Landbouweekblad

KUDDEKOMPE­TISIE HERLEEF BY HEIDELBERG

- — AMELIA GENIS

WOLSKAAPBO­ERE van Heidelberg kan weer hul jongooikud­des teen dié van medeboere meet en wenke kry om dit te verbeter danksy die herlewing van die kuddekompe­tisie wat sedert verlede jaar weer ’n jaarlikse instelling is.

Mnr. Arno Steenkamp van die Tweekop-boerdery tussen Swellendam en Heidelberg, wat die leiding neem met die reël van die kompetisie, sê daar is groeiende belangstel­ling in kuddeverbe­tering. “Die Suid-Kaap en Overberg het ’n paar uitstekend­e graanjare gehad, maar die pendulum het nou geswaai en die waarde van die veefaktor kom na vore. Ons moet altyd na die hele prentjie kyk om te sien hoe vee in ons wisselbous­telsels pas.”

Hy sê die kompetisie gaan nie oor wie wen nie, maar oor hoeveel elke deelnemer kan leer oor hoe om byvoorbeel­d wollengte en -gehalte te verbeter.

’n Deelnemer kry ook die geleenthei­d om sy kudde teen dié van ander boere in sy omgewing te meet. Dit bied verder ’n goeie leerskool vir die groep geesdrifti­ge, jong boere in hul midde.

OOIKLUB

Uit vanjaar se kompetisie het daar ’n behoefte na vore gekom om meer moeite met ooikuddes te doen, sê hy. “Ons het die Heidelberg-ramklub, maar ons beoog om ’n ooiklub ook te stig. Ons wil dan die ooie deur die hele reproduksi­eproses beoordeel tot waar ons kan sien hoeveel lammers elke ooi per hektaar gespeen het en hoeveel kilogram vleis sy per hektaar gelewer het.”

Verlede jaar, toe hulle weer begin het om die kompetisie te hou, het hulle net die ooie genotipies beoordeel met die hand en oog. Vanjaar het hulle dieselfde formaat gevolg as die landbouver­eniging Napier wat vanjaar die 49ste keer sy evaluering gehou het. Dit beteken dat hulle benewens die dier se eienskappe en ekonomiese data ook drakrag, skoonopbre­ngs en wolprys in berekening bring om ’n kudde te beoordeel.

Die landboutoe­stande is tans ongunstig. Volgens Steenkamp is hulle besig om hul vee ten duurste te voer vanweë die droogte. Hulle het middel Julie weer 12 mm tot 22 mm reën gehad, maar dit is baie koud. “Die lusern begin darem al sodanig bot dat ons klein troppies skape in die lande kan jaag. As daar nou genoeg reën kom, kan ons van Augustus tot September goeie weiding hê.”

 ?? FOTO: AMELIA GENIS ?? Kuddekompe­tisies as ’n manier om jongooikud­des te verbeter en teen ander kuddes in boere se onmiddelli­ke omgewing te meet, neem in gewildheid toe. Dié foto is tydens die landbouver­eniging Napier se jongooikud­deevalueri­ng geneem.
FOTO: AMELIA GENIS Kuddekompe­tisies as ’n manier om jongooikud­des te verbeter en teen ander kuddes in boere se onmiddelli­ke omgewing te meet, neem in gewildheid toe. Dié foto is tydens die landbouver­eniging Napier se jongooikud­deevalueri­ng geneem.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa