TAKEL KOSKRISIS SE POLITIEKE DIMENSIE OOK
REEDS in 2007 het die invloedryke publikasie Economist die einde van goedkoop kos aangekondig. Prof. Ben Cousins van die instituut vir armoede-, grond- en landelike studies (Plaas) aan die Universiteit van Wes-Kaapland meen daar is ’n politieke dimensie aan die kwessies van duurder kos, wisselvallige kosgehalte en die omgewingskade wat met die huidige stelsel van kosproduksie, -verwerking en -verhandeling gepaardgaan.
Cousins het op ’n seminaar van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) oor die toekoms van kos ook teenstrydighede in die huidige stelsel uitgewys.
“Om oor te skakel na kos wat ekologies gesproke gesonder en voedsamer is, kan dit duurder maak, veral vir arm mense wat ’n groot proporsie van hul inkomste aan kos bestee.”
ALTERNATIEWE
Cousins stel vyf moontlike maniere voor om die koskrisis te takel.
Die eerste is om die hoofstroom-, markgedrewe stelsel te behou en dit aan kapitalisme oor te laat om die verbruikersvraag te probeer verander. In dié verband is die boodskap van die film Food Inc. ’n goeie voorbeeld, waar aktiviste verbruikers probeer oortuig om by supermarkte op kos van goeie gehalte aan te dring. Hy meen egter dit is naïef om korporasies se invloed op verbruikersvraag te ignoreer. Só ’n benadering sal waarskynlik ook nie byval vind by arm verbruikers nie.
’n Tweede reaksie is meer regulering, soos regeringsbeheer oor die produksie, verwerking en verkoop van kos deur wetgewing of belasting. Daarvan is die beoogde suikerbelasting ’n voorbeeld. Dis egter nie so eenvoudig nie omdat behoorlike openbare regulering funksionele staatsinstellings vereis. Eweneens kan sulke regulering deur magtige spelers in die kosbedryf gekaap word.
’n Veel radikaler alternatief, wat wêreldwyd ál meer aftrek kry, is ’n beweging na voedselsoewereiniteit en agro-ekologie, soos gedefinieer deur La Via Campesina, ’n internasionale beweging vir kleinboere. Volgens dié model het mense die reg op gesonde kos wat op ekologies aanvaarbare maniere geproduseer is, en gemeenskappe het die reg om hul eie kos- en boerderystelsels te definieer.
Die vraag met dié benadering is egter hoe ’n groot oorskot met min eksterne produksiemiddele en arbeidsintensiewe metodes behaal kan word tot voordeel van groot getalle mense wat nie kos voorsien nie. Nog ’n vraag is hoe oorskotte, gelewer deur mense wat hul outonomie hoog op prys stel, by nie-boere gaan uitkom.
’n Vierde alternatief is ’n benadering met voedselregverdigheid as uitgangspunt. “Dit sluit in aktivisme teen ongelykheid, onregverdigheid, onderdrukking en verwringing en veg vir beter openbare beheer,” sê Cousins.
Dit impliseer strukturele hervorming van bestaande stelsels. “Al klink dit vaag en onbevredigend, is dit dalk die beste wat ons kan doen. “Navorsers en nie-regeringsorganisasies doen tans navorsing oor politieke en maatskaplike prosesse in landelike gebiede en alternatiewe onder die wêreldwye inisiatief vir bevryding van landelike armoede (ERPI).
Vyfdens het Cousins gevra of daar ’n alternatief tot kapitalisme is. “Daar is. Ons het dit sosialisme genoem, maar wat beteken dit in die huidige sameloop van omstandighede?”
‘Om oor te skakel na kos wat ekologies gesproke gesonder en voedsamer is, kan dit duurder maak.’