KAAPSE PROEWE WORD INTERNASIONAAL ERKEN
Twee Suid-Afrikaanse gewasnavorsers is nou lede van ’n globale netwerk vir langtermyneksperimente, en die waarde van die langtermynproewe wat die Wes-Kaapse departement van landbou bedryf, is op ’n internasionale werksessie oor langtermynproewe geloof.
Drr. Pieter Swanepoel van die Universiteit Stellenbosch en Johann Strauss van die Wes-Kaapse departement van landbou is genooi om aan ’n werksessie oor langtermynproewe op Rothamsted, die beroemde navorsingsplaas in Engeland, deel te neem. Kundiges van reg oor die wêreld, maar veral Afrika, die Verre-Ooste en Suid-Amerika, het dit meegemaak. Johann kon nie betyds ’n Britse visum kry nie, maar Pieter kon saampraat oor uitdagings met dataversameling, die bestuur van langtermynproewe en dataontleding. Hy sê die netwerk sal inligting uit langtermynproewe oor die wêreld bevorder sodat resultate vinniger gepubliseer kan word om sodoende ’n impak op boerderydoeltreffendheid te maak.
Kundiges het boonop tydens die werksessie in Rothamsted die proewe in die WesKaap vir die besonderse waarde daarvan uitgesonder. “Daar word beoog om samewerking met kundiges van Rothamsted te bevorder omdat die instansie reeds dekades se ondervinding het.”
Plaaslike proewe. Die Wes-Kaapse departement van landbou bestuur langtermynproewe van verskillende ouderdomme – die oudste daarvan 40 jaar – in die Swartland en Suid-Kaap. Hierdie proewe gaan hoofsaaklik oor die uitwerking van wisselbou en grondbewerking.
Een van die departement se bekendste proewe is die langtermyn-wisselbouproef op Langgewens buite Moorreesburg, waar be-
waringsboerderypraktyke geëvalueer word. Behandelinge sluit in kontantgewasstelsels en stelsels waarin kontantgewasse en weidingsgewasse in wisselbou met mekaar geplant word. Die proef is uniek vanweë die insluiting van vee – iets wat elders as ’n te groot bestuursuitdaging beskou word – en die hoeveelheid data wat jaarliks ingesamel word.
Ander belangrike proewe is die grondbewerkingsproewe wat dr. Johan Labuschagne in die Swartland en Suid-Kaap bestuur. Die bewerkingsproewe op Langgewens en Tygerhoek (buite Riviersonderend) is toegespits op grondversteuring binne verskillende wisselboustelsels en die daaropvolgende uitwerking op grondgesondheid en gewasreaksie. Volgens Labuschagne toon die navorsing dat die nadelige uitwerking van bewerking mettertyd ontwikkel en gebiedspesifiek is.
Rothamsted. Die Rothamsted-navorsingstasie in Engeland is een van die oudste navorsingsinstellings ter wêreld. Dit het sy oorsprong in 1843 en is bekend vir sy verskeie langtermyn-eksperimente. In 1843 is nege langtermyn-eksperimente begin, en in 1978 nog een. Party van dié eksperimente se behandelings is mettertyd aangepas soos probleme, onder meer grondversuring, kop uitgesteek het. Ten spyte van die aanpassings word agt van hierdie eksperimente vandag nog onderhou en is dit die oudste akkerboueksperimente ter wêreld.
Een van die bekendste langtermyn-eksperimente is Broadbalk, wat amptelik deur Guinness World Records aangewys is as die “Longest running scientific experiment” van alle soorte en rigtings, nie net die landbou nie. Die proef het 174 jaar gelede begin. Die doel daarvan is om die uitwerking van bemesting op gewasse te ondersoek.
Resultate toon dat, vir die spesifieke grondtipe en met goeie bestuur, dit moontlik is om koringopbrengs te verhoog met slegs mis en misstowwe, of ’n kombinasie van die twee. Data van die proef is ook gebruik om die Rothamsted-koolstofmodel te ontwikkel, sê Pieter.
“Die model word wêreldwyd deur meer as 1 600 wetenskaplikes van 96 lande gebruik om die koolstofdinamika in grond te voorspel. Eksperimente soos by Broadbalk is nodig om te verstaan hoe grondtipe, gewasproduksie, bestuur en klimaat die volhoubaarheid van landboustelsels beïnvloed.”
Nog ’n bekende eksperiment, die Park Grass-eksperiment, behels ’n ondersoek van verskillende misstowwe en kraalmis om weidingsopbrengs, spesifiek vir hooi, te bevorder. Omdat hierdie proef die oudste proef op permanente grasland ter wêreld is, is dit vandag vir ekoloë, omgewingskundiges en grondkundiges besonder belangrik, veral vir klimaatsveranderingstudies.
Plant- en grondmonsters van persele waarop monsters jaarliks sedert 1844 geneem word, word in Rothamsted se monster-argief bewaar. Die waarde daarvan is onskatbaar vir die wetenskap. Hierdie monsters is onder meer gebruik om dekades later uraan en plutonium-vlakke te ontleed en die eerste bewyse van die nadelige effek van die atmosferiese bomtoetse wat in 1952-’53 in die Nevadawoestyn uitgevoer was, op te lewer. Hierdie stowwe het dus selfs na Europa versprei.
Onlangse studies van die monsters, met die meer gevorderde tegnologie wat vandag beskikbaar is, het ook interessante resultate van die grondmikrobiese populasies en die uitwerking van toenemende koolstofdioksied in die atmosfeer opgelewer. –