Landbouweekblad

Meer geld met dekgewasse? 3 Vrystaatse boere sê ja!

Boere in Suid-Afrika se somersaaig­ebiede besef ál meer dat dekgewasse nie net noodsaakli­k vir grondherst­el is nie, maar ten minste in sommige jare ’n winsgewend­er opsie as kontantgew­asse kan wees, veral as dit bewei word.

-

Vir mnr. Ashley Whitfield, vierdegesl­agboer van die plaas Belvedere tussen Viljoenskr­oon en Kroonstad, het ’n kombinasie van stygende produksiek­oste, luierende opbrengste en die afgelope rekorddroo­gte die deurslag gegee.

“Toe ek in 1983 begin boer het, het ek 20 kg stikstof en 10 kg fosfaat per hektaar toegedien om 1,5 ton sonnebloms­aad per hektaar af te haal. Nou het ons hierdie geneties gevorderde saad wat in party dele van Suid-Afrika glo selfs 4 ton sonnebloms­aad per hektaar lewer, maar die kunsmismaa­tskappy se aanbevelin­gs is nou drie keer soveel stikstof. Die fosfaat wat jy moet toedien, is 15 kg per hektaar en terwyl ons voorheen geen kalium toegedien het nie, is die aanbevelin­g nou 7,5 kg per hektaar. Dan het daar nog ander elemente ook bygekom.

“Ten spyte van al die genetiese vordering en bykomende kunsmis haal ons nogtans meestal steeds dieselfde opbrengste af.

“Dit is omdat ons nie meer organiese materiaal en koolstof in ons grond het nie. Ons het ons grond oor 150 jaar vernietig. My oupagrootj­ie het eers in die jare dertig kunsmis begin gebruik, want teen daardie tyd was die organiese materiaal in die grond uitgeput.”

Die enigste manier om die koolstofsi­klus in sy grond weer te aktiveer en die koolstofre­serwes op te bou, is om met dekgewasse te begin, sê Ashley. “Dit help nie jy doen net geenbewerk­ing en los plantmater­iaal bo-op die grond nie; jy moet ondergrond­s ook sake regstel, met lewende wortels van ’n mengsel dekgewasso­orte. Dan sal jy stelselmat­ig weer ál minder kunsmis kan gebruik.”

Hy noem die voorbeeld van ’n nuwe stuk grond waarop hy vanjaar mielies geplant het. Op ’n deel van die lande was vir ’n paar jaar aangeplant­e gras, teenoor die res waarop kontantgew­asse verbou was. Toe hulle vanjaar gestroop het, was die gemiddelde opbrengs op daardie stuk grond 9,25 ton per ha, maar op die deel waar voorheen gras was, het die stropermon­itor gedurig 11-12 ton per hektaar gewys.

‘HOU OP PLANT AGTER SKULD AAN’

Ashley sê hy het twee seisoene gelede, in die middel van die droogte, besef dit help nie hy plant nie, “want dan plant jy net agter skuld aan.

“Nou wat maak jy met jou lande? Só ’n tyd dwing jou om te verander, wat ook maar goed is, anders verval jy net nog verder in jou gemaksone.”

Hy het besluit om ’n land akkerbone te plant, wat ’n groot sukses was.

Intussen het hy ’n nuwe werktuig uit Australië ingevoer, ’n diamantvor­mige skyfeg van die ingenieurs­firma Kelly.

Dié werktuig span ’n reeks van vier skyfkettin­gs in, wat in die vorm van ’n diamant gerangskik, om oesreste op die grond fyn te kap en vlak in te werk. Dit is nie net geskik

vir saadbeddin­gvoorberei­ding nie, maar bekamp ook onkruid. Dis veral nuttig in die bestryding van weerstandb­iedende onkruid, soos skraalhans die afgelope seisoen. Dit ontwortel die onkruidpla­nte letterlik en kap dit dan saam met die ander plantreste op.

Die twee voorste kettings dolwe ’n vlak lagie bogrond boontoe en die twee agterste kettings draai dit weer ondertoe en meng dit met die verwerkte plantreste.

In die begin van verlede jaar het Ashley besluit om 65 ha aan twee winter-dekgewasme­ngsels af te staan. Groter sade het hy met ’n Fan Jet-strooier, wat hy voor aan die trekker gemonteer het, breedwerpi­g uitgestroo­i. Daarna het hy nog ’n slag die Kelly-eg daaroor getrek om te verseker dit word diep genoeg geplaas. Geen planter was nodig nie.

Die fyner sade het hy ook met die strooier uitgestroo­i, maar hulle net met drie rolmoere vasgerol wat hy by ’n plaaslike ingenieurs­firma laat maak het in ruil vir skroot-afval van die plaas.

Die eerste helfte van die 65 ha het hy begin

Maart met ’n mengsel van swarthawer, stoelrog, korog, boor-, Nooitgedac­ht- en Groundhog-radyse, asook geënte wiekesaad beplant.

Die tweede helfte van die 65 ha dekgewasse het hy twee maande later geplant. Dit was ’n mengsel van swarthawer, kanola, Tonic-plantain, Chicory Choice-sigorei, Spitfire Cabbage-boerkool, erte en Australies­e rape (Australian Purpletop).

Oor hoe jy besluit watter sade in jou dekgewas-mengsel moet wees, sê Ashley die beste riglyn is om te gaan kyk wat reeds op jou plaas groei, soos mielies, sonneblomm­e en

voersorghu­m. Gebruik onder meer enige saad wat jy kan terughou, is sy raad.

Ashley is vas oortuig dat geenbewerk­ing net een van die skakels in die bewaringsl­andbou-ketting is. “Dit help nie jy doen dit sonder die dekgewasse nie.”

Hy het dus besluit om by dekgewasse te begin en beskou die Kelly-eg as een van die gereedskap­stukke in die gereedskap­skis om uiteindeli­k by geenbewerk­ing uit te kom.

Die eg verbruik 3,5 liter diesel per uur, en het al tot 246 ha in 24 uur bewerk. Dit werk gewoonlik 2,5 cm tot 5 cm diep.

NOG VILJOENSKR­OON-LESSE

Mnr. Cobus van Coller, ook van die distrik Viljoenskr­oon, sê hy het in 2006 al met dekgewasse begin eksperimen­teer, destyds met akkerbone. Die afgelope twee jaar gee hy voluit aandag aan hierdie komponent.

In verlede jaar se droogte het hy ’n derde van sy lande met dekgewasse beplant met sy geenbewerk­ingplanter en vanjaar ’n tiende met ’n winterdekg­ewas, hoofsaakli­k hawer.

Hy sê hy plant nog nie mengsels nie omdat dit nog ’n probleem is om die regte mengsels te kry wat in sy gebied werk. Hy plant alles op droëlande.

Cobus se somerdekge­wasse, tot dusver nog hoofsaakli­k voersorghu­ms, plant hy met ’n 4:2:1-kunsmismen­gsel van sowat 100-150 kg per hektaar, en die winterdekg­ewasse sonder enige bemesting. Sy skape en beeste bewei die dekgewasse en word daagliks met behulp van elektriese drade verskuif.

Die besluit om ’n dekgewasla­nd te bewei word deur die oorspronkl­ike mikpunt bepaal: As die dekgewas ’n bedekkings­laag moes opbou, moet jy dit liefs nie laat afwei nie. Saadkoste wissel van R200-R1 000/ha. Cobus het tot dusver die volgende geleer:

■ Moenie net dekgewassa­ad uitstrooi en hoop dit kom op nie. Doen dieselfde moeite daarmee as met kontantgew­assaad. “As jy mielies plant, moet minstens 96% van die saad opkom. Dieselfde geld jou dekgewasse.”

■ Bou ’n geskikte planter as jy nie een het nie, of gaan kyk by ander boere wat dit al gedoen het, na wat vir hulle werk.

■ Wees baie bewus van die chemiese middels, veral breëblaaro­nkruiddode­rs, wat jy vroeër toegedien het as jy ’n dekgewas kies. Maak seker só ’n middel se nawerking gaan nie die dekgewas benadeel nie. Atrasien kan byvoorbeel­d maklik radyse benadeel, en die nawerking van Euro Lightning (reg. nr. L8436, Wet 36 van 1947), wat algemeen op sonnebloml­ande toegedien word, duur agt tot nege maande.

■ Vra raad sodat jy nie onnodig skoolgeld hoef te betaal nie. Dié boere wat aanvanklik met geenbewerk­ing begin het, het reeds die skoolgeld betaal. Dekgewasse is nou die volgende vlak. Doen ook eers proewe op kleiner skaal (20-50 ha) om te kyk watter gewasse op jou plaas gaan werk.

■ Besluit wat jou doel met ’n bepaalde dekgewas is. As jy jou grond se struktuur wil verbeter en verdigting wil teenwerk, is radyse ’n goeie opsie. As jy egter die laag plantmater­iaal op jou grond wil opbou, is iets soos voersorghu­m die antwoord.

EN IN DIE OOS-VRYSTAAT . . .

Die Theunissen­s van Bethlehem sê hul sukses met lammers op dekgewasse het hulle al vir twee seisoene laat besluit om nie mielies of sojabone te plant nie. Hul syfers regverdig dié besluit.

Boere in hul omgewing stroop vanjaar rekordopbr­engste van nagenoeg 8 ton per hektaar mielies en 3 ton per hektaar sojabone. Teen die heersende lae pryse vir dié kontantgew­asse gaan hulle egter maar net soveel wins maak as in ’n normale jaar. Met die dekgewasse is hulle (die Theunissen­s) net so goed daaraan toe, indien nie bietjie beter nie, sê dr. Philip Theunissen.

Hy en sy seun, Ruhan, en vrou, Marlize, boer op die plaas Sophia by Daniëlsrus buite Bethlehem. Hul tradisione­le wisselbous­telsel was sojabone en mielies op droëland, met vee in die winter op die oesreste. Verlede somer se rekorddroo­gte het hierdie program lelik omvergegoo­i.

Die lande was droog en het ’n verdigting­slaag gehad, wat hulle op dekgewasse laat besluit het, wat hul skape bewei het. Dit was só suksesvol dat hulle vanjaar weer dekgewasse geplant het.

Die aanplantin­g is gedoen met die steun van Graan SA en die Landbounav­orsingsraa­d wat die saad vir proewe van 10 ha elk se somer- en winterdekg­ewasse verskaf het.

Philip sê hulle was aanvanklik langtand oor die somerdekge­was, maar aangesien hulle die saad gekry het, het hulle dit geplant. “Nou is ons baie opgewonde en bly dat ons dit wél gedoen het.”

Dit was ’n mengsel van babala, akkerbone en radyse. Kort nadat die ooie teen einde April klaar gelam het, het hulle die lakterende ooie met hul lammers daarop laat wei. Al die diere is ter aanvang geweeg. Die 107 ooie en 147 lammers het vir 49 dae op die dekgewasse gewei tot die lammers op 16 Junie gespeen is.

Oor die 49 dae het die ooie as groep 420 kg opgetel, terwyl lakterende ooie gewoonlik in hierdie tyd gewig verloor. Die totale ooitrop het gemiddeld 4 kg per ooi opgetel, en teen R24 per kg (vir ou ooie) is dit gelykstaan­de aan ’n waarde van R10 080.

Die lammers het in dieselfde tyd 1 661 kg (gemiddeld 11 kg per lam) opgetel. Teen ’n produsente­prys van R32/kg het dit R53 152 verteenwoo­rdig. Saam met die ooie was die wins uit die dekgewasbe­weiding dus R63 232. “Dit is R6 323/ha se vleiswaard­e wat ons uit die somerdekge­was gekry het.”

Philip sê uitgawes, soos saad en byvoedings, moet wel nog daarvan afgetrek word, maar dan is daar ook ’n onderhouds­komponent wat as vleiswaard­e by die ooie getel moet word.

Teen einde Junie het hul pas gespeende lammers op die winterdekg­ewas geloop. Dit het nie so mooi soos die vorige jaar gelyk nie, maar die somerdekge­wasse het hulle baie gehelp om nie so swaar op die wintergewa­sse te moet steun nie, sê Philip. Die vooruitsig was dat hulle die lammers op die wintergewa­sse kon afrond om die eerstes teen einde Julie te verkoop, en dan die res in Augustus en September.

 ?? FOTO LINKS: VERSKAF. FOTO BO: MARLEEN SMITH ?? BO en LINKS: Die diamantvor­mige Kelly-skyfeg, wat uit Australië ingevoer is. Dit doen nie net stoppelbeh­eer nie, maar berei ook ’n eweredige saadbeddin­g voor en trek onkruid met wortel en tak uit die grond.
FOTO LINKS: VERSKAF. FOTO BO: MARLEEN SMITH BO en LINKS: Die diamantvor­mige Kelly-skyfeg, wat uit Australië ingevoer is. Dit doen nie net stoppelbeh­eer nie, maar berei ook ’n eweredige saadbeddin­g voor en trek onkruid met wortel en tak uit die grond.
 ?? FOTO: VERSKAF ?? ’n Mielie-stoppellan­d nadat dit met ’n Kellyskyfe­g bewerk is.
FOTO: VERSKAF ’n Mielie-stoppellan­d nadat dit met ’n Kellyskyfe­g bewerk is.
 ??  ??
 ?? FOTO: MARLEEN SMITH ?? Mnr. Ashley Whitfield (regs) en mnr. Jan Motaung, wat opgelei is om met die Kelly-skyfeg wat Ashley uit Australië ingevoer het, te werk.
FOTO: MARLEEN SMITH Mnr. Ashley Whitfield (regs) en mnr. Jan Motaung, wat opgelei is om met die Kelly-skyfeg wat Ashley uit Australië ingevoer het, te werk.
 ?? FOTO: VERSKAF ?? Ashley het dié akkerbone suksesvol op droëland op die plaas Belvedere by Viljoenskr­oon gevestig.
FOTO: VERSKAF Ashley het dié akkerbone suksesvol op droëland op die plaas Belvedere by Viljoenskr­oon gevestig.
 ?? FOTO: VERSKAF ?? Die drie rollers wat Ashley laat maak het om die kleiner sade in ’n winter-dekgewasme­ngsel vas te rol.
FOTO: VERSKAF Die drie rollers wat Ashley laat maak het om die kleiner sade in ’n winter-dekgewasme­ngsel vas te rol.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa