SA wildbedryf by ’n kruispad
Die Departement van Landbou is besig om ’n wildsvleisskema af te handel wat wildboere sal help om wildsvleis wettig te bemark. Dít behoort die produksie van wildsvleis aansienlik te laat toeneem.
Jagters neem jaarliks 120 000 ton tot 150 000 ton wildsvleis huis toe vir hul eie gebruik. Dit is 20% van Suid-Afrika se rooi vleisproduksie, sê me. Adri Kitshoff- Botha, uitvoerende hoof van Wildbedryf SA (WRSA).
“Daar is dus reeds ’n buitengewone mark vir wildsvleis in Suid-Afrika, wat ons kan uitbrei met die nodige wetgewing, geriewe en die oordra van kundigheid oor die voorbereiding en gebruike van wildsvleis. Dié vleis is gesond, lekker, het hormoonvrye proteïene en is bekostigbaar. Daar is beslis ’n mark daarvoor.”
PERMITTE
Die bedryf moet van die jagveld tot op die etenstafel binne ’n regulatoriese stelsel werk.
“Die WRSA werk al langer as agt jaar saam met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye om die regulasies te finaliseer om dié gesonde proteïene op alle Suid-Afrikaners se tafel te plaas. Die regulasies is al ’n paar keer gepubliseer. Die WRSA en ander organisasies het kommentaar gelewer op van die spesifieke terminologie en definisies waarna in die regulasies verwys word, onder meer die voorwaardes vir en definisie van ’n abattoir,” sê Adri.
Mnr. Wiaan van der Linde het juis net voor sy uittrede as voorsitter van die WRSA op die organisasie se kongres op Polokwane gesê die huidige permitstelsel beperk groei in die wildsektor. ’n Onderskeid moet getref word tussen nasionale en provinsiale natuurreservate en kommersiële boerderye.
Vanweë natuurbewaring s wetgewing is dit dikwels omslagtig om vrylik met die dier, as kommoditeit, handel te dryf – lewend of dood. Elke provinsie het sy eie regulasies en dit is nie noodwendig in pas met mekaar nie.
“Die wildbedryf val wel onder die Departement van Omgewingsake en die WRSA speel ’n belangrike rol om insette en kommentaar op beleide en wetgewing te lewer om só na die wildboer se belange om te sien,” sê Adri.
REGISTRASIE
Verlede jaar is berig dat die Wild produsentevereniging( W PA) by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye aansoek gedoen het om twaalf wildspesies as landras-rasse te laat registreer. Die WPA is as registrateur vir hierdie spesies aangestel.
Dié spesies is: swartwildebees, blouduiker, blouwildebees, bontebok, gemsbok, rooibok, oorbietjie, rooihartebees, bastergemsbok, swartwitpens, springbok en tsessebe.
Die WRSA se raad het verlede jaar ’n taakspan aangestel om saam met die WPA te kyk na onder meer die voorgestelde uitkomste van die registrasie.
“Die bedryf wag nog dat die twee betrokke staatsdepartemente, naamlik Omgewingsake en Landbou, duidelikheid gee oor wat die gevolg daarvan op die bedryf kan wees en wat die mandate van die twee departemente rakende onder meer die besit, handel en jag van wild gaan wees,” sê Adri.
“In die groter prentjie van die wildbedryf moet ’n eenheid wees.
“Enige wildboer moet die geleentheid hê om binne ’n raamwerk van die wetgewing te werk wat daar is om wildboerdery te laat werk en nie beperkend
‘Die wildbedryf is geposisioneer om in van ons land se dringende behoeftes te voorsien.’
te wees nie. Daarom is dit vir ons belangrik om duidelikheid van die twee departemente oor die presiese mandate te kry.”
GELEENTHEDE
Die wildbedryf hou talle voordele vir alle Suid-Afrikaners in.
“Wildsvleis bied verskeie moontlikhede vir entrepreneurs, asook sakegeleenthede, soos verwerkingsgeriewe en die vervoer van vleis. Dit is ’n produk waarmee jy nie net die nasie kan voed nie, maar dit skep ook werkgeleenthede.”
Sodra die regulasies gereed is en die vleis van die jagmark af die nodige prosesse kan ondergaan soos in die wetgewing bepaal, sal Suid-Afrika ’n produk hê waardeur miljoene mense gevoed kan word.
Adri het steeds vertroue in die Suid-Afrikaanse wildbedryf, ondanks sommige van die ongunstige faktore.
“Die wildbedryf het ’n massiewe vergelykende voordeel en is uitstekend geposisioneer om in van Suid-Afrika se dringendste behoeftes, soos transformasie, voedselsekerheid en werkverskaffing, te voorsien. Die potensiaal binne die vier pilare van die wildbedryf is enorm en dit bied fantastiese geleenthede vir diversifikasie.
“Daar is uitstekende voorbeelde van suksesvolle wildboere wie se sakeplanne geskoei is op toerisme (soos jag), teling en handel s wild verwante produkte, wat onder meer wildsvleis insluit,” sê Adri. Die aantal wildveilings en die pryse wat die afgelope paar jaar behaal is, trek baie aandag. Dít is ondanks die feit dat lewende wild slegs een van verskeie afdelings in die wildbedryf is, wat onder meer ook jag, toerisme en handel in wildsprodukte insluit.
In die bedryf het dit gegons oor die sogenoemde wildborrel wat gebars het nadat laer pryse vanjaar op veilings vir bokke verdien is. Die pryse vir sekere diersoorte moet egter binne konteks gesien word, sê mnr. Lood Bester, uitvoerende hoof van Wildswinkel.
“Kleurvariante maak byvoorbeeld net 12% van die algehele mark uit en dít verander die prentjie. Dit is geen geheim dat kleurvariante van wildsoorte se pryse kwaai gedaal het nie. Die gemiddelde pryse van ander soorte, soos swartwitpense, is beslis ook laer. Die persentasie waarteen pryse verlangsaam het, wissel van soort tot soort.”
Me. Adri Kitshoff-Botha, uitvoerende hoof van Wildbedryf SA, sê dit beteken egter nie die bedryf is besig om agteruit te gaan nie.
“Heelwat wildsoorte se pryse het in die afgelope paar maande gedaal. Dit het wel ook weer begin stabiliseer en selfs toegeneem.”
Die daling in pryse kan toegeskryf word aan ’n sameloop van omstandighede, soos die droogte, boere wat weens politieke onsekerheid versigtig is om groot beleggings te maak, en die swak ekonomie, sê Adri.
“Dit is ’n feit dat daar altyd uitskietdiere met uitsonderlik hoë pryse sal wees. Maar die pryse is baie realistieser danksy vraag en aanbod wat toegeneem het. Daar is steeds verskille tussen veilings en gevalle waar ’n spesie op een veiling besonder goed sal presteer en op die volgende een weer minder goed.”
Verskillende produkte word op veilings aangebied. Veilings vir vlaktewild word gereeld gehou, asook groter veilings vir sogenoemde skaars wild.
“Skaars wild verwys egter nie noodwendig meer na die spesie as sodanig nie, maar eerder na ’n unieke dier binne die spesie, soos ’n koedoebul met enorme horings. Die klem het verskuif van ’n skaars spesie na individuele diere binne ’n spesie met uitsonderlike eienskappe en fantastiese genetiese eienskappe,” sê Adri.
VRAAG EN AANBOD
Lood sê as verlede jaar se Wildswinkel-veilings met die eerste ses veilings vir vanjaar vergelyk word, skets dit ’n bestendige prentjie.
“Wildswinkel-veilings het verlede jaar ’n totale omset van R1,19 miljard gehad. Van daardie bedrag het die verkoop van kleurvariante 12% verteenwoordig. As kleurvariante se pryse dus daal, beteken dit nie die wildbedryf is skielik in die moeilikheid nie; dit is net 12% van die groter mark.”
Uit die totale omset van verlede jaar is R590 miljoen vir buffels betaal, R200 miljoen vir swartwitpense en R70 miljoen vir bastergemsbokke. Die res is versprei tussen vlaktewildsoorte, van gemsbokke tot springbokke.
Adri sê vraag en aanbod bepaal die pryse.
“Sommige bokke het besonder hoë pryse op veilings behaal. Die getal spesies wat aanvanklik vir die lewende verkope geteel is, het dermate toegeneem dat daar nou jagwaardes vir daardie diere is.
“Omdat meer diere beskikbaar is, kan jy byvoorbeeld nou in Suid-Afrika ’n swartwitpens jag. Dit is iets wat jy so min as sewe jaar gelede nie mag gedoen het nie.”
Mnr. Riempies Victor van Vleissentraal sê verskeie wildboere moes weens die droogte baie geld aan voer bestee.
“Nou is hulle eers besig om kapitaal op te bou. Sodra hul posisies weer herstel is, voorsien ons dat die mark sal verbeter.”
Mnr. Ernst Janovsky, tot onlangs hoof van Absa-Agribesigheid se sentrum vir uitnemendheid, beaam dat die bedryf uiteindelik na realistiese pryse vir wild sal terugkeer.
“Kopers werk met ’n biltongjagprys in die agterkop en dit is hoe dit hoort. Wild word nou ’n boerdery, nes enige ander boerdery,” sê Ernst.
Mnr. Brandon Leer, afslaer op vanjaar se Kirkwood-wildveiling, meen hoewel die prys van baie wildsoorte die afgelope drie jaar gehalveer het, is die bedryf nog gesond.
“Diegene wat so vier jaar gelede voluit tot die wildbedryf toegetree en uitspattige pryse betaal het, het óf baie geld gemaak óf is nie meer in die bedryf nie. Dié met ’n geesdrif en liefde vir wildboerdery besef dit kos jare om ’n goeie opbrengs op hul belegging te verdien. Hulle is ook die mense wat die bedryf op ’n gesonde grondslag sal hou.”