Gesamentlike testament kan probleme skep
Jy hoef nie ’n gesamentlike testament op te stel net omdat jy binne gemeenskap van goedere getroud is nie. Enige twee mense kan so ’n testament opstel, selfs al is hulle nie getroud nie. Maar daar is slaggate.
Vandeesweek kyk ek na gesamentlike testamente. Om saam ’n testament op te stel is baie gewild, veral vir mense wat binne gemeenskap van goedere getroud is. Dit is egter nie tot hulle beperk nie. Enige twee mense kan saam ’n testament opstel, ongeag van die huweliksformaat. Selfs twee mense wat nie getroud is nie, kan dit doen.
Moet jy ’n gesamentlike testament opstel as jy binne gemeenskap van goedere getroud is? Nee. Elkeen kan sy/haar aandeel in die gemeenskaplike boedel bemaak soos hy/sy wil. Daar rus geen plig op enigeen om op ’n spesifieke manier te bemaak nie.
’n Gesamentlike testament is niks anders nie as twee testamente wat in een dokument saamgevat is. Dit is nie bindend op enigeen nie. Elke party kan, selfs sonder om die ander party daaroor in te lig, ’n eie nuwe testament opstel. As die gesamentlike testament tog die laaste, en dus geldende, testament van albei partye is, kan dit, na gelang van hoe dit opgestel is, in sekere gevalle net bindend wees op die boedel van die eerssterwende. Of dalk nie. Laat ek verduidelik.
SAMESMELTING
As julle saam ’n testament opstel waarin julle albei jul onderskeie bates op ’n sekere manier bemaak, soos sekere eiendom van albei aan kinders en die restant aan die langslewende, het die langslewende steeds ná die dood van die eerssterwende die keuse of hy of sy die testamentêre bepalings wil aanvaar of nie.
Dit is geen uitgemaakte saak dat uitvoering aan so ’n gesamentlike testament gegee sal kan word nie. As die oorlewende weier om die bepalings in die testament te aanvaar, om watter rede ook al, is die bemaking nietig en kan dit beteken die eerssterwende het gesterf asof hy of sy nie ’n testament gehad het nie. Dit sal meebring dat die oorlewende gade (as julle getroud was) ’n kindsdeel erf en die kinders elkeen ’n deel, en dan ook net vanuit die boedel van die eerssterwende.
Baie gesamentlike testamente, indien nie die meeste nie, is bedoel om die twee partye se boedels, hetsy ’n gemeenskaplike boedel of nie, te laat saamsmelt by die afsterwe van die eerste party en dat die hele saamgesmelte boedel dan op ’n manier bemaak word. Gewoonlik is daar voordele vir die langslewende daarin bepaal.
Net weer op my punt van vroeër, selfs waar julle ’n gesamentike testament opstel met die doel om jul boedels te laat saamsmelt vir verdeling, het die oorlewende steeds die reg om die bepalings in daardie testament te aanvaar of nie te aanvaar nie. As hy of sy dit weier, geld dieselfde reëls as hierbo ten opsigte van die boedel van die eerssterwende.
Wat boedelsamesmelting betref, moet in gedagte gehou word daar is ’n regsvermoede daarteen. Die reg aanvaar julle wou nie die boedels laat saamsmelt nie. Dit moet dus baie duidelik in die testament blyk – uit die woorde afgelei – dat dit die bedoeling is. Om te verwys na “ons” is nie genoeg nie en dit sal vertolk word as “my”. Sê liewer uitdruklik julle boedels sal saamsmelt by dood.
GEVOLGTREKKING
Dít kortliks wat betref die wat en die hoe van gesamentlike testamente. Ek het ook gewys op hoe dinge kan skeefloop, nie noodwendig net omdat die testament nie korrek opgestel is nie. Daar is egter ander gevolge ook, wat baie geld en verdriet kan kos en Jan Taks breed kan laat glimlag.
Ekself is nie ’n groot voorstaander van gesamentlike testamente nie. Dit is net te vol onsekerhede. Jou testament moet die gevolg wees van ’n sinvolle boedelplan en nie bloot ’n dokument waarin jy jou goed uitdeel nie, want dit is waar die probleme ontstaan.