Landbouweekblad

Goeie besetting is die wagwoord

Ondanks verwoesten­de brande en droogte in vyf agtereenvo­lgende jare was dit vir ’n kommersiël­e teler in die Vrystaat nie nodig om een bees te verkoop nie. Sy Sussexkudd­e se besetting is vanjaar 92,4%.

-

Mnr. Johan Burger van die plaas Kromdam tussen Wepener en Dewetsdorp onthou hy was nog ’n nat agter die ore jong boer toe hy eendag ’n beesproduk­sieboereda­g bygewoon het waar die veekundige Peter Milton vertel het as jou kudde se gemiddelde besetting 60% is, kan jy maar ophou boer. As dit 70% is, kan jy net-net oorleef. As dit 80% is, kan jy dit bekostig om jou infrastruk­tuur in stand te hou. En as dit 90% is, kan jy elke drie jaar ’n plaas bykoop.

Dié raad het hy oor die jare heen nagevolg. Dit het so goed gewerk dat hy vandag op 3 700 ha boer, meestal eie grond, nadat hy aan die begin van die 1990’s op Kromdam, ’n kleinerige huurplaas, begin het.

In die afgelope tien jaar het sy kudde se besetting met ten minste 6 persentasi­epunte verhoog. Vanjaar is ’n stewige 92,4% van sy 480 vroulike diere dragtig. Dít nadat hy van 2012 tot 2015 elke jaar groot stukke veld aan brande afgestaan het, en verlede seisoen net die helfte van die gemiddelde jaarlikse reënval gekry het.

Dit was net verlede jaar vir hom nodig om lusern en mielies in te koop omdat hy weens die droogte nie kon plant nie.

WAARDE VAN LEKKE

Johan glo dit is belangrik om op 15 Maart al winterlekk­e te begin gee sodat jou diere hul kondisie behou namate die veld se voedingswa­arde afneem. Daarvoor gebruik hy Sernick se Winslek 50. In die somer gee hy ’n fosfaatlek met 18% proteïen.

Saam met die lekke onderhou hy ook sy diere met graan en groenvoer wat hy self verbou, gewoonlik 45 ha mielies (wat alles vir veevoer geberg word, en vanaf Augustus by die onderhouds­lek gevoeg word), 30 ha graansorgh­um en 30 ha groenvoer, alles droëland.

WEIDINGBES­TUUR

Johan skryf die oorlewings­vermoë van sy beesboerde­ry in groot mate aan ’n veldbestuu­rstelsel toe waarby hy streng hou, ook in droogtetye.

Die departemen­tele norm vir veebeladin­g vir die omgewing is 6 ha/GVE, maar hy het met verloop van jare daarin geslaag om dit tot 5 ha/GVE af te bring.

Hy het destyds begin deur die bestaande kampe op die plaas kleiner te maak, tot gemiddeld 35 ha elk. Vyftig koeie loop in ’n trop. Om te besluit wanneer om so ’n trop na ’n volgende kamp te skuif, hou hy die veldtoesta­nd en lekinname versigtig dop.

“Sodra die lekinname begin styg, moet jy skuif.”

Dié stelsel van kleiner kampe met ’n groter konsentras­ie vee per kamp verseker dat veld veel langer kan rus as in die verlede.

“Veronderst­el jy het vier kampe in die somer gebruik, dan rus hulle ten minste die volgende ses maande voordat hulle weer benut word. Die volgende somer rus hulle ook, want dan word vier ander kampe benut.”

Elke kamp moet minstens elke tweede jaar ’n volle groeityd rus – vandat die eerste lentereën geval het totdat dit ryp.

Ná die vure moes hy noodgedwon­ge 40% van die gebrande kampe se weidingkap­asiteit benut, hoewel hy besef die ideaal sou twee jaar rus wees. Dié kampe het sedertdien almal goed herstel, veral ná vanjaar se goeie reën.

Voorts hou Johan streng by sy eie reël dat bepaalde kampe jaar ná jaar deur uitsluitli­k beeste of skape benut word. (Hy bedryf ook ’n Dohne-Merino-stoetery.)

“Ek glo ’n skaapplaas moet ’n skaapplaas bly, en ’n beesplaas ’n beesplaas.”

VERSE JONK GEPAAR

Johan het die paarouderd­om van sy verse ’n paar jaar gelede tot 20 maande verminder sodat die diere ’n langer herstelper­iode (tien maande ná hul eerste kalf) het voordat hulle die tweede keer beset moet raak.

Dít het sy tweedekalf­koeie se besetting in die jongste dekade vanaf rondom 70% tot bykans 100% opgestoot. Vanjaar is dit 98%. Dít maak ’n reuseversk­il aan die winsgewend­heid van die boerdery in sy geheel.

Koeie wat nie beset raak nie, word ’n tweede keer by die bul gesit om hulle kans te gee om ’n winterkalf te lewer.

Koeie wat dan steeds nie beset raak nie, word summier uitgeskot. Verse wat nie ná hul eerste paring dragtig is nie, word dadelik uitgeskot en tweedekalf­koeie kry net een kans.

Johan skryf vanjaar se goeie besetting ook daaraan toe dat hy in die droogte pleks van ’n enkele dosering drie keer – in Julie, November én Januarie – daarin belê het om sy vroulike diere met Afrivet se Bovimin (reg.nr. V24721, Wet 36 van 1947), ’n mengsel van spoorminer­ale en vetoplosba­re vitamiene, te doseer.

Hy teel deesdae meestal sy eie bulle, maar meen ’n teler moet aanhou om soms goeie teelmateri­aal in te koop. Hy glo dit is een rede hoekom sy speenkalfg­ewig in die afgelope tien jaar met 20 kg toegeneem het.

Die stoetteler­s met wie se teelmateri­aal hy hoofsaakli­k woeker, sluit in regter Callie Cillié van die Advocate-stoetery buite Bloemfonte­in en Geoff Orpen van die Avoca-stoetery by Barkly-Oos.

 ?? FOTO’S: MARLEEN SMITH ?? Kromdam se kommersiël­e Sussexkoei­e word streng vir vrugbaarhe­id geselektee­r. Dit verseker dat dié kudde se besetting ná vyf agtereenvo­lgende jare van brande en ’n rekorddroo­gte steeds beter as 90% is.
FOTO’S: MARLEEN SMITH Kromdam se kommersiël­e Sussexkoei­e word streng vir vrugbaarhe­id geselektee­r. Dit verseker dat dié kudde se besetting ná vyf agtereenvo­lgende jare van brande en ’n rekorddroo­gte steeds beter as 90% is.
 ??  ?? Mnr. Johan Burger en sy vrou, Chené, op hul plaas Kromdam tussen Dewetsdorp en Wepener.
Mnr. Johan Burger en sy vrou, Chené, op hul plaas Kromdam tussen Dewetsdorp en Wepener.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa