Hoe toekomsfiks is ons jeug?
Elke brein is ’n dinkfabriek en unieke handelsmerk wat ontwikkel kan word om die struikelblokke van die modern arbeidswêreld te oorkom.
Veranderings wat deesdae op alle gebiede plaasvind, maak dit moeilik om by te hou. Baie boere gee moed op. Tog is krisisse dikwels die sneller vir nuwe uitvindsels omdat elke probleemarea ’n nuwe geleentheid bied. Kortom, teenspoed lei tot voorspoed, meen dr. Marelie van Vuren van Value-Added-Teaching op Delmas.
“Boere behoort veranderings as geleenthede te sien pleks daarvan om daarvoor bang te wees,” sê sy. “Maar daarvoor is sekere eienskappe – wat aangeleer kan word – nodig. As jy ’n onbekende situasie wil verstaan, moet jy weet hoe om na leidrade te soek wat vir jou idees kan gee. Gedwonge denke vir oorlewing lei tot vernuwing en vooruitgang en waarborg die herskepping van die oue.’’
Een van die struikelbokke vir opvoeders om ’n nuwe geslag fiks te maak vir die toekoms, is die vermoë om te dink en te vernuwe. Sodoende kan hulle voldoen aan die vereistes van die snel veranderende arbeidsmark.
Marelie meen opleiding in beter denkvaardighede is die oplossing daarvoor. Dit kan ook die landbou red. “Sodra meer toekomsgerigte opleiding in, byvoorbeeld, landbouwetenskappe plaasvind, sal die boerderyberoep weer aantreklik raak vir jong mense wat sal sien hoe opwindend en vol kanse die moderne landbou kan wees,” sê sy.
Ongelukkig is die opleiding vir jong boere ook nie meer altyd op standaard nie. Daarom loon dit jong mans dikwels om by boere in Amerika of Australië te gaan kers opsteek oor die nuutste boerderymetodes.
Dié Eerstewêreld-beginsels help dat vernuwing wat tans in Suid-Afrika onderdruk word, wel ook hier posvat. So het ’n strategiese jong boer van Delmas begin met die intensiewe teel van Romanov-skape, ’n Russiese skaap met ’n lampersentasie van 250.
NUWE ONGELETTERDHEID
Sonder opleiding, tegnologiese vooruitgang en wetenskaplike navorsing sou boere steeds met die hand gesaai het en opbrengste sou op 1 ton/ha vasgesteek het. Die afgelope 30 jaar het mielie-opbrengste meer as verdriedubbel.
Biotegnologie word reeds op van mielies, koring, sojabone en kanola tot by geneties gemodifiseerde beet, papajas, botterskorsies, aartappels en eiervrugte gebruik.
Die nuwe ongeletterdes is mense wat nie kan vernuwe nie. “Die geskiedenis is vol voorbeelde waar veranderings teengestaan is, terwyl oplossings vir probleme voor die hand liggend is. ’n Eeu gelede is baie tyd en geld gemors om te voorkom dat perdemis meters hoog in Londen en New York se strate opdam, en dít terwyl die interne verbrandingsenjin reeds ’n werklikheid was. Was dit nie vir Ford nie, het die mensdom dalk nou nog gesukkel om vinniger perde te teel.”
Daar was selfs weerstand teen die ontwikkeling van die eenvoudige pen. Vroeg in die 1900’s was onderwysers bang dat die toenemende gebruik van ink sou meebring dat kinders verleer hoe om potlode met ’n sakmes skerp te maak. Dieselfde weerstand het teen rekenaars voorgekom.
Vandag is kunsmatige intelligensie die gonswoord. Tot duimafdrukke kan nou met behulp van biometrie nagemaak word. Iemand gaan weer venuwend moet dink en iets nuuts moet skep. Soms is dit redelik eenvoudig – soos toe ’n boer ’n waaier op die stropertafel sit sodat koringpitte nie op die grond val nie.
NIKS GEBEUR IN SILO’S
’n Groot vraag is of die jonger geslag goed genoeg toegerus is met kennis en weet hoe om dit te gebruik. Is hulle toekomsfiks en voorberei vir die toenemende eise aan boere?
In een van Marelie se projekte by die Hoërskool Delmas woon kinders maatskappye se boerderydae by, besoek wildveilings, chemiese maatskappye se navorsingslaboratoriums, ens. Ander vakdissiplines, soos ekonomiese beginsels, politiek en finansies, word tydens die besoeke geïntegreer.
“Alle vakdissiplines word geïntegreer omdat landbou-, lewens-, fisiese, ekonomiese, wiskundige, rekenkundige en politieke wetenskappe met mekaar verband hou en mekaar beïnvloed. Niks word meer in afsonderlike silo’s bedryf nie en oorsaak en gevolg (kousaliteit) word in kinders se koppe ingeprent,” sê Marelie.
Verder is vaardiger denke die mikpunt en probleemoplossing die voortdurende vraag. Goeie vrae dwing mense om dieper te dink en skep gewoonlik meer vrae. As dié metodiek meer in klaskamers en lesingsale, en selfs in ouerhuise toegepas word, sal dit vaardiger denke stimuleer om daaglikse probleme op te los.
So, hoe kan ons leerders toekomsfiks maak? “As ’n kind se talente van die eerste skooldag af ontgin word en sy lewenslange potensiaalontwikkeling begin, moet alle lewensafrigters (ouers, onderwysers én mentors) die kind se unieke handelsmerk bou.
“Waarde bepaal prys – of in die geval van mense, jou salaris. Kreatiewe en vernuwende denke is die nuwe geldeenheid in die 21ste eeu. Jy word mos betaal vir wat jy dóén met jou kennis,” sê Marelie.
“Inligting is deesdae maklik bekombaar, maar ons het dinkvermoë nodig om werklike waarde uit inligting te trek. Dus moet die klem in skole verskuif van die passiewe oordrag van kennis na begrip en die aktiewe herrangskikking van inligting. Die Britse filosoof en staatsman Francis Bacon het gesê kennis is net waardevol in die hande van mense wat goed kan nadink.
“Die jeug se toekomsfiksheid is regstreeks verwant aan die soort onderrig wat die arbeidsmark vereis. Menskapitaal is immers die belangrikste aspek in die arbeidswêreld. Alle inligting moet op die hoogste vlak geïnterpreteer en geïmplementeer kan word sodat die tegnologiese revolusie kan voortstu op sy pad van patente en nuwe uitvindings.”
Dr. Marelie van Vuren is ’n kognitiewe opvoeder wat denktegnieke by opvoedkundige instellings verbeter. Sy is ook betrokke by nanotegnologiese navorsing in die landboubedryf.