Moeilike keuses wag ná skok-kwotaverlaging
DIE sowat 200 boere in die Gamtoosvallei wat van water uit die Kougadam vir besproeiing afhanklik is, het onlangs gehoor dat hul kwota vir die 2017-’18 waterjaar met 60% ingekort gaan word. Dit volg ná die damvlak tot 18,6% gedaal het — dieselfde vlak as in 1991.
Die vlak het egter vroeg in 1992 tot net 9% gedaal, maar kort daarna begin styg toe oorvloedige reën in die opvanggebied uitgesak het. Van April tot Junie vanjaar is slegs 2 mm reën in die dam se opvanggebied aangeteken.
Mnr. Tertius Meyer, voorsitter van die Gamtoos-besproeiingsraad (GBR), sê kommer heers oor hoe die drastiese besnoeiing in die waterkwota groenteboere met langtermyn kontrakte met ketting winkelgroepe g aanraak.
“Hulle staan voor ’n keuse om hulle vol kwota in Julie en Augustus te gebruik in die hoop dat daar reën kom, of om dit drupsgewys oor die volgende 12 maande te versprei.”
HOËWAARDEGEWASSE
Mnr. Rudolf Rose van Patensie sê waar hy normaalweg verskeie gewasse op 350 hektaar verbou, sal hy dit in die lig van die beperking tot minder as 160 ha moet afskaal. “Ons sal maar op hoëwaardegewasse met ’n kleiner waterbehoefte klem lê.”
Sy buurman mnr. Jacques du Preez, wat hoofsaaklik patats, wortels, mielies en koring verbou, sê hy het reeds besluit om eerder geen mielies in die komende produksiejaar aan te plant nie, maar die water vir die ander gewasse te gebruik in die hoop op ’n redelike oes.
“As dit egter teen die einde van die seisoen nog nie goed gereën het nie, het ons geen plan B nie. Baie van ons 40 heeltydse werkers sal geraak word.”
Om enige watervermorsing te voorkom, word daar tans instandhoudingswerk aan die hoofkanaal tussen die Kouga- en die Loeriedam, wat oor 69 km strek, gedoen. Die sykanale, wat oor 45 km strek, sal ook van tyd tot tyd vir instandhoudingswerk afgesluit word.
INFRASTRUKTUUR
Volgens mnr. Pierre Joubert, hoofbestuurder van die GBR, is die waterverliese weens verdamping en lekkasies van 13% in 2008 tot slegs 7,5% vanjaar verminder. “Ons doen alles in ons vermoë om verliese tot die absolute minimum te beperk en bestee jaarliks sowat R23 miljoen aan die infrastruktuur, wat uit die 1970’s dateer.”
‘Ons sal maar op hoëwaardegewasse met ’n kleiner waterbehoefte klem lê.’