Sitrus in ’n drukgang
Die sitrusbedryf is een van die Oos-Kaap se kroonjuwele. Met ’n jaarlikse inkomste van meer as R3,7 miljard in die drie belangrikste produksiegebiede, naamlik die Katrivier-, Sondagsrivier- en Gamtoosvallei, is dit een van die grootste werk- én welvaartsk
Sitrusboere se inkomste kan hierdie seisoen tot een derde minder wees as gewoonlik vanweë verskeie faktore waaroor boere geen beheer gehad het nie.
Mnr. Hannes de Waal, besturende direkteur van die Sondagsrivier-sitrusmaatskappy (SRCC), sê die seisoen het in sy bedieningsgebied op ’n droewige noot begin met die grootste vrugteval in meer as 80 jaar.
“Die bedrywighede in ons pakhuis is ernstig deur die vrugteval geraak, want nawels verteenwoordig een derde van die vrugte wat ons verpak. Skofte by die pakhuise is verminder en minder seisoenswerkers is in diens geneem.”
Die laaste aangetekende geval van vrugteval van dié omvang was in 1939 in die Katriviervallei in ’n boord Washington-nawels van ene mnr. Vincent Wagner.
WIND EN WEER
Mnr. Jakkie Stander van Sitrus Navorsing Internasionaal op Stellenbosch se hulp is ingeroep om die oorsaak van die vrugteval te bepaal. Dit blyk dat die probleem verlede jaar tydens die blomtyd ontstaan het toe abnormaal hoë temperature (40 °C), lae humiditeit (sowat 8%) en hoë windspoed (30 km/h) tydens die volblomstadium op 26 September ondervind is. Gevolglik het die vrugte vroeg afgespeen.
Stander het ook probeer bepaal of die vrugteval toegeskryf kan word aan boordpraktyke of die toediening van gifstowwe om swartvlek te bestry. Sy bevinding was egter dat vrugteval hoofsaaklik deur die klimaat veroorsaak is as ’n nadraai van die El Niño-verskynsel.
Die SRCC het boere aangeraai om soveel moontlik van die vrugte wat aangetas, maar nog aan die bome was, by die maatskappy se aanleg te versap. Waar vrugte wel by die pakhuis vir uitvoer gelewer is, is ’n verdere 5% as voorsorgmaatreël uitgehaal.
“Van ons kliënte is ontevrede omdat ons nie vanjaar al hul bestellings kon lewer nie. Weens die sterk mededinging op die wêreldmark vir die soort vrugte wat Suid-Afrika lewer, kon ons egter nie bekostig om die mark met vrugte van ’n swakker gehalte te befoeter en só markaandeel te verloor nie.”
De Waal sê die opbrengs uit die boorde van boere wat reeds vrugte by die SRCC se pakhuise gelewer het, is betekenisvol minder. Dit is vererger deur stormsterk wind tydens die vernietigende brande by Knysna en al langs die Tsitsikamma-kus tot aan die buitewyke van die Baai.
Die nawelseisoen sal vanjaar baie korter as verlede jaar wees omdat dit min gereën het en minder vrugte geoes is.
“Die uitvoervolume van sekere kultivars is tot 40% laer vergeleke met verlede jaar. Sitrusboere se inkomste kan gevolglik vanjaar met van 25% tot 33% krimp.”
SUURLEMOEN-TSOENAMI
Die oorvoorsiening van suurlemoene op die wêreldmark het die prys van ’n hoogtepunt van VSA$24 per kartonhouer (15 kg) verlede seisoen tot gemiddeld VSA$18 laat daal.
“Ons raai nuwe toetreders ten sterkste af om suurlemoene aan te plant. Lemon Fresh, wat opdrag gekry het om nuwe aanwendings vir suurlemoene te vind, het egter reeds sekere voorstelle gemaak wat tans geevalueer word,” sê De Waal.
Boere word vanweë die druk op die internasionale suurlemoenmark aangeraai om dit so lank moontlik aan die bome te hou voordat hulle dit by die pakhuise lewer.
“Hoewel die bedryf tans in ’n drukgang verkeer, is ons nie pessimisties nie. Boere glimlag nog en besef dit is eintlik ’n normale siklus wat enige landboubedryf die een of ander tyd tref,” sê De Waal.