Geldwassery – ’n alewige rondomtalie
DIT is alles maar net ’n gespeel vir tyd, sê ’n ingeligte vriend oor die hernieude geskarrel oor die Vrede-melkprojek. Intussen word die mense wat by die klaarblyklike geldwassery en selfverryking betrokke was, elders geskuif en verplaas sodat hulle nie verantwoordbaar gehou kan word as die bom uiteindelik bars nie, sê dié man.
Wat Manie die vraag laat vra: Hoe lank gaan die geskarrel dan nóg aanhou voordat onder die skuldiges ingeklim word? Is die jongste onthullings deur die ondersoekende joernaliste van amaBhungane oor hoe Vrystaatse belastingbetalers via hierdie projek gemelk is om daardie uitspattige Gupta-troue op Sun City te betaal, dan nie genoeg om die lont brand te steek nie?
Dit is darem vet bedrae uit die staatskas wat sedert 2012 in die holruggeryde naam van ontwikkeling in dié eksperiment gestort is. ’n Aanvanklike bedrag van R342 miljoen is in drie paaiemente oorbetaal, en intussen is nóg R180 miljoen gehoes. Met soveel geld behoort van enige ontwikkelingsprojek ’n dawerende sukses gemaak te word, sê dié wat weet.
Of die projek inderdaad ’n sukses is, kan nie duidelik vasgestel word nie, want selfs Roy Jankielsohn, leier van die opposisie in die provinsiale wetgewer, is by die hekke verjaag toe hy en ’n kollega in amptelike hoedanigheid wou gaan kyk – soos hul grondwetlike reg betaam.
Kan ’n mens premier Ace Magashule se gerusstelling aan die volk glo dat die projek “vibrant” en “productive” is? Wel, nou ja … Die dae is lankal verby dat Manie dié berugte institusionele hoofseun van die Vrystaat se uitlatings goedsmoeds as die waarheid aanvaar.
Wat staan in die pad as veronderstel sou word dat die projek net dalk volhoubaar gemaak kan word? Vrede is geskik vir melkproduksie, veral omdat daar geen mededingende kommersiële melkery naby die omstrede projek is nie, sê hy.
Die plaas se marginale lande het in onbruik verval. Voordat dié lande weer in bedryf gestel kan word, sal alle voer gekoop moet word. In dié proses kan smeergeld (kick-backs) weer ter sprake kom. Manie se vriend is juis bekommerd oor hoeveel smeergeld dalk reeds aan hierdie front van hande verwissel het. Manie se einste vriend sê dit lyk ongelukkig of die bestaande bestuur maar net met die omstuur van sulke geld besig bly. Om dié gedoente te bekyk, kry van bakboord na stuurboord vir hom nuwe betekenis.
Hardebaard-melkmanne verwys na ’n melkery as ’n tronk sonder deure. Vrede is klaar ’n beperkte melkproduksiegebied – sonder behoorlike ouditspore is die Vrede-produk ’n kontantvreter waaroor ’n mens aanhou wonder: Waar word deur wie vir wat gevat?
Daarby is die provinsiale departement van landbou onder fiskale druk. Tensy bewyse van vibrancy gelewer kan word, word die koeie uitgesuip omdat die kalwers nie behoorlik gekraal is nie, is die slotsom.
Manie hoor daar is darem so een flikkerende ligpuntjie in dié donker korrupsietonnel: Die jare lange gereelde betalings deur die departement aan die melkplaas is glo in Maart, die begin van die huidige boekjaar, beëindig. Hopelik is dit waar en finaal.
’N OUTYDSE TWEE DUIM, ASSEBLIEF
Pessimiste kon seker voorbodes van ’n droë somer sien toe boere in die Suid-Kaap verlede jaar een van die gemaklikste warm en droë oestye in ’n lang tyd beleef het. Tog het dit al dikwels in Januarie en Februarie genoeg gereën om die ondergrond diep nat te maak en onkruidbestryding voor opkoms te vergemaklik. Vanjaar was daar hier en daar ’n paar goeie buie vroegherfs, maar verder bly die reën weg.
