VOËLGRIEP ’N TIKKENDE TYDBOM
Ek is ’n kleinskaalse skou-en-erfenispluimveeteler en boer op ’n plaas by Centurion. Ek woon nou ’n jaar hier en het van die begin af een groot probleem raakgesien: Hier is ’n muggieplaag wat op voëls en pluimvee teer.
Muggies leef gewoonlik by lopende water en teer op bioafbreekbare afval op rivieroewers. Wanneer die wyfies gereed is om eiers te lê, moet hulle bloed suig, soos muskiete. Hulle vlieg maklik tot 5 km ver op soek na ’n gasheer en kan op verskeie gashere teer voor hulle eiers lê. Muggies kan ook verskeie siektes onder mense, perde, beeste, skape, pluimvee en ander diere versprei.
Van Oktober tot middel Januarie is die plaag só erg dat ons kwalik ons voete by die deur kan uitsteek sonder om alle liggaamsopeninge te bedek. Dit lyk soos muggiesop! Selfs nou ná die ryp en koue kan ek nie die pluimvee uitlaat nie, aangesien swerms muggies op hulle toesak en hul bloed uitsuig. Dit het my en ander mense in die omgewing (waarvan sommige groot pluimveeboere is) reeds baie geld gekos aan behuising en siektebekamping en -voorkoming.
Die Jukskei-, Krokodil- en Hennopsrivier kom hier bymekaar en almal is bekend as erg besoedel. Amptenare van die Stad Tshwane het aan my gesê dat die riooltelling van die water in die duisende moet lees, maar tans in die miljoene is. Daar was ook verslae van dooie visse. Hierdie riviere vloei deur verskeie plakkerskampe voor hulle ons bereik. Die muggiegetalle het ontplof weens al die riool (waarop hulle lewe) en ’n gebrek aan natuurlike roofdiere (dooie visse).
As gevolg daarvan ervaar ons ’n toename in die verspreiding van veral pluimveesiektes.
Ek het met my eie oë gesien hoe hoenderpokke die afgelope jaar soos ’n veldbrand versprei het van die suide van Johannesburg tot die noorde van Pretoria. Die vorige jaar was dit Newcastlesiekte. Ons kan gelukkig teen dié siektes inent.
Indien een voël met voëlgriep egter naby ons rivierstelsel beland, gaan die muggies die siekte versprei – ’n katastrofe wat wag om te gebeur. Geen landbouversekeringsmaatskappy gaan jou teen dodelike siektes verseker nie. As voëlgriep langs hierdie waterweë beland, weet ek nie hoe mense gaan herstel nie.
Hierdie riviere vorm deel van ’n omvattende netwerk waterweë en beïnvloed nie net die hele Gauteng nie, maar ook ander provinsies. As die muggieprobleem reeds reg oor Gauteng voorkom, gaan dit versprei, indien dit nie reeds het nie. As trekvoëls in die somer uit Europa terugkeer met voëlgriep, is ons in die moeilikheid.
Die amptenare van die munisipaliteit het saamgestem dat hierdie situasie ’n probleem is en het watermonsters geneem. Ek vermoed nie veel meer kan of gaan tans gedoen word nie, gegewe beperkte begrotings en die feit dat die probleem oor verskeie munisipaliteite en verskeie provinsies heen strek.
Dit is waarom ek aan u skryf. Ek hoop dat u ’n mate van openbare bewustheid kan skep oor hierdie onderwerp. U kan die uitwerking wat muggies ’n paar jaar gelede op die Noord-Kaap se landboubedryf gehad het, gaan navors. Ek kan e-posse, die name van kontakpersone en navorsing wat ek reeds het, aanstuur.
Die punt is, die uitwerking van besoedeling op ons riviere en die landbou kan teen die einde van die volgende somer ’n keerpunt bereik. Deur die inligting te versprei en dit openbaar te maak, kan mense voorkomende stappe doen om hul diere te beskerm en op verskeie vlakke druk op die Regering plaas. Dalk kan ons verliese voorkom of dit ten minste in ’n mate beperk.
Anders moet ons maar net duim vashou, ons geluk beproef en op die beste hoop – soos Suid-Afrikaners maar doen. DR. CHARLOTTE NKUNA, senior amptenaar van die SuidAfrikaanse Pluimveevereniging, antwoord: Navorsing is oor die huisvlieg gedoen, wat bewys het dat hulle die voëlgriepvirus meganies, dit wil sê met onder meer hul bene en monddele, kan oordra. Geen literatuur bestaan oor muggies nie, maar ek neem aan dieselfde is by hulle moontlik.