Landbouweekblad

DOEN SÓ JOU DEEL VIR DIERE

- Machadodor­p Brief verkort. – Red.

Mense wat die Dierebeske­rmingsvere­niging (DBV) kritiseer omdat die organisasi­e soms diere moet uitsit, het geen benul watter moeilike en hartseer werk daardie mense het nie. Wat dink julle moet hulle met al die diere doen wat by hulle weggegooi word? Hulle het net soveel hokke, en as die hokke vol is, moet die diere uitgesit word.

So baie honde word voor elke skoolvakan­sie by die DBV se deure afgegooi. Dit is daardie mense wat in jou troeteldie­r se hartseer ogies moet kyk terwyl hulle die doodsnaald toedien – nie jy wat hulle net weggegooi het omdat jy nie moeite wil doen met ’n oppasser nie.

Die DBV word ook gekritisee­r omdat hy so ’n streng aannemings­beleid het. Natuurlik gaan jy ’n gesterilis­eerde dier ontvang. Daar is te veel oulike babakatjie­s en -hondjies wat nie huise kry nie en uiteindeli­k op die DBV se uitsittafe­l beland.

As jy jou deel wil doen om katte en honde van verwaarlos­ing en uitsit te red, sterilisee­r jou eie diere.

As jy ’n verskil in ’n hond se lewe wil maak, praat met jou huishulp, tuinier, plaaswerke­r, kollega of skoolvrien­d. Sê vir hulle dat enige troeteldie­r drie basiese behoeftes het, naamlik kos, water en skuiling. Liefde is ook nodig, maar sterilisas­ie is noodsaakli­k. Meld verder enige vorm van wreedheid teenoor diere aan. As jy stilbly, is jy eintlik net so skuldig. Opvoeding is al wat gaan help.

So baie honde in Suid-Afrika se hele lewe bestaan uit spasie van een meter by een meter aan ’n swaar ketting met ’n draad om sy nek. Hulle is gelukkig as hulle nou en dan kos en water kry. Dit is ’n wrede en eensame lewe. CHRISTIA NEWBURY

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa