79 JAAR SE SKOUTROTS
’n Egte silwertrofee waarvoor slegs mans ouer as 18 in aanmerking kom, is ná dekades steeds een van die gesogste skoutrofeë in Suid-Afrikaanse perdrygeledere.
In Oktober vanjaar sal die Monty Gadd-trofee sy 79ste bestaansjaar op die jaarlikse Cradock-landbouskou vier. Dit is hier waar Saalen Boerperde in ’n ope vyfgangklas mekaar die stryd aansê. Die skenking van die trofee in 1938 deur die “friends of Monty Gadd” was ’n eerbetoon en huldeblyk aan die legendariese Selby Montague Gadd (1869-1933).
Jaarliks word drie onafhanklike beoordelaars deur die skougenootskap en perdeorganiseerders genooi om die perde te beoordeel volgens die internasionaal erkende “high low system”.
Hierdie metode van beoordeling neem die gemiddelde mening van drie verskillende beoordelaars in ag, wat elk afsonderlik en onafhanklik moet beoordeel.
Een van die ongeskrewe reëls van die kragmeting is dat die wenner van die Monty Gadd-trofee homself goedgunstiglik aan die skou se vyfgang-grootkampioenskap, wat eers ná die Monty Gadd plaasvind, onttrek.
Andy van der Meulen van Queenstown, wat die trofee reeds vyf keer verower het, beskryf dit as een van die hoogtepunte van sy perdryloopbaan. Vir Andy lê daar ’n ryke geskiedenis gekoppel aan hierdie trofee. Sy oupa Bernard van der Meulen het reeds in 1957 die trofee op Constantia Blossom verower.
PIETER VAN DER MEULEN BLY ONGEËWENAAR
In hierdie arena staan daar egter een naam soos ’n paal bo water uit: Pieter van der Meulen, een van die beste ruiters wat Suid-Afrika nóg opgelewer het. Pieter, Andy se pa, het die Monty Gadd-trofee ’n merkwaardige 12 keer ingepalm. Die eerste keer in 1963, as 18-jarige seun, op die fenomenale Constantia Gitanjali, ’n perd wat aan sy pa, Bernard, behoort het en geteel is deur Fanie Fouché op Constantia naby Rouxville.
Die volgende twee jaar – tot in 1965 – was Pieter en Gitanjali onoorwonne in die Monty Gadd. Die legendariese Gitanjali is egter dood toe hy op 8-jarige ouderdom in ’n ysterpaal vasgehardloop het. In 1991 het Pieter van der Meulen sy laaste oorwinningsronde by die Monty Gadd op Spycatcher gedoen. Langer as 30 jaar was hy die koning van die ring, en sy rekord staan steeds ongeëwenaar.
Ezelle Marais, doyenne van die Oos-Kaapse perdegemeenskap, perdeteler, ruiter en groot ondersteuner van die Monty Gadd, het met haar vroeëre betrokkenheid van bykans 25 jaar by die Cradock-skou verduidelik dat dit die kombinasie van perd en ruiter is wat die trofee so gesog maak. Dieselfde perd wat een jaar wen, kan ’n volgende jaar met ’n ander ruiter verloor. Haar man, Johan, het in 1995 en 1996 die titel op Show Tune verower. Ander puik perd-en-ruiter-pare sluit in
Bert Weyer-Henderson op De Gaulle, Errol Walsh op The Red Baron en Francois van der Merwe op I’ll Take Champagne.
Claude Orpen van die vooraanstaande Saalperdstoetery Avoca het in 1916 die eerste Amerikaanse Saalperd ingevoer, die vyfganghings Myer’s Kentucky Star. Agttien maande later het die perd gevrek en is ’n tweede hings, Red Domino, ingevoer, wat ook twee jaar later gevrek het. Die invloed van hierdie twee perde, asook die Suid-Afrikaans geteelde vyfgangperd Fearnot, het gelei tot die ontstaan van hierdie stoetery.
Dit was juis Orpen se vriend Monty Gadd, op sy perd Orion, wat Fearnot geklop het. Claude se ontsteltenis was so groot dat hy summier vir Orion aangeskaf het, maar met groot ontnugtering besef het dat dit nie Orion was wat Fearnot geklop het nie, maar die bekwame rykuns van Monty Gadd.
VREEMDE BEHOUD VAN DIE TROFEE
In 1938 het mnr. en mev. Ted Trollip ’n perd gekoop by ’n arbeider wat ’n hek vir hulle oopgemaak het. Die perd, Sprinkaan, van wie die ruiter onbekend is, was die eerste wenner van die Monty Gadd-trofee op die Cradock-skou. Dié skou het reeds sy ontstaan in 1864 gehad en is die oudste landbouskou in Suid-Afrika. Port Elizabeth se skou was ouer, maar dit het intussen doodgeloop.
Die gevolg van die groot vloed in 1974 het die skou ses jaar lank gekniehalter. In hierdie tyd moes die skouterrein herstel word en die Monty Gadd is eers weer in 1980 hervat.
Abie Opperman, mede-eienaar van The New Look, die wenner in 1973, het gelukkig die dag voor die inhandiging van die trofeë die Monty Gadd-trofee by die huis vergeet. As hy dit onthou het, sou dit saam met die res van die skouterrein weggespoel het.
Die trofee word nou permanent in ’n bankkluis bewaar.
DIEP SPORE IN BOERDERYGEMEENSKAP
Selby Montague Gadd is in 1869 in Grahamstad gebore. Hy was ’n bekwame sportman wat in sy laaste skooljaar op St. Andrews College die victor ludorum opgeraap het. Hy het sy loopbaan begin as ’n klerk van Standard Bank se Johannesburg-tak.
’n Jaar later het Monty ’n geleentheid aangegryp as ’n leerder op die plaas Malangskraal in die distrik Bedford.
Ná ’n aantal jare was dit ook vir hom moontlik om ’n stukkie aarde in hierdie omgewing te bekom. In 1896 is hy met Mary Charity (Girlie) Edmeades van Oudtshoorn getroud. Volgens Debi Lilford, Monty se agterkleindogter, het Girlie se familie bande gehad met die volstruisbaronne van daardie tyd. Hierdie invloed sou merkbaar wees in die spogargitektuur van die plaashuis wat Monty later in die distrik Middelburg, OosKaap, laat oprig het. Die huis is deur sir Herbert Baker ontwerp. Dit was sy liefde vir die Karoo wat Monty gedruk het om die plaas in die distrik Bedford te verkoop en die 2 300 ha te bekom waarop Springfield, 25 km suid van Middelburg, geleë is.
Monty se belangstelling was nie net in perde nie. Hy het ook ’n verreikende bydrae tot die georganiseerde landbou gelewer ten opsigte van die teel en verbetering van die Swartkop-Persieskaap, wat in daardie stadium die gewildste vleisras was.
Van 1900 tot 1935 het die Regering maatreëls begin toepas om kruisrasse te teel. Die doel van die eksperimente was om ’n meer aanpasbare vleisskaap vir Suid-Afrika se uiteenlopende boerderytoestande te teel. Die uiteinde daarvan was die kruising van die Dorset Horn en die Persie, wat vandag danksy Stamboekbeheer die opreggeteelde Dorper is.
In 1924 is Monty aangestel as ’n lid van die Regering se eerste Droogtebeheerkomissie. Met sy betrokkenheid by die boerderygemeenskap was hy ’n stigterslid van die Midlands Farmers’ Association. Hy het ook vele boerderykongresse bygewoon en het getrou as vertoner of beoordelaar al die hoofskoue in die land besoek.
Monty se seun Selby, wat later die boerdery op Springfield oorgeneem het, vertel in sy notas dat sy pa ’n besonderse vermoë gehad het om die potensiaal van ’n baie jong dier te kon waarneem. Dit was dalk vir hom makliker vanweë sy besonderse liefde vir diere.
Monty het ’n Amerikaanse vriend gehad wat uitgawes van The American Saddle
Horse, ’n weeklikse publikasie met foto’s en beskrywings van perde wat te koop is, vir hom aangestuur het.
Een jong hings het Monty se aandag getrek. Sy ywerige pogings om die dier aan te skaf, het tot sy groot teleurstelling op niks uitgeloop nie. Dit sou later blyk dat die eienaar skielik gesterf het en die hele stoetery verkoop is. Die hings wat Monty so graag wou bekom, Easter Cloud, is later as die beste Amerikaanse Saalperd bekroon.
Maar Monty Gadd was veral ’n boer. Sy karakter was fyn besnaard en deurtrek met sy liefde vir diere, die Karoo en sy noue betrokkenheid by die boerderygemeenskap. Soveel so dat ’n gemeenskap hom jaarliks nog eer betoon wanneer gedugte perd-enruiter-pare hul name in die rekordboeke verewig en daardie gesogte silwertrofee omhoog hou.