BEHANDELING TEEN SPYKERWURM
Hoe word spykerwurm aan skape oorgedra en hoe kan dit voorkom word? Ek verstaan die wurm kan ’n dier feitlik “lewend” opvreet. Hoe kan ek spykerwurm bekamp en kan ek terselfdertyd ’n makrosikliese laktoon en bloednier-entstof spuit? Die naam “spykerwurm” laat ’n mens dadelik aan wurmbesmetting dink. “Spykerwurm” is egter ’n beskrywing van die maaiers van die beesbrommer (Chrysomya bezziana). Hierdie brommer is kort en breed, en is metaalblou, met ’n geel gesig en rooibruin oë. Agter die kop, op die bokant van die vlieg, is daar twee donker merke wat soos driehoeke lyk. Die beesbrommer se vlerke is deursigtig.
Die beesbrommer kom veral in Limpopo, die Laeveld van Mpumalanga, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal voor. In nat somers kom hulle in ’n baie groter gebied voor. Hulle verkies warm weer en val veral beeste aan, maar kan ook skape, perde, honde en kan selfs die mens besmet.
Die beesbrommer teel slegs in wonde van lewende diere. Die vlieë lê hul eiers in enige wond, soos bosluisbyte, skraapmerke, wonde wat deur horings en mense veroorsaak is, soos waar horings afgesny word, asook kastrasiewonde. Die eiers broei binne ’n dag uit en dan boor die klein maaiers in die vleis in.
Soms sien ’n mens net ’n swelsel wat soos ’n sweer lyk. As ’n mens die swelsel oopsny, kan die maaiers in ’n bloederige massa gevind word.
In ander gevalle is daar ’n groot wond met die maaiers wat diep in die wond indring sodat net hul agterkante sigbaar is. Die volgroeide larwes is 10-15 mm lank, met bande van stekels wat agtertoe wys. Ná drie tot sewe dae kruip die maaiers uit die wond, val op die grond en kruip in die grond om ’n papie te vorm. Ná ongeveer drie tot sewe dae kruip ’n vlieg uit die papie.
Die wonde kan op enige plek op die dier se liggaam voorkom en nuwe besmettings vind plaas sodat wonde groter word en begin stink. Die maaiers skei ook gifstowwe af wat diere siek maak. Wonde kan ook deur bakterieë besmet word. As die wonde nie behandel word nie, kan die diere vrek.
BEHANDELING
Deur diere met ’n makrosikliese laktoon- bevattende middel te behandel, word maaiers doodgemaak. Hierdie middels word onderhuids toegedien en kan gelyktydig met bloednierentstof toegedien word.
Wonde self kan met’ n ontsmettingsmiddel uitgespoel word en daarna bespuit word met ’n wondsproei wat insekdoder bevat.
Om die dier onaantreklik vir vlieë te maak, asook om bosluise te bestry, kan diere met ’n piretroïed of organiese fosfaat gespuit word, wat ook vir gebruik teen vlieë geregistreer is.
Ondersoek diere gereeld om wonde wat hulle mag hê, te behandel.
Moenie hierdie kondisie verwar met brommeraanvalle wat veroorsaak word deur die groenbrommer (Lucilia cuprina), die koper stert brommer( C h rys o my a chloropyga ) of die gestreepte groen brommer (Chrysomya albiceps )nie. Dr. Faffa Mala nis bestuurder van die Herkouer veterinêre Vereniging van Suid-Afrika.