-Afrika het in die bemarkingsjaar 1994-’95 altesame 4,7 miljoen ton mielies uitgevoer.
Daar is egter vier struikelblokke wat ’n stok in die wiel van uitvoer kan steek.
Eerstens sal die uitvoer van mielies uit Mpumalanga nie optimaal kan geskied nie. Die wedywering met die vervoer van steenkool in daardie provinsie maak uitvoer moeilik.
Tweedens het plaaslaai toegeneem en dit maak staat op die padvervoer infra s tru kuur. Treinvervoer het nie toegang tot plaaslaaigeriewe nie.
Derdens is toewyding aan die uitlaai van silo’s 24 uur per dag en sewe dae per week ’n vereiste om die uitvoertempo te handhaaf.
En vierdens vereis trein vervoerkapasiteit dat die vraag na ’n kommoditeit se in- en uitvoer ’n jaar vooruit beplan moet kan word. Dit is eenvoudig nie moontlik nie.
HOEVEEL MIELIES?
Die verwagting is dat Suid-Afrika vanjaar tot einde April 2018 slegs 2 miljoen ton mielies sal uitvoer. Die uitvoerbare surplus is egter heelwat meer teen net meer as 4,1 miljoen ton.
Die hoeveelheid wit mielies wat vir uitvoer beskikbaar is, beloop 2,4 miljoen ton. In die geval van geel mielies is 1,7 miljoen ton vir uitvoer beskikbaar. Dit sluit ’n oordragvoorraad van nagenoeg 1,2 miljoen ton uit, wat vir ’n oordragvoorraad van 45 dae bestem is.
UITVOERPROGRAM
Dit lyk of daar genoeg belangstelling en geesdrif onder belanghebbendes in die bedryf is om hul samewerking te gee om die uitvoerprogram klopdisselboom te laat verloop.
Die sukses van hierdie program hang daarvan af dat alle belanghebbendes behoorlik met mekaar kommunikeer en uitvoeraksies goed koördineer.
Die grootte van die oes het die bedryf egter onkant gevang. Daar moes reeds drie maande gelede daarvoor beplan word omdat marktoegang nie oornag geskep kan word nie.
Benewens Kenia, wat ’n tekort van nagenoeg 1,1 miljoen ton mielies weens droogte ervaar, het die ander lande in Afrika wat tradisioneel wit mielies invoer, nie ’n behoefte aan invoer nie. Inteendeel, dié lande kan na Kenia uitvoer. Die uitvoerprogram sal dus oorwegend klem moet lê op die uitvoer van geel mielies na die Ooste en Midde-Ooste (sien die TABEL ).
ONDERSTEUNING
Die Suid-Afrikaanse Departement van Landbou was reeds in aanraking met Suid-Korea, Taiwan, Japan, Saoedi-Arabië, Jordanië, Iran, Irak, Koeweit, Jemen en die Verenigde Arabiese Emirate.
Suid-Korea en Taiwan het aangedui hulle sal GM mielies uit Suid-Afrika invoer. Uitvoerders moet seker maak hulle voldoen aan die invoervereistes van dié twee lande. Die ander genoemde lande se invoervereistes is nie bekend nie en daardie lande het ook nog nie op Suid-Afrika se versoeke vir die uitvoer van GM mielies geantwoord nie.
GEVOLGTREKKING
Uitvoer kan nie gebeur sonder mielies wat reg geprys is nie. Produsentepryse het reeds in sekere gebiede tot laer as die uitvoerpariteit van R1 800 per ton gedaal. Niemand kan van produsente verwag om mielies teen pryse laer as produksiekoste te verkoop nie.
Die intensiewe lewende hawebedrywe herstel teen die huidige prysvlakke. Gevolglik hou produsente ’n deel van hul mielies terug om hopelik later teen hoër uitvoerpryse te verkoop wanneer die rand swakker vertoon of die Amerikaanse geelmieliepryse weens droogte hoër verhandel. Vir ander is dit beter om nou ’n deel te verkoop en skuld te delg.
Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior ekonoom by Absa-Agribesigheid in Johannesburg.