HERVORM WAT BO-OP ÉN BINNE DIE GROND GEBEUR
Die gesondheid van grond behoort dieselfde gewig te dra wanneer dit kom by besprekings oor grondhervorming en voedselsekerheid, skryf INGE KOTZE.
OP DIE afgelope Nampo-Oesdag by Bothaville in die Vrystaat het mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, erken in die konteks van grondhervorming bestaan daar ’n behoefte om voedselsekerheid en optimum produksie in hoewaarde-landbougebiede te behou. Maar wat beteken dit nou eintlik?
Die landbou is in die eerste plek afhanklik van ’n beperkte natuurlike hulpbronbasis – en grond en water is die primêre boustene vir voedselproduksie. Tog, hoewel daar ’n sterk besef is dat voedselsekerheid ’n sentrale pilaar binne die konteks van grond- en waterhervorming moet wees, is gesonde grond as ’n kosbare hulpbron nie altyd boaan die lys nie.
Net soos water noodsaaklik is vir uitbreiding in marginale gebiede en ook ’n beperkende faktor vir groei en uitbreiding in ’n waterarm streek is, is gesonde, lewende grond en die omkeer van wydverspreide grondagteruitgang noodsaaklik as ons ’n groeiende bevolking wil voed.
Die waarheid is dat ons letterlik besig is om in ons planeet in te eet. Die helfte van die wêreld se bogrond het binne die afgelope 150 jaar weens moderne landboupraktyke verlore gegaan. In Suid-Afrika word slegs 3% van ons grondgebied as werklik vrugbare grond van hoë waarde beskou en slegs 10% van die grondgebied is geskik vir gewasverbouing.
In ’n veranderende klimaat, met die steeds toenemende voorkoms van droogtes en vloede, en ’n derde van Suid-Afrikaanse grondsoorte wat hoogs vatbaar vir wind- en watererosie is, is grondbeskerming die sleutel tot die verlaging van risiko’s en kwesbaarheid van die landbousektor.
Mededingende grondgebruike – hoofsaaklik mynbou – bedreig ook gebiede met ’n hoë landbouwaarde.
BETER PRODUKSIEPRAKTYKE
Die Wêreldnatuurfonds (WWF) haal dikwels die syfer aan dat 50% van alle beskikbare vars water van slegs 8% van Suid-Afrika se grondoppervlak kom, hoofsaaklik die bolope van die opvanggebiede met ’n hoë reënval, wat ook die tuiste is van sommige van die land se beste landbougebiede. Tog word hierdie gebiede erg deur mynbou bedreig. Mpumalanga is die tuiste van net meer as die helfte van Suid-Afrika se hoëwaardegrond. Op meer as die helfte van hierdie landboukundige gebiede is prospekteerregte vir mynbou.
Nasionale beplanning moet kompromieë oor hulpbronne in ag neem. Beleide oor grondhervorming en voedselsekerheid, en die toepassing van projekte wat hierdie beleide ondersteun, moet ’n sterk fokus insluit op beleggings in en die versterking van beter produksiepraktyke wat grondgesondheid en -vrugbaarheid bevorder en versterk.
Bykomend tot beleid sal die verskaffing van toegewyde voorligtingsdienste wat gesonde grond en die beskerming van bogrond aanmoedig, die grondslag vir die toekoms van die landbou wees, asook die enigste manier waarop Suid-Afrika sal kan voortgaan om sy bevolking te voed.
Suid-Afrika het reeds talle voorbeelde van gesonde boerderypraktyke wat grondgesondheid beskerm en verbeter. Die beweging na minimum- en geenbewerking en die benadering van bewaringslandbou in die graansektore is goeie voorbeelde.
Agro-ekologie van kleinboere, gediversifiseerde bewaringsboerdery en organiese en permakultuursektore hou ook waardevolle lesse in vir die bevordering van lewende, gesonde grond as die grondslag vir boerdery.
ALMAL MOET HERBESIN
Hierdie pogings moet die norm deur die hele sektor word.
Minimale grondversteuring, grondbedekking, wisselbou en die vestiging van ’n verskeidenheid gewasse is sleutelbeginsels om grond te bewaar en te verbeter. Boerderye wat dit toepas, moet ondersteun word deur ’n vernuwing van voorligtingsdienste. Hierdie is egter nie net ’n kwessie vir beleidsbespreking en die Regering nie. Elke landsburger het ’n rol om te speel.
Diegene wat in landbouwaardekettings werk, moet herbesin oor hoe hulle beter produksiepraktyke, gegrond op die behoud van gesonde grond, aanmoedig en ondersteun.
Die finansiële sektor moet verantwoordelike beleggings aanmoedig wat grondvriendelike landbouproduksie vergoed.
Kleinhandelaars en landbouprodukverwerkers moet doeltreffende vennootskappe bou om produsente in hul verskaffingskettings te ondersteun. Hulle kan ook belê in die verbetering van produksieprosesse en die monitering van grondgesondheid.
En laaste, maar nie die minste nie, moet verbruikers hul voedselkeuses deeglik opweeg en voedselvermorsing verminder.
Die Britse skrywer en omgewingsaktivis George Monbiot som dit dalk die beste op: “Ons behandel ons grond soos vullis, en dit is ’n fatale fout aangesien ons lewe daarvan afhang.”
Anders gestel: Ons ignoreer “grondherstel” tot ons eie nadeel.
Me. Inge Kotze is die senior bestuurder van WWF Suid-Afrika se projek vir volhoubare landbou.