Landbouweekblad

Die kruiwa met die vat

’n Man sluk moeilik sy trane weg as hy ewe grootmenee­r met Pa se nuwe trekker op die bure se werf stop, net om sy transport daarna drasties te laat afgradeer.

- My skaduwee het sommer groot gelyk en ek het my hoedjie effe skeef gedruk dat ek soos ’n grootman kon lyk.

Desemberva­kansies oor die Groot Dae het ons skaapwagte­r met leave gegaan en dan moes ek en Sarel, my ouer broer, om die beurt vee oppas en op die veewerf uitslaap.

Ma het jou kos vir twee dae in ’n looisakkie gesit en jy het dit op jou rug saamgedra. Gelukkig het ons twee werfhonde ook saamgeloop.

Ek was nog op laerskool en om snags alleen in die oop veld te slaap, was vir my as kind ’n onaangenam­e ondervindi­ng, want ek was bang. By die veewerf was net ’n drom water en ’n takskermpi­e met jou beddegoed. Saans het jy ’n vuurtjie gemaak en ’n stukkie geëet en kort-kort bang oor die heining geloer. Dan het jy later die duikerklee­djie oopgerol en onder die velkombers ingekruip, met die twee honde opgekrul weerskante van jou.

Gedurende die jaar het Pa vir ons ’n trekker gekoop en ek het bedags agter die vee gewonder oor die dag wanneer Pa vir my die kans sal gee om hom te ry.

As Pa middae gaan rus het, het ons kinders skelmpies gaan opklim, die stuurwiel heen en weer gedraai en met ons voetjies die clutch en briek getrap en met ons lippies gedreun dat die spoeg spat.

SPOGGERIGE TRANSPORT

Dit was Sarel se beurt om die skaap op te pas en ek het vir Pa en Oesman by die ou smidswinke­l gehelp om aan ’n damskraper te werk. Terwyl ons rustig werk, het Pa uit die bloute vir my gesê: “Jong, gaan vat die trekker en sleepkar en gaan haal by ou Bertus Blokkie ’n swaaihek en die sesgelling-vaatjie.”

Hierdie onverwagse opdrag het my tot in my velskoene laat lekkerkry. Ek het opgewonde huis toe gedraf waar die trekker onder die bome staan en my jonger broer, Koos, en susters vertel dat ek met die trekker gaan ry.

Hulle het my ywerig gehelp om die sleepkar te haak. Ek was nét die man toe ek ten aanskoue van al die kinders daar wegtrek.

Ek het die diesel-lever langs die stuurwiel oopgetrek en gevoel hoe die rooi hings onder my lewe kry. Toe ek by die smidswinke­l verbyry, keer Pa my voor en order my nog ’n slag: “Jong, vra ook vir ou Bertus dat hy my sy lang boor moet leen om die gate van die hek te boor.” Met ’n “Ja, Pa” is ek haastig daar weg.

Ek het die Massey Harris gou in pad-gear gekap en so ’n salige gevoel gekry omdat ek nou die kans gehad het om hom te bestuur. Ek het my lankal ingesuur en gedroom van hierdie dag en het gewens my skoolmater­s op Wallekraal kon my nou sien.

Soos ek gery het, het ek my skaduwee uit die hoek van my oog dopgehou. My skaduwee het sommer groot gelyk en ek het my hoedjie effe skeef gedruk dat ek soos ’n grootman kon lyk.

Oom Bertus en ant Leentjie was ons bure. Hulle was bejaarde mense wie se kinders reeds almal getroud en uit die huis uit was. Toe ek op hulle werf aankom, het ek voor die huis gaan trekker doodgetrek. Ant Leentjie het uitgekom met hare wat in alle rigtings waai en my verbaas aangekyk.

“My jimmels, Gertjie, van wanneer af ry jy hierie groot ding? Is jy nie bang jy kan doodverong­eluk mit hom nie? Waarom is jou pa so ongerekend om jou so ver alleen mit so ’n gevaarlike ding te stuur?” het sy gegroet.

Ek het net verleë geglimlag, maar by myself gedink: Wat meen die antie? Ek is mos al hoeka groot en bekwaam.

AFVAL EN GESELSIES

Ant Leentjie was in die kookskerm besig om afval te skraap. Sy het kruppel-kruppel voor my uit geloop met die skraapmes nog in haar hand. Haar lang, swart rok het op haar enkels gehang en in die sterk wind kon ek die knoppe van haar skouerblaa­ie duidelik sien. Sy was ’n lang, seningtaai­e boervrou wat enige man se werk uit sy hande kon vat. Almal het geweet sy stuit vir geen duiwel nie en sy was skerp met haar tong.

Op die kookhuis se heining het die kapaterbok se kop met dowwe oë gesit en die klaar geskraapte pens het tussen die blikbekers aan die skermstok gehang. Op die vuurherd het die driebeenpo­t gestaan, met die bok se vier pote regop teenmekaar gestaanmaa­k, terwyl ant Leentjie kort-kort haar vingerpunt­e in die water steek om die hitte te toets.

Terwyl sy ’n poot uithaal en met die skraapmes se punt sukkel om die klou uit te dop, het die uitvraery in alle erns begin. Ek moes eers verslag doen oor hoe dit by die huis gaan.

“Gertjie, my kjint, wat maak Miemie? Wat maak jou pa? Wanneer laas was jou pa dorp toe? Wanneer laas het julle die smous gewaar? Julle het mos darem ’n foun – hoor julle nie van iemand wat siek of dood is nie? Ons twee sit mos so allenig hier soos twee uile op ’n kluit en hoor of sien mos nie ander mense nie.”

Ek was haastig om my vrag te laai, maar ek moes geduldig eers alle vrae beantwoord, want hulle was eensaam en daar het maar min mense by hulle gekom.

Ek het angstig na die trekker geloer om te ry toe oom Bertus eindelik om die hoek van die huis kom. Met sy een hand het hy sy groot hoed met die breë rand op sy kop vasgedruk, want die suidewind was nou sterk.

Onder sy hoed het ’n paar grys krulhare bokant sy waterige ogies uitgeloer. Onder sy half opgerolde moue het sy fris, bruingebra­nde voorarms uitgehang en dit het gelyk of sy groot hande aan sy polse vasgeskroe­f was. Daardie groot hande kon

raakvat en doodvat.

Toe hy nog in sy “môres” was, was hy ’n bielie van ’n kêrel – ’n vierkantig­e jongetjies­mens uit wie se hande jy moes bly. Dis hoekom hy die bynaam “Blokkie” gekry het. Met sy stoppelbaa­rd, welige snor en rooierige opslag het hy soos Rooijan van die boeke gelyk.

Ek het opgekyk en oom Bertus met ’n bewerige stemmetjie gegroet terwyl hy bo my uittroon. Ek moes weer dieselfde vrae oor my ouers se welsyn beantwoord en nou het die doel van my sending ter sprake gekom. “Oom Bertus, ek kom haal mos die hek, en dan het Pa ook oom Bertus se lang hekboor gevra.”

Ons het die swaaihek op die sleepkar vasgemaak en met die groet sê oom Bertus met sy harde stem: “Jong, sê vir jou pa hy moet tog nie lat my boor breek nie.”

Toe ek vir ant Leentjie gaan groet, staan sy op en kom hinkepink by die deur uit en bekyk die trekker. Sy druk haar yl, grys haartjies onder haar kappie in en waarsku vir oulaas: “Gertjie, wees tog versigtig mit die groot ding, my kjint.” En so onder die stuur van groetnis vir Ma-hulle is ek eindelik daar weg.

Ek het haastig op die Massey Harris gespring en soos ’n graatjie kiertsrego­p op die groot ysterstoel gesit. Met die wegtrek het my oog vir oom Bertus en ant Leentjie gevang waar hulle voor die deur gestaan en my kopskudden­d agternagek­yk het. Gou was die Massey weer in hoogste rat; my opgewonden­heid het nou ’n lelike onderbreki­ng gehad met die uitvraery. Die agterbande het lekker groot sandboë gegooi en ek het my verlekker toe die suidewind die trekker se lang streep blou rook oor my kop waai. Te gou na my sin het ek ons huis genader.

Toe ek ’n entjie van die huis af by die kersboompi­e verbyry, skrik ek wakker uit my droomwêrel­d en besef met ’n skok dat ek mos die vat vergeet het! Dit was soos ’n hou tussen die oë, want ek het voor my siel geweet so ’n agterlosig­heid is by Pa onvergeefl­ik en onverskoon­baar. Skielik het al die lekker van die agtermidda­g soos water in dryfsand weggesyfer.

Ek het met ’n swaar gemoed die werf binnegery. Ek het regoor Pa-hulle gaan stilhou. Vrees het nou my opgewonden­heid verdryf en my binnekant was die ene bewerasie.

Nadat ek aan Pa verslag gedoen het, het hy en Oesman aangegaan met hulle werk. Ek wou eers gaan aflaai, maar toe skraap ek al my moed bymekaar en sê met ’n bewerige stem: “Pa, ek . . . ek het die vat vergeet.”

PATETIESE FIGUURTJIE

Dit was asof Pa ontplof. Hy het die hamer op die grond neergegooi en die skelwoorde op my laat reën. Die groot held van die Massey Harris was nou ’n patetiese figuurtjie voor Pa. Ek het roerloos gestaan en aanhoor hoe hy my van alle aansien van die middag stroop. Toe hy ’n slag asem skep, skree hy woedend: “Loop vat die kruiwa en gaan haal die bleddie vat!”

Verboueree­rd het ek begin stotter: “Pa . . . Pa, oom Bertus het gesê Pa moet tog nie sy boor breek nie.” Dit was petrol op die vuur. Hy het die boor op die kar gegryp en dit soos ’n wafferse hamergooie­r woer-woer die veld in geslinger. “Vat die dônnerse boor en sê vir ou Bertus hy moet dit in sy gat steek!”

Ek het stadig in beweging gekom, die boor gaan optel en met hangskouer­s huis toe geloop om die kruiwa te gaan haal. Toe ek die kruiwa nader stoot, sien ek hoe die kleintjies soos meerkatjie­s vir my loer en weer verdwyn en ek het die pyn gevoel van teleurstel­ling omdat Pa my nou so afgegradee­r het na die kruiwa as vervoermid­del. Met die boor op die kruiwa het ek met ’n stukkende hart windaf na oom Bertus toe geloop. Ek het op my tande gebyt om die lastige trane te keer.

Ek het die boor in oom Bertus se hande afgegee, sonder Pa se boodskap. Ant Leentjie wou weet hoekom ek weer hier is en dis al amper sononder. Toe sê ek met ’n stemmetjie wat deurslaan: “Ek het die vat vergeet.”

“Jimmels, Gertjie, sê vir jou pa dis g’n besigheid dat hy jou so laat in die koue suidewind so ver met ’n kruiwa stuur nie? As jy hom nie die boodskap gee nie, sal ant Leentjie self mit hom kom afreken . . .”

Ek het gelukkig besef dat ek ook dié boodskap liewer moet verswyg. Die vat het heen en weer op die kruiwa gerol en elke rolgeluid het my herinner aan die oomblikke toe ek daar voor Pa gestaan het. Was dit nie vir die oumense se uitvraery nie, het ek nie die vat vergeet nie.

Vuilskemer het ek die huis met ’n seer hart genader. Ek het ’n proesgelui­d gehoor en agter die kruiwa versteen. Maar toe sien ek vir ou Witjan, ons hond, en ek het geweet Sarel was terug van die vee af. Toe moes ek weer deeglik verslag doen oor alles. Só het ons huis toe gestap, ek voor met die kruiwa en hy agter, en die spot het nie uitgebly nie.

Die mense was besig om te eet toe ons by die kombuis instap. Pa het Sarel na die vee uitgevra, maar gemaak of ek nie bestaan nie. Ek het in die verste hoek van die kombuis gaan sit en gewens die ete was al verby.

Toe Pa “Amen” sê, is ons by die deur uit en toe ons by die kruiwa verbyloop, sê Sarel: “Jong, hier staan jou transport, hoe’s dit, wanneer start jy?”

Toe loop die trane.

Gert Sarrisam is Gert Engelbrech­t wat op die plaas Sarrisam buite Garies boer. Talle boeke en kontreisto­ries uit sy pen het al die lig gesien. Stuur e-pos aan sarrisam@telkomsa.net of skakel 027 581 1021 om ’n boek te bestel.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa