Landbouweekblad

Gertjie Aggenbag van Hoedberg (Jou verhaal)

Oom Gertjie was ’n besondere karakter van die Namakwalan­d en met sy humoristie­se vertelling­s en kwinkslae het hy gesorg dat geen dag vervelig was nie.

- ‘Hy kon ’n storie botter smeer dat almal aan sy lippe hang – hulle wou niks misloop nie.’

Oom Gertjie was ’n boorling van die Kamiesberg­e en het op hul familiepla­as, Hoedberg, grootgewor­d. Hier het hy saam met sy broer, Hokkie, en suster, Sannie, gewoon. Hy was lank en skraal, met ’n dun speeknekki­e, maar seningtaai soos ’n doringboom­wortel. Toe hy oud word, was hy geplooi soos ’n suur kweper. “Hoe dan anders?” seg hy. “My ou vader was ’n groot man wat ’n wakis volgesit het en van ons 12 kjinners het nét ek sy vel geërf.”

HOOGTEPUNT VAN DIE JAAR

Oor geslagte heen is daar elke jaar op Hoedberg Geloftefee­s gehou. Langs die Swartdorin­grivier onder die koelte van die doringbome het almal jaarliks saamgetrek en is vir twee of drie dae fees gevier. Gertjie kon nie wag dat dit moet aanbreek nie.

Die oggend toe die eerste bakkie onder die bome stilhou, het hy sy kierie en veldstoelt­jie gevat en soontoe gestap. Hy het Amos en Dina Schreuder se bakkie herken en hul kinders was reeds besig om kamp op te slaan. Hy het gaan bladskud en Dina het vir hulle boeretroos uit die warmfles gegooi.

Terwyl hulle koffie gedrink het, het die bakkies en motors met ’n lang streep stof aangetou. Gou het die kamp lewe gekry, want dit was ’n gelag en gejil en die kindertjie­s het soos voëltjies gekwetter. Namiddag was dit boeresport.

LAMTYD AS DIT REËN

Eenkant het die ouer mans op hul veldstoelt­jies soos ’n klomp bye om ou Gertjie saamgekoek. Hy kon ’n storie botter smeer dat almal aan sy lippe hang – hulle wou niks mis nie. Later sê een: “Ou Gertjie, vertel ons die storie van die hond!”

Gertjie het tydsaam sy pyp gestop. “Jimmels, man, nou praat jy mos van ons vulletjied­ae toe ons nog kjinners was.” Hy kry ’n veraf uitdrukkin­g op sy verrimpeld­e bakkies. “Ons lot kjinners moes winterstyd om die beurt die lammerbokk­e oppas. Ons vader was ’n knorrige man en het nie rede verstaan as daar ’n bok weggelam het nie.

“Hierie bêrre-wêreld is onkantig en skurf en oral lyk dit soos toonstamp. Dit was ’n kwessie om hier vee op te pas, want hier’s hoë kranse en klofies en bok-se-kjint gaan lam gewoonlik waar jy hom nie kan kry nie.

“Darie môre toe ek die bokke los stoot, lê daar bo teen die berg al ’n verdwaalde miswolkie. Toe weet ek, as die noordewind hier onder in die laagte die bosse so kielie, sal dit later in die dag kom reën. My oorle’ vader het vir my ’n boksie mêtjies in my hand gestop en toe ’n knapsak vol orders gegee. ‘Jy moet skuil as dit kom reën en as daar baie bokke gelam het, maak jy vir ons ’n rokie, dan sal die ander kjinners vir jou kom help.’ Hy het na Rinkals gekyk. ‘Los vandag die hond hier, want sy lyf is al te grof.’ ”

Gertjie lag en trek ’n paar skywe. “Ek het nie eens geweet wat meen die oukêrel met ‘grof’ nie, want ek was nog ’n bog kjint. Ek was al ’n entjie van die huis af weg toe sien ek hier kom Rinkals aangehol en hy sleep ’n stuk riem wat hy afgekou het. Ek was so bly, want in die berg loop hoeka ’n hardegat bojaanmann­etjie vir wie ons skytbang was.

‘‘Ek het die môre die bokke losgeroer en hulle gestelstoo­t dat hulle nie te hoog moes klim nie, want die wind het ál sterker geword. Laters toe ek my sak oopmaak om ’n broodjie onder die hemp te sit, sien ek Rinkals grawe onder die taaibos en toe wonner ek, wat makeer die hond . . . hy soek dan nou vir hom ’n skaduwee en dis so vrek koud. Ek het gou vir my ’n vuurtjie aangeslaan, maar toe sien ek die voorbokke trek teen die wind en klim al hoër op. Ek los my sak en hol. Toe ek trugkom, toe lê Rinkals agter in die taaibos met 11 kleintjies.

‘‘Ek het die besigheid gestaan en bekyk en gewonder hoe moet ek nou maak? Die weer het begin uier maak en laters die middag het hy toegeslaan. In die reën het ek die bokke huis se kant toe gedruk solat ek die hond se kleintjies kan afdra. Ek vat eers net vyf kleintjies en sit hulle in my jas se pante en hardloop so sterk as ek kon af huis se kant toe, maar Rinkals sit my na. Toe ek hulle neersit, toe gryp Rinkals een in sy bek en hol trug nes toe. Toe ek by die taaibos kom, toe sit Rinkals die laaste hondjie neer.

Laters soek ek droë fyngoed en steek brand en maak sommer ’n paar vure solat hulle my nood moet sien. Toe die oukêrel uitkom en die baie rook sien, roep hy die ander kjinners. ‘Ek het geweet die bokke het net vir ’n onweersdag gewag. Vat julle almal riempies en gaan help vir Gertjie, want vandag het die bokke hom vas gelam.’”

EERSTE BAKKIE

Almal lag en Abram Kalf slaan op sy knie en sê: “Wat van daai eerste bakkie wat julle gekoop het.” Gertjie skud sy kop en mymer: “Dit was nou vir jou ’n affêre waar ek en Hokkie nóú uitgeraak het.

“Al die jare het ons met die perdekar gery, maar toe begin koop die mense mos mouters. Dis toe dat ek en broer Hokkie besluit om ons geldjies bymekaar te gooi om vir ons ook ’n bakkie by ou Petrie Malherbe te gaan koop. Man, toe ons die môre by ou Petrie kom, toe staan daar ’n gawe tweedehand­se bakkie.

‘‘Ons het ’n paar maal om die bakkie geloop en hom van alle kante bekjyk, want ons weet mos niks van ’n mouter af nie. Jy kan hom mos nie soos ’n perd in sy bek kjyk hoe oud lat hy is nie, jy moet maar glo wat ou Petrie vir jou van hom vertel. Laters van tyd het ou Petrie agter die wiel ingeklim en ons gewys hoe die klats, brieke en gears werk. Dán het hy hom in second, dán weer in top, dán traai hy reverse,terwyl ek en Hokkie ons

net verwonner aan die gawe rondekop-kierie waarmee hy die gears werk. Ek dink in my enigheid . . . hy sil darem ’n wederstrew­ige bok gou maniere leer.

‘‘Dis toe lat ou Petrie my agter die wiel sit en sê dat ons ’n entjie moet ry. Ek het skoon die bewerasie toe ek die sleutel draai, want die gears moet mos in en ek kan nie onthou watter een eerste kom nie. Dit krap en dreun, maar eindelik trek ons met ’n moerse ruk weg lat Hokkie se kop agter teen die ruit klap, maar gelukkig het ou Petrie die handbrieke gevang, anners het ek in die petrolpomp vasgeneuk. Ou Petrie het net sy kop geskud. ‘Ek sal reël dat Billie die bakkie vir julle wegbring. Ek sit ook vir julle ’n blokkie onder die petrol sodat julle die eerste tyd, solank julle leer bestuur, stadig kan ry.’

‘‘Nadat ons boekgewerk het, is ons laat agtermidda­g met die groen Chev van Garies af huis toe. Ou Billie Malherbe het met sy wit overall agter die wiel ingeklim. Agter ons het ou Attie Meelmuis aangekom wat weer vir ou Billie moes trugvat Garies toe. Ou Billie het goor geruik, want hy het eers by ou Mias Nel se hotel ’n versterkin­kie gaan vat. Hy was ’n beneukte man wat heelpad vir ons georder het hoe ons moet maak. Toe ons op die werf stilhou, sê ou Billie: ‘Toe, nou moet een van julle inklim dat ek sien of julle sal regkom.’ ’’

“‘Ons kan mos môre op ons eie leer,’ was Hokkie se beswaar. ‘Nee,’ sê ou Billie bars, ‘Petrie het georder dat ek julle eers touwys moet maak.’ Hokkie het vir my vorentoe gedruk. ‘Broer, vat jy die wiel. Jy het mos darem al op Garies getraai .’”

Hy steek weer sy dooie pyp op. “Kêrels, toe bewe ek asof ’n gifding my gebyt het, want ou Billie is nou nie so saf soos ou Petrie nie . . . hy sil jou sommer moer as jy foute maak. Terwyl ek inklim, sê ek vir Hokkie: ‘Gooi ’n klip agter die wiel as hy wil trug loop.’ Verboueree­rd trap ek die petrol vas, terwyl ek die sleutel draai. Die groen bakkie spring vorentoe soos ’n steeks perd, want hy was nog in gear. My oë vang ou Billie se rooi gevreet en sy uitpeulöe gluur my aan. ‘Trap in die donnerse klats!’ skrou hy. Souerig trek ek ruk-ruk weg lat Sannie se hoenders uit die pad moet spring. Ná ’n entjie kapittel ou Billie my weer: ‘Jy moenie die stuurwiel heen-en-weer pluk nie . . . dis verdomp nie leisels nie.’

‘‘Die volgende môre het ek en Hokkie met die groen bakkie begin oefen en ewe suutjies al om die huis gery. Ná ’n paar weke het ons so astrant geraak lat ons gladsemaal die pad gevat het en op Kiewiet-se-hoog gaan omdraai het. Dán is Hokkie agter die stuur en dán is ek weer agter die wiel. Ons het later vir suster Sannie ook saamgenooi, maar sy het net haar kop geskud. ‘Ry julle maar . . . ek het my lewe te lief.’

‘‘So besluit ons op ’n dag ons is nou bekwaam genoeg om dorp toe te ry. Ons het die môre ons beste kleertjies aangetrek, maar Sannie was ongerus, want die nag het dit ’n bietjie gereën.

‘‘Ek het laters agter die stuurwiel ingeklim, want Hokkie was die môre soos ’n biesgat skaaplam . . . hy bly agter en kom nie lat ons kan beginne nie. Toe ons by Kiewiet-se-hoog oorry, toe kry ons gladsemaal waterlopie­s.

“Op Trappiesbe­rg het Hokkie my aangestamp. ‘Kyk, hierlangs het dit sterker gereën. Broer, met die afgaan moet jy tog assemblief die leisels kort hou lat hier tog nie ’n fout kom nie.’ Ons klim later vir Groothoog en ek voel hoe die groen bakkie se keel toetrek, want die agterwiele swik elkers as hulle op die gladde plekkies gly. Ek kry later die ritteltit, maar ek klou die stuurwiel so styf vas lat my kneukels spierwit is. ‘Ons moes vemôre vir Sannie geluister het,’ verwyt Hokkie my.

‘‘Op Groothoog hou ons stil en ek sien hoe Hokkie bewe. ‘Moet ons nie maar omdraai nie?’ vra hy met ’n bewestem. Ek sal liewer bidde, maar omdraai sil ek wragtag nie, sê ek ewe astrant. Ek het stadig weggetrek, maar toe ons Langhoogte af, toe skop Hokkie langs my brieke lat sy skoene omkrul. ‘Broer, stadig tog en moenie lat hy die stang vasbyt nie,’ pleit hy. Dis sy eie gewig wat hom so stoot, maak ek beswaar. ‘Ons moes liewer daar bo gebidde het, want ek voel hier kom vemôre wragtag ’n fout,’ kerm Hokkie weer.

‘‘Sy woorde was nog nie koud nie, toe voel ek hoe ons begin gly. Hokkie trek sy asem in en ek hoor hoe my pypsteeltj­ie tussen my tanne kraak. Ek keer hom gelukkig voor hy die wal kon af, maar toe kom sy gat verby. My planne raak op en van skrik trap ek die brieke. Hokkie roep benoud Boontoe en ek klou aan die stuurwiel vas, maar hy rol om en om lat hy soos ’n skilpad op sy rug gaan lê. Ons kruip uit, maar ons is die ene modder. Die een agterwiel draai nog en ons staan daar en bewe soos twee verkluimde hoeners. Hokkie probeer praat, maar hy’s so verboueree­rd dat sy bek bewe soos ’n krimpsiek boklam s’n.

‘‘My hart klop in my keel en ek spoe die stink pypolie uit my bek. Toe my tong laters losraak, sê ek vir Hokkie: ‘Ai, broer, nou het ek ons bakkie opgesmês, maar kyk hoe lekker lê hy nou vir ghries!’ ”

 ?? FOTO: AMELIA GENIS ??
FOTO: AMELIA GENIS

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa