ALLES NIÉ WEL MET HOË WILDPRYSE
Manie se rubriek “Wat laat lae wildpryse uitborrel” (LBW, 23 Junie 2017) het betrekking.
Ek stem saam dat ’n mens jou nie behoort te verbly in ander se teenspoed nie en jou nog minder “met bitterheid moet blind staar” teen die geld wat ander al gemaak het. Om egter te beweer dat alles wel is in die afgelope jaar of wat se astronomiese wildpryse net omdat daar “regte wild” en “regte mense met regte harte, met eggenote, kinders, vriende . . .” is, is darem te dik
vir ’n daalder.
Het Manie al ooit gehoor van dinge soos samespanning en opsetlike misleiding deur “regte mense”, of bestaan dit per definisie nie in sy siening van die “regte mense” in die wildbedryf nie?
Die astronomiese pryse wat in die afgelope jaar of twee vir sekere wildsoorte betaal is, is ekonomies onregverdigbaar en kom na my mening neer op ’n kunsmatige borrel met ’n slow puncture.
Soos met die kubusskema van Adriaan Nieuwoudt van Garies, is gierigheid waarskynlik ook die dryfveer in die wildborrel wat rasionaliteit van die tafel af vee. Die enigste verskil tussen die twee is dat die verwagte opbrengs met wild ’n jaar of twee duur om ’n werklikheid te word, teenoor die melkkultuur se enkele weke. Daarom die slow puncture-vergelyking.
Manie is reg met sy stelling dat diegene wat eerste geskep het, baie geld gemaak het, maar hy versuim om te meld dat diegene wat met groot oë en gierige verwagtinge later by die tafel sal aansit, waarskynlik slegs ’n leë pot sal vind.
Ek merk op dat daar tans reeds tienvoudig meer wildveilings van “topgene” aangebied word as ’n jaar of wat gelede en dat kopers al hoe minder geesdriftig is. Die enkele goudklont of twee wat nog gevind en met trompetgeskal deur die “grootkoppe” omhoog gehou word, hou moontlik steeds die verwagtinge van kitsrykdom lewend.
Uiteindelik sal dit egter alles as ’n baie duur droom vir die meeste van die laatkommers eindig.