WAAR IS JAN BONSMA?
“Wat ’n besonderse dier,” skud my pa sy kop in ongeloof tydens ’n onlangse besoek aan ons in die Kaap van sy Oos-Kaapse plaas af.
Landbouweekblad lê op sy skoot. ’n Foto op die veilingsblaaie van Arthur de Villiers se top-Bonsmarabul op sy onlangse produksieveiling roer dié deurwinterde mede-Bonsmaraboer steeds diep.
Die bul is die indrukwekkende produk van jare se talentvolle toewyding deur een van Suid-Afrika se mees legendariese beestelers. Ondanks al sy talent rus hy egter steeds op die skouers van ’n ware reus, die geniale prof. Jan Bonsma, die vader van die ras.
Bonsma was ’n diep gelowige man, vir wie die Bonsmararas altyd meer as net ’n bees was. Dit was, in sy eie woorde, ’n uitbeelding van die waarhede wat hy in sy geloof gevind het. Dit is ’n dier wat die potensiaal van alles wat in ons land moontlik was, moes vergestalt. Wêreldberoemdheid het vir Bonsma gevolg, maar toe ’n Noord-Amerikaanse konsortium van beestelers hom ’n astronomiese aanbod maak om daar te kom werk, het hy nie vir ’n oomblik gehuiwer om dit van die hand te wys nie.
“My volk het my nodig,” was die eenvoudige verduideliking van ’n man wat vas geglo het dat ’n ieder en ’n elk se eerste plig in die lewe was om sy aansienlike skuld aan die samelewing te delg. Selfverryking was eenvoudig nooit ter sprake nie. Ondanks die hoogste eerbewyse het dié merkwaardige mens steeds gevoel hy moes heelwat aan die samelewing terugbetaal.
Ek wonder wat prof. Bonsma van Onderstepoort sou maak? Dié eens trotse, wêreldberoemde instelling kan vandag nie meer sy mees basiese funksie vervul nie, naamlik om boere van entstowwe te voorsien. Bloutong, hartwater, slapsiekte – die lys word ál langer.
Bonsma sou ’n plan gemaak het. Hy sou dadelik mense met die regte kundigheid aangestel het om die medisyne te maak. Hy sou afgetredenes uit hul strandhuise sleep, universiteite deursoek vir die beste jong talent, en beskikbare oorsese middele blitsvinnig registreer sodat boere weer hul diere kon inent. Hy sou tot private laboratoriums bystaan wat die middele kan produseer.
Hy sou beslis ook nie R2,8 miljoen op elk van die 1 678 sukkelende staatsplase geblaas het sonder ’n teenprestasie nie. Behalwe dat daardie boere ’n plig het om tot die ekonomie by te dra, sou hy geweet het die skamele 800 000 betalers van inkomstebelasting wie se geld dit meestal was, het bitter hard daarvoor gewerk.
Hy sou slapelose nagte gehad het oor die feit dat meer mense vandag staatstoelaes ontvang as wat daar belastingbetalers is. Dus sou hy veral versigtig gewees het aan wie hy daardie 4 000 plase, wat die staat nog nie aan swart boere toegewys het nie, sou gee. Hy sou diep bekommerd gewees het oor die toenemende bewyse dat die staat nie regtig al die grond gekoop het wat hulle gesê het hulle het nie, al is daar miljarde rande aan die grondaankope bestee. Hy sou ook deurgaans aan die populiste verduidelik dat enigiemand wat meen hulle grond is gesteel, gerus ’n grondeis kan instel.
Prof. Bonsma sou nooit gekla het nie. Hy sou nooit die skuld op iemand anders pak nie. Hy sou ’n plan gemaak het. Dít is wat jy doen as jy besef jy het ’n verpligting teenoor die samelewing, pleks daarvan dat die samelewing jóú iets skuld. Ons land het dié les bitter nodig. Maar waar is die Jan Bonsmas? — CHRIS BURGESS