Kondisietelling met kalftyd allerbelangrik
’n Goeie liggaamskondisietelling van 7 kom daarop neer dat koeie binne 30 dae ná kalftyd weer beset kan raak. Dit kan jou beesboerdery se winsgewendheid maak of breek.
Daar is baie goed in die lewe wat jy weet, maar nie toepas nie – of jy vergeet bloot tydelik daarvan. As die pôpô die waaier tref en jy alles oordink om ’n antwoord te kry, kan jy nie glo jy het nie die nodige aanpassings gemaak nie. Met onlangse dragtigheidsondersoeke het ek hard kennis gemaak met die waarheid wat ek ken én verkondig. Dit is dat liggaamskondisietelling met kalftyd ’n aanwyser is vir herbesetting. (Volgens die telling is 1 brandmaer en 9 spekvet.) Dit was die laaste keer dat die onlangse droogte sy tol geëis het.
As jy aanpassings maak deur druk op die stelsel te plaas om winsgewender te wees, is foute minder vergeeflik en is die prys wat jy betaal indien jy dinge “vergeet”, dikwels groter as voorheen. Maar soos nog ’n wysheid lui: Sonder pyn en opoffering kom jy nêrens nie . . .
ONTHOU DIÉ GRONDBEGINSEL
Daar was drie groepe diere waarby ons dragtigheid bepaal het.
Groep 1. Tydens die droogte is hierdie groep na Marquard verskuif, waar die weiding goed was. Dié groep het gekalf met ’n liggaamskondisietelling
van 6+ uit 9.
Groep 2. Dié groep was op ’n plaas wat sowat nege maande “leeg” was en het gekalf met ’n liggaamskondisietelling van sowat 5.
Groep 3. Dié groep het op ’n baie droë plaas geloop en gekalf met ’n liggaamskondisietelling van minder as 5. Ons het hulle eintlik met lek, hoendermis en geskenkte grasbale aan die lewe gehou.
Groep 1 se besettingskoers was 97%, groep 2 s’n 83% en groep 3 s’n 70%. Ek was bly toe die lig opgaan en ek ’n antwoord kon kry vir die groep met die swak besetting.
Dit was egter steeds ’n bitter pil om te sluk. Ek het besef as jou beladingstempo hoër is as die ou norm, gee jy minder lek, jy stel korter dektye in en skerp jou bestuur op om die laaste gevolge van die droogte te oorkom. ’n Mens kan egter nie bekostig om ’n grondliggende beginsel soos dié te vergeet nie.
BENUT DIE GELEENTHEID
Om my “verskonings” te regverdig het ek antwoorde in gerekende landboustudies gaan soek. Verder wou ek ook nie weer volgende jaar met dieselfde probleem sit nie. As jy niks uit sulke omstandighede leer nie, verbeur jy immers ’n geleentheid. Verder sal dit goed wees as dit lesers van dié rubriek kan help om minder skoolgeld te betaal.
As koeie dus met kalftyd skraal is, sal hul reproduksie daarvoor boet, wat natuurlik minder kalwers en laer winste in die volgende jaar tot gevolg het. Om reproduksie te optimaliseer, moet jy dus seker maak jou diere kalf met ’n liggaamskondisietelling van ten minste 5-6, met een kondisiepunt hoër vir eerstekalfkoeie.
’n Winsgewende manier om dit reg te kry, is om saam met die natuur te kalf sodat jou diere op groen gras die regte liggaamskondisietelling ná die winter bereik voor hulle kalf. As jy nie saam met die natuur kalf nie, moet jy dit kunsmatig bereik en sal dit jou baie geld kos om jou reproduksie te verseker.
Reproduktiewe prestasie is nou verbind met ’n dier se hoeveelheid energiereserwes. Die mees praktiese manier om die energiereserwes te bepaal, is om die verhouding liggaamsvet deur middel van die liggaamskondisietelling te bepaal.
Dit behoort gereeld deur die winter gedoen te word, maar veral voor die aanvang van die laaste trimester van dragtigheid en die eerste twee maande ná kalftyd. As jy dit vroegtydig weet om betyds aanpassings te maak, is dit maklik én goedkoop.
TUSSENKALFPERIODE
In 1982 het die wetenskaplike J.N. Wiltbank bepaal dat ’n volwasse koei omtrent 36 kg en eerstekalfkoeie sowat 68 kg gewig moet aansit om die liggaamskondisietelling-punt met 1 te verhoog. Dit was egter sonder inagneming van die dier se groter rantsoenbehoefte weens die vorderende dragtigheid.
’n Te lae liggaamskondisietelling met kalftyd het ook ander nadelige aspekte wat
reproduksie betref. Een daarvan is dat dit die post partum-interval verleng, wat die tydperk is van kalftyd tot normale oestrussiklusse en ovulasie. Om ’n 365 dag-kalfinterval te handhaaf, moet ’n dier 80 dae tot 85 dae ná kalftyd herbeset raak (sien TABEL 1 )
TABEL 2 wys dat die liggaamskondisietelling met kalftyd ’n groot invloed het op die persentasie diere wat herbeset raak in die volgende dektyd van 60-90 dae. Saam wys dié data dat maerder koeie langer vat om estrus te wys ná kalftyd, wat tot ’n langer tussenkalfperiode lei, wat veroorsaak dat koeie nie elke 12 maande ’n kalf kan lewer nie.
Voorts veroorsaak ’n langer post partum-interval weens ’n té lae liggaamskondisietelling ook dat minder koeie terugkeer na estrus tydens die dektyd, wat veroorsaak dat minder koeie beset raak.
Die data in die GRAFIEK , ’n samevatting van vier studies wat in Amerika gedoen is, wys duidelik dat liggaamskondisietelling met kalftyd ’n groot invloed het op die persentasie diere wat in die volgende dektyd herbeset raak. Dié en ander data bevestig dat koeie met ’n lae liggaamskondisietelling met kalftyd swakker repoduktiewe prestasie in die daaropvolgende dektyd lewer.
INVLOED OP KALFPRESTASIE
Nog ’n nadeel van ’n té lae liggaamskondisietelling met kalftyd is dat dit die kalf se prestasie beïnvloed. Koeie met ’n lae liggaamskondisietelling met kalftyd het swakker kalwers, wat vatbaarder is vir siektes.
Maerder koeie lewer ook minder kolostrum (biesmelk) van laer gehalte, asook minder melk tydens laktasie. Dié faktore het laer speengewigte tot gevolg.
Die kalwers van koeie wat later kalf, is ook jonger en derhalwe ligter. Dit is egter meer winsgewend.
Met al dié feite in gedagte kan ’n mens sien die finansiële impak is groot. Dus is die bestuur van liggaamskondisietelling met kalftyd uiters belangrik. Vir optimale reproduksie moet jou koeikudde kalf met ’n liggaamskondisietelling van minstens 5 uit 9, met eerstekalfkoeie 1 punt hoër. Dít kan óf verkry word deur saam met die natuur te boer óf ekstra byvoeding te gee.
Onthou laastens dat wins per hektaar te alle tye die oogmerk moet bly.
Gerrit van Zyl besit die Hanzyl-Bonsmarastoetery buite Dewetsdorp. Die stoetery het al verskeie pryse gewen. Gerrit skryf dié rubriek in sy persoonlike hoedanigheid.