’n Boer tussen Swellendam en Malgas sê die gesaaides is klein en die onkruid keil hulle op. Omdat hulle van oestyd af nog nie noemenswaardige reën gehad het nie, kon hulle nie onkruid bestry nie.
Nou is die graan te pieperig om dit te waag om onkruid te bespuit. “Almal sê ons gesaaides is twee maande agter, maar ons is reeds twee maande van ons gewone platsnytyd af.”
Te min reën en koue hou ook die weidings terug sodat hulle elke dag skape en beeste moet voer. “Selfs al kry ons nou reën, sal daar nie gou kos op die lande wees nie. 10 mm sal al ’n verskil maak, maar ons het eintlik ’n outydse twee duim nodig. Daar is potensiaal op die lande. Alles is baie laat, maar dit is nog nie ’n misoes nie.”
Intussen kry Manie sommer ’n knop in die keel as hy lees hoeveel boere onverpoos hul moue oprol en inspring om geld, voer en geld vir voer en vervoer in te samel en te karwei na desperate boere in die winterreëngebied. Dit is miskien so dat Suid-Afrika se boere soms moeilik kan wees, maar wanneer die nood druk, staan hulle behóórlik saam.
O WEE, OBP
Manie is al skoon vuisvoos van al die vertragings by Onderstepoort Biologiese Produkte. Hy sal ook graag die spannetjie by die OBP – wat so graag vir sy kollegas en parlementslede vertel dat dinge by hulle sommer klopdisselboom loop – in sy bakkie wil laai en uitry na Bertus Swanevelder se plaas tussen Vaalwater en Lephalale sodat hulle ’n slag die gevolge van hul gerompslomp met hul eie oë kan sien.
Bertus is al vanaf Februarie ’n bietjie vies vir Manie se kollegas by Landbouweekblad, want elke keer as hulle ’n artikel skryf wat sê daar is vordering met ’n hartwater-entstof, kry hy nuwe hoop dat sy veeboerdery nou makliker gaan raak, maar dan gebeur daar niks.
“Hartwater is ’n baie groot probleem hier by ons,” sê Bertus. “Tans blok ons maar al die kalwers elke twee weke. Dit verg ontsaglik baie tyd. En almal gaan so aan oor antibiotika, maar wat anders kan ons doen? Jy spuit eerder R10 000 se antibiotika as om R50 000 se vee te verloor.”
Manie se kollegas bel nou al weke lank rond om agter die eintlike storie te kom.
Met elke telefoonoproep kom nuwe stories oor onbeholpenheid, wanbestuur en geldmors na vore. Daar is selfs sprake dat die OBP se bestuur nou begin soek na die mense wat al hul vuil wasgoed op Landbouweekblad se platform vertoon.
Ten minste kan ons van een ding seker wees: Selfs ná die laaste wetenskaplike en projekbestuurder daar sy tassies gepak en geloop het (soos talle reeds gedoen het), sal die OBP se base stééds ontken dat daar fout is by dié organisasie.
MOEDER EN VADER VAN VELE
Die boer was so trots op sy ses kinders dat hy sy vrou aangespreek het “moeder van ses”. Sy het niks van die benaming gehou nie en het hom dikwels gevra om haar nie so te noem nie, maar hy was trots op sy kinders en boonop – soos boere maar is – koppig.
Eendag by ’n onthaal van die boerevereniging het die manne in ’n kring gestaan en gesels, terwyl die vroue daar naby hul stoele in ’n kring getrek het. Toe die boer dink dit raak tyd om te ry, roep hy na sy vrou: “Moeder van ses, kan ons maar ry?”
Sy antwoord toe: “Ek is nou daar, vader van vier.”