Meet produktiwiteit op nuwe maniere
Ekonomiese lewensvatbaarheid hoef nie’ n probleem te wees vir melkboere nie, glo dr. Jude Capper, ’n Britse diere wetenskaplike. Deur vaste onderhoudskoste te “verdun”, kan sake aansienlik rooskleuriger op melkplase lyk. Sy doen twee maniere aan die hand
Net soos daar nie ’n beste ras is nie, kan daar ook nie een oplossing wees wat vir almal in die melkbedryf geld nie. Die sleutel tot ekonomiese volhoubaarheid op ’n melkplaas lê egter in twee woorde: doeltreffendheid en produktiwiteit.
Dr. Jude Capper, ’n diere wetenskaplike en volhoubaarheid s konsultant van Brittanje wat die produktiwiteit van die vee- en voedselstelsel ondersoek, se raad is dat melkboere alles in hul vermoë doen om hul vaste onderhoudskoste te verdun deur meer vaartbelyn te raak.
Jude, die spreker op die Durbanville-boerevereniging se algemene vergadering, het dit vergelyk met ’n hotel wat probeer energie bespaar deur saans ligte en rekenaars af te skakel en die elektrisiteitstoevoer na die gimnasium af te skakel.
“In ’n melkery kan jy ongelukkig nie die koeie afskakel nie. Daar is ’n vaste energiekoste per dag, gegrond op liggaamsgewig en aktiwiteitsvlak, wat betaal moet word vir
die kudde, ongeag of daar verse, lakterende of droë koeie is. Dis dié vaste koste van melkproduksie wat jy moet betaal voordat jy enigiets anders kan doen.”
As produktiwiteit egter styg, sal dit die vaste koste verwater. Dit bring groter doeltref- fendheid mee, verminder ekonomiese koste en verbeter ook die melkbedryf se impak op die omgewing.
Jude het twee maniere voorgestel om die verdunningseffek op onderhoudskoste moontlik te maak: Verhoog melkproduksie of pas koeie se liggaamsgewig aan.
VERHOOG MELKPRODUKSIE
Die daaglikse energie wat nodig is om ’n koei te onderhou, neem af van 50% tot 25% van die vaste onderhoudskoste vir ’n koei wat 15 kg melk per dag lewer, teenoor ’n koei wat 45 kg melk op ’n dag lewer. (Die inligting is gegrond op die voedingstof vereistes vir’ n Holstein-melkkoei wat 681 kg weeg en 3,8% vet en 3,1% proteïene lewer). Sien GRAFIEK 1 .
“Dis ’n baie doeltreffender stelsel. Die energievereistes per kilogram melk kom met byna ’n derde af van 9,4 MJ/kg tot 6,3 MJ/kg – net deur produktiwiteit te verbeter.”
As in ag geneem word dat voerkoste van 60% tot 80% van ’n melkboer se totale veranderlike koste per eenheid melk uitmaak, sal verhoogde melkproduksie gou ekonomiese besparings teweeg bring.
Namate ’n koei se melkproduksie toeneem, sal haar inname van droëmateriaal ook styg.
Jude voer aan ’n koei wat 15 kg melk per dag lewer, vreet sowat 13,6 kg droëmateriaal per dag. Dis teenoor ’n koei wat 45 kg melk per dag lewer, wat 27,3 kg droëmateriaal per dag benodig.
“Op die grondslag van voer per kilogram melk het doeltreffendheid verbeter, want die minder produktiewe koei benodig 0,9 kg droëmateriaal per kilogram melk, terwyl die produktiefste koei 0,61 kg droëmateriaal per kilogram melk benodig. Ons verminder dit weer met ’n derde.”
GEWIG EN AKTIWITEITSVLAKKE
Jude het ook ondersoek ingestel na die invloed wat ligter koeie op ’n melkery se onderhoudskoste het.
“Melkopbrengs is nie die enigste faktor nie. As ons na onderhoudskoste kyk, hang dit ook af van die aktiwiteitsvlak en liggaamsgewig van die koeie. Die invloed is nie so drasties soos die melkopbrengs per koei nie, maar dit bevestig die punt dat ons na melkproduksie moet kyk ten opsigte van produktiwiteit per eenheid of per liggaamsgewig, en nie noodwendig per plaas of per hektaar nie.”
Sy het van die aanname gewerk dat aktiwiteitsvlakke en melkproduksie( sowel as vet-en proteïen produksie) onveranderd bly, maar die koeie se liggaamsgewig word aangepas, hetsy deur oor te slaan van Ayrshires na Jerseys of van Jerseys met ’n groter raam na Jerseys met ’n kleiner raam.
“Dit word uiteraard in ’n mate beperk deur die geriewe op die plaas. As die melkstal net plek het vir 200 koeie, kan jy net soveel aanhou. Of as jy kompartemente het waarin koeie met ’n maksimum gewig van 600 kg gemaklik is, gaan groot koeie nie vir jou werk nie. Ideaal gesproke kan jy egter die koei se liggaamsgewig verander,” het Jude gesê.
Haar studie het getoon namate die liggaamsgewig afneem, volg die porsie energie wat nodig is om die koeie te onderhou, dieselfde afwaartse neiging ( GRAFIEK 2 ).
Wanneer ’n berekening gemaak word oor wat dit sou verg om 0,7 kg kaas per 100 kg liggaamsgewig te lewer, blyk dit ’n betreklik klein koei wat die skaal op 450 kg laat trek en altesame 25,2 kg melk per dag lewer, is presies op gelyke voet met ’n koei wat 600 kg weeg en 33,6 kg melk per dag gee of ’n groot koei van 750 kg wat 42 kg melk per dag gee (sien GRAFIEK 3 ).
“Wat op jou plaas werk, gaan nie noodwendig op ’n ander boer s’n werk nie. Die klimaat, arbeid, vetpersentasies, ens. is anders. Dit beteken daar is nie ’n ideale koei nie, maar wat saak maak, is die uitset per kilogram liggaamsgewig. Daar is nie een ding wat ’n boer beter kan doen nie, buiten om álles beter te doen.” NAVRAE: Dr. Jude Capper, e-pos: jude@ livestocksustainability.com; webwerf: www. bovidiva.